Op 1 November 2009 het Rapport ‘n hoofbrief van Adriaan J. Viljoen van Midrand geplaas waarin hy vra dat die Reitz-4 nou om verskoning moet vra, en waarin hy hulle misdadigers noem.
Ek vind dit onaanvaarbaar dar Rapport in hierdie sensitiewe tyd, of enigsins, so ‘n brief plaas sonder om die skrywer minstens reg te help.
Ten eerste het die Reitz-4 om verskoning gevra, en is dit reeds op 7 Maart 2008 in minstens twee van Rapport se susterkoerante, Beeld en Volksblad, gedra nadat SAPA die berig internasionaal gestuur, en die Times of Londen en ander oorsese koerante dit ook gedra het.. (Die berig van Volksblad en Beeld hieronder, gevolg deur verskeie ander Volksblad- en Beeldberigte wat op die kwessie inspeel).
Verder noem Viljoen die Reitz-4 misdadigers, en Rapport plaas dit.
Die Reitz-4 is nog nooit skuldig bevind nie, en die naaste wat hulle daaraan gekom het is implisiete “skuldigbevinding” juis uit hoofde van hul verskonings.
Die Suid-Afrikaanse reg, veral administratiewe reg, is geskoei op die beginsel van natuurlike geregtigheid, en uiteindelik moet die Reitz-4 se aanklaers bewys dat hulle die opset gehad het om ‘n misdryf te pleeg.
Die koor van aandrang op ‘n verskoning (wat reeds aangebied is) of dan ‘n meer eksplisiete verskoning, kan ongelukkig ook die Reitz-4 se reg op natuurlike geregtigheid benadeel.
Ek is nie ‘n oud-Reitzer nie, en daarom is ek nie by die prosesse of die agter-die-skerms-handelinge om ‘n skikking buite die hof te bewerkstellig nie, maar ek kan my indink dat die plasing van hierdie brief die proses tot versoening en die regsproses kan bemoeilik – dit terwyl Rapport tog behoort te geweet het van die beriggewing in sy susterkoerante.
Die brief volg boonop na die landdros in die saak ‘n spesifieke versoek aan die media en die politici gerig het om nie buite die regsproses op te tree nie, en gewaarsku is dat daar teen sodanige media en politici opgetree sal word.
Die hele kwessie van die mediavryheid, en die demokrasie en politici asook die media se rol daarin, word ten diepste in die Reitz-aangeleentheid gevoel, en daarom is dit baie nodig dat alle rolspelers verantwoordelik hiermee omgaan.
(Vgl ‘n tussentydse verslag hieroor by wat ek hieroor opgestel het).
Ek vertrou dat Rapport aan Suid-Afrika verskoning sal vra vir die wyse waarop Viljoen se brief ongekwalifiseerd geplaas is.
Mike van Rooyen (Beeld & Volksblad, 07 / 03 / 2008)
Mike van Rooyen Bloemfontein. – Twee van die studente wat betrokke was by die vervaardiging van die omstrede Kovsie-video wat wêreldwyd opslae gemaak het, het hul studies opgeskort. Mnre. R.C. Malherbe en Schalk van der Merwe, albei inwoners van Reitz-kamerwonings op die kampus van die Universiteit van die Vrystaat (UV), sê in ’n brief aan die rektor dat hul besluit grootliks in belang van die UV geneem is. Hulle was albei studente in hul finale jaar. Hulle spreek die vertroue uit dat hul besluit om hul studies te staak, sal bydra om die huidige toestand op die UV-kampus te laat bedaar “en dat die video inderdaad tog ’n bydrae sal lewer om kwelpunte met integrasie op die kampus en selfs elders op te los”. Indien hulle intern verhoor sou word, sou getuienis aangebied word wat net verdere negatiewe publisiteit vir die UV tot gevolg kan hê, lui die verklaring. As hulle vrygespreek word, sal dit waarskynlik aanleiding tot voortslepende geweld gee en onskuldige mense sal in gevaar gestel en benadeel word. Hulle bied desnieteenstaande verskoning aan teenoor alle betrokkenes wat direk, of indirek, geraak is deur die vertolking wat aan die video gekoppel is en die reaksie wat dít uitgelok het. Dit sluit ook die inwoners van Reitz-kamerwonings en die betrokke werkers in. Hulle wil dit beklemtoon en vra om die voordeel van die twyfel te kry, dat hulle hoegenaamd nie bedoel of voorsien het dat die video die gevolge sou hê wat nou blyk nie. Hulle het glad nie die oogmerk gehad, of dit voorsien nie, dat dit as vernederend vir die betrokkenes beskou sou word en gesien sou wees dat dit met rassistiese oogmerke gemaak is nie. “Ons het geen kwade gevoelens teenoor enige persone of instellings of bybedoelings met die maak van die video gehad nie en ook hoegenaamd nie die gevolge daarvan voorsien nie.” Malherbe en Van der Merwe was tot nou die kampus van die UV verbied.
Volksblad Vrydag 15 Augustus 2008 Bl.8 Hoofartikelblad Briewe Rubriek Jou Mening UV se bestuurspan moet bedank
Reitz-kamerwonings is gesluit en die feite om die video is lankal nie meer ter sprake nie. Die seuns wat ons die onguns bewys het, het verskoning aangebied – verskeie kere as ek reg onthou. En selfs ook uit hul eie hul studies gestaak en uit hul eie hul reeds betaalde geld aan die universiteit geskenk om “minder bevoorregte” studente te ondersteun. (Is my feite nog reg so ver, Frikkie?) In die hitte van die stryd was Blouwillem Theron se oproepe van die nugterste en mees gebalanseerde, maar daar was ook verskeie ander wat van hulle laat hoor het. Van die interessantste reaksies was van mense uit die universiteit se eie geledere. Die meeste was verdoemend ten opsigte van die universiteitsbestuur se hantering van die saak. Daar was ook die enkele: “Frederick, ek salueer jou . . .” of iets in dier voege. Die hele petalje bedroef my net soveel as wat dit my ontstel. Die video het waarskynlik maande in die hande van iemand (in die topbestuur?) gelê, terwyl hy gewag het vir die regte moment om dit te “gebruik”? Die staking en betoging op die Rooiplein was ooglopend suksesvol en dit het die nekhare van dese en gene laat rys. Wysheid en insig het saam met prof. Wynand Mouton en sy skerp intellek vertrek. Diegene wat die openbaarmaking van die video beplan het, het dit gedoen met die eng siening dat die studente daardeur gedissiplineer sal word. Weinig het hulle gedink dat dit sulke enorme reperkussies sou hê. Ja, goed, as die video in die eerste plek nie gemaak was nie, sou dit nie beskikbaar gewees het nie. Toe die bestuur egter hierdie video onder oë geneem het, moes hulle tog seker kon dink dat die eerste stap sou wees om daardie studente “in te roep” en om hulle uiters streng te dissiplineer. Nou het die einste bestuur van ’n interne aangeleentheid ’n internasionale debakel gemaak. Het hulle ooit verwag dat dit selfs uit buitelandse akademiese geledere sulke reaksie sou ontlok? Nie? Eina, my ente! En nou, wanneer die stryd op sy hewigste is, vertrek die leier vir ’n Sabbatsreis – of iets in dier voege! Goeie genugtig (by gebrek aan spasie vir ritse ander uitdrukkings), ek kan my nouliks ’n lamsakkiger optrede as dit indink. Ek sou sterk aanbeveel dat veral oud-Kovsies alle bydraes aan bv. die Kovsie Alumni-trust sal staak en om vroegtydig vir julle kinders plek te bespreek by ander varsities. Dit gaan daarom dat die bestuur moet erken dat hulle as individue en as span die UV as geheel in die steek gelaat het. Dit sou eerbaar wees indien hulle as bestuurspan bedank – soos die “vervaardigers” gedoen het.Paul
Volksblad Vrydag 8 Augustus 2008 Bl.10 Hoofartikelblad Briewe Rubriek Jou Mening Reitz: Geen vervolging ná R3 miljoen se skade?
Dit was seker te wagte dat berigte oor die vervolging van die vier studente van die nou oorlede Reitz-kamerwonings wat betrokke was by die “walgvideo” een of ander tyd sou verskyn. Dit slaan my egter stom dat daar besluit is om nié voort te gaan met aksies teen die studente wat ’n hofbevel teen oproerigheid op die kampus geminag het nie. Die rede: “Geen skade of beserings is in dié voorvalle aangerig of opgedoen nie.” Nét so is nou ook besluit om nié op te tree teen die tien studente wat in hegtenis geneem is ná die skade van (meer as) R3 miljoen nie. Van belang om te onthou is dat dié skade aangerig is voordat die video uitgelek is, want die studente het teen die universiteit se integrasiebeleid betoog. En die studente van Reitz was nié daarby betrokke nie. Dit gaan my verstand te bowe dat niemand vir die skade voor die hof gedaag gaan word nie, maar wel vier studente wat ’n video, mét die samewerking van die vier vroulike skoonmakers en ’n manlike werker, gemaak het. Gaan daar nou ook druk op die hof uitgeoefen word om die vier (blanke) studente tot elke prys skuldig te bevind soos wat probeer word dat mnr. Zuma tot elke prys nie vervolg moet word nie? En die hofordonnans moet nou maar al reël vir ’n tolk, want die vier vroulike werkers het mos, toe onderhoude met hulle gevoer wou word, te kenne gegee dat hulle nie Afrikaans of Engels magtig is nie. Ek wonder net wat gaan gebeur as die hof wel die vier studente onskuldig bevind? Gaan die universiteit verskoning vra en Reitz weer oopmaak? Ek sal graag help om die studente se regskoste te betaal wanneer hulle ’n saak teen my ou/gewese universiteit maak. Die sluiting van Reitz is die grootste skande in die geskiedenis van Kovsies, maar pasop, die wiel draai. Hennie PienaarBellville
Reitz: Geen vervolging ná R3 miljoen se skade?
Dit was seker te wagte dat berigte oor die vervolging van die vier studente van die nou oorlede Reitz-kamerwonings wat betrokke was by die “walgvideo” een of ander tyd sou verskyn. Dit slaan my egter stom dat daar besluit is om nié voort te gaan met aksies teen die studente wat ’n hofbevel teen oproerigheid op die kampus geminag het nie. Die rede: “Geen skade of beserings is in dié voorvalle aangerig of opgedoen nie.” Nét so is nou ook besluit om nié op te tree teen die tien studente wat in hegtenis geneem is ná die skade van (meer as) R3 miljoen nie. Van belang om te onthou is dat dié skade aangerig is voordat die video uitgelek is, want die studente het teen die universiteit se integrasiebeleid betoog. En die studente van Reitz was nié daarby betrokke nie. Dit gaan my verstand te bowe dat niemand vir die skade voor die hof gedaag gaan word nie, maar wel vier studente wat ’n video, mét die samewerking van die vier vroulike skoonmakers en ’n manlike werker, gemaak het. Gaan daar nou ook druk op die hof uitgeoefen word om die vier (blanke) studente tot elke prys skuldig te bevind soos wat probeer word dat mnr. Zuma tot elke prys nie vervolg moet word nie? En die hofordonnans moet nou maar al reël vir ’n tolk, want die vier vroulike werkers het mos, toe onderhoude met hulle gevoer wou word, te kenne gegee dat hulle nie Afrikaans of Engels magtig is nie. Ek wonder net wat gaan gebeur as die hof wel die vier studente onskuldig bevind? Gaan die universiteit verskoning vra en Reitz weer oopmaak? Ek sal graag help om die studente se regskoste te betaal wanneer hulle ’n saak teen my ou/gewese universiteit maak. Die sluiting van Reitz is die grootste skande in die geskiedenis van Kovsies, maar pasop, die wiel draai. Hennie PienaarBellville 8 / 8 2008
Volksblad Saterdag 31 Mei 2008 Bl.17 Briewe Rubriek Jou Mening Waar gaan dit alles eindig?Ek lees Woensdagoggend die hoofberig, Hoekom Reitz moet sluit. Dit het alles te doen met die sogenaamde walgvideo wat die land en wêreld ingestuur is. Ek luister na die berigte oor die radio en na die verskeie rolspelers se mening en dit voel vir my: Kan die studente nie maar gebly het tot die einde van die jaar nie? Hoeveel keer moet hulle nou nog om verskoning vra? My hart gaan uit na die Reitz- studente, veral waar hulle besig is met eksamen. Is dit die allervreeslikste wat in ons land kan gebeur, wat van die volgende: Maak koerante oop, kyk na nuus op TV en sien hoe word onskuldige boere vermoor, op die wreedste maniere denkbaar. So ook met ou mense. Jong meises en vroue word verkrag. Pasiënte word verwaarloos en aangerand in hospitale en ouetehuise. Hoekom word dit nie as walglik beskou nie? Met die ANC-jeugkongres is die universiteit omtrent verwoes deur jong mense wat nie weet hoe om goed te respekteer nie. Neem die vreemdelingehaat. Ek het nog nie een keer gehoor dat iemand sê dit walg hulle nie. En wie is die meeste hierby betrokke? Jong kinders van die ouderdom vyftien en ouer. Nou verduidelik my wat is die ergste. Die walgvideo, plaasmoorde, verkragting of vreemdelingehaat? Ek verstaan regtig nie meer wat gaan in ons land aan nie en waar gaan alles eindig.Elna Venter Japie Neserweg 89, Uitsig, Bloemfontein
Moenie in die verlede leef nie...
willem van der berg REITZ-KAMERWONINGS was al in die verlede gesluit. Tog is daar elke keer besluit om weer die deure oop te maak. Die manskoshuis het nou eenmaal ’n kleurryker geskiedenis as die ander op die Bult. Tans is die kleur rooi. Stopstraat-rooi. Die einde van die pad breek aan as die koshuis die einde van die semester sluit. Die onderwerp is nie holrug gery nie, sy arme rug is daarmee heen. Maar tog gaan daar nog baie geredekawel word. Die huidige inwoners van die koshuis sê dat hulle geen aandeel aan die wêreldbekende, omstrede video gehad het nie en daarom is die reaksie teen Reitz onregverdig. Hulle word benadeel weens ander se foute. Die Nazi-bewind is aan die einde van die Tweede Wêreldoorlog gebreek. Hitler is dood, maar tot vandag toe word die Duitse nasie verantwoordelik gehou vir die misdade teen die Joodse volk en ook ander mense wat nie in hul “superras” wou pas nie. En in elke nuwe rolprent oor die Tweede Wêreldoorlog word die Duitsers daaraan herinner dat hulle monsters was. Die jeug van Suid-Afrika skreeu dat hulle nie deel was van die sonde van apartheid nie, tog word daar steeds maatreëls toegepas om die agterstand uit te wis wat ander volke opgedoen het,. Die Anglo-Boereoorlog het in 1902 tot ’n vredeskikking gelei. Dit was 106 jaar gelede en steeds kan sekere Afrikaners nie ’n goeie woord oor ’n Brit sê nie. As hulle kon, het hulle nou met hul jaggewere in Magersfontein se loopgrawe gaan lê en wag. Vir vergelding. Dit wil sê: As jy deel is van ’n sekere kultuur, trek jy die baadjie aan. Dit sluit jou leierskap-, sport- en ander prestasiebalkies in. Maar ook die vetkolle, oliekolle en bloedkolle. En ander kulture sien gewoonlik graag die kolle raak. Reitz is ook ’n kultuur. Van die UV se beweegredes om die koshuis te sluit was om weer buitelandse steun te werf. Die nuwe advertensie wat vertel hoe “bakgat” die kampus deesdae is, kom natuurlik nie daar uit nie. Toe daar voorverlede week meer as 100 mense in België beseer is in ’n opvlamming van rassehaat het ons niemand hoor om verskoning vra nie. Wit en swart het mekaar daar bestorm en die polisie moes deurnag spook om die groepe uit mekaar te hou. Hopelik is hulle nie deel van die steun nie. Ook nie Amerika nie, hulle het maar baie kolle en vlekke. So ook die Australiërs, die Russe, die Chinese, die Pakistani’s, die Israeli’s en natuurlik die Britte... Oplossing: Onthou jou verlede, maar moenie daarin leef nie. Jyhet net vandag, maak dit die moeite werd. 3 / 6 208
Inwoners sê hulle wil net jaar op kampus voltooi
henry cloete “AL wat ons as inwoners van Reitz-kamerwonings vra, is dat ons die jaar hier op die kampus kan voltooi. Daarna sal ons ontbind en kan die universiteit met die koshuis maak net wat hy wil.” Mnr. Pieter Odendaal, primarius van Reitz, wat pas gehoor het dat die koshuis aan die einde van dié semester sluit, het aan Volksblad gesê die inwoners van Reitz is “tot in hul wese getref” deur dié besluit. Die bestuur van die Universiteit van die Vrystaat (UV) het gister amptelik aangekondig dat dié koshuis gesluit gaan word ná die sogenaamde walgvideo wat by Reitz geskiet is en vroeër vanjaar internasionaal opslae gemaak het. Prof. Teuns Verschoor, waarnemende rektor, het gesê dié besluit is ’n simboliese en strategiese skuif. Odendaal sê die inwoners is reeds vanjaar “deur hel” in die nadraai van die walgvideo-sage. “In daardie moeilike tyd het ons geen ondersteuning van die UV gekry nie. Inteendeel, hy het ons van die staanspoor af verdoem en bygedra om ons in ’n slegter posisie te stel. “Dit kos ons ouers baie om ons te laat studeer. Die universiteit het toegelaat dat ’n geïsoleerde voorval van enkele studente die hele koshuis benadeel. Ná ’n uitmergelende stilte waarin ons geen terugvoering van die UV rakende die toekoms van Reitz ontvang het nie, breek hy die slegte tyding op die eerste dag van die eksamen. Hoe kan ’n mens in sulke omstandighede akademies presteer?” Odendaal sê Reitz het reeds telkemale vir die gevolge van die video om verskoning gevra. Die video het aanleiding gegee tot enorme emosionele nasionale en internasionale reaksie en het ’n groot debat oor rassisme en magsverhoudings in Suid-Afrika ontlok. Op die video het vier inwoners van Reitz vroulike swart skoonmakers aan ’n kamma-inisiëringseremonie laat deelneem. Hulle moes bier afsluk, aan ’n kamma-rugbyoefening deelneem en ’n brousel eet waarin een inwoner oënskynlik geürineer het. Dr. Robbie Dennis, voorsitter van die Nasionale Unie van Oud-Reitzmanne (NUOR), sê in ’n verklaring die UV-bestuur het hom nie aan bydraes van huidige studente, oudstudente en ouers van Reitz-inwoners gesteur nie. “Internasionale en plaaslike menings is oënskynlik vir die UV belangriker as die studente. Die UV is steeds besig om die studente van Reitz en ook onskuldige eerstejaars van die koshuis kollektief te straf vir ’n voorval wat byna ’n jaar oud is. Die NUOR sal alles in sy vermoë doen om dié onreg reg te stel en versoek die UV-bestuur en -raad om dringend die besluit in belang van die inwoners en van die UV te heroorweeg.” Verschoor het die tydsberekening van die aankondiging verduidelik deur te sê daar was baie administratiewe kwessies en voorleggings wat verwerk en ontleed moes word. 28 / 5 / 2008
Volksblad Vrydag 18 April 2008 Bl.1 Net Engels! beveel Pandor by Kovsies
Tolke weggejaag op vergadering waar minister oor UV-probleme praat
henry cloete IN ’n poging om eerstehands die probleme op die kampus van die Universiteit van die Vrystaat (UV) waar te neem, het mev. Naledi Pandor, minister van onderwys, gister besoek afgelê op dié kampus. Sy het glo tolke wat vir vergaderings met studenteleiers gereël is, afgejak en gesê die vergadering sal in Engels geskied. Mnr. Ben Schoonwinkel, studenteraadvoorsitter, sê die minister het teen haar eie vroeëre reëlings opgetree deur op die vergadering, wat eers met die studenteraad en koshuis-primaria en daarna met politieke partye op kampus sou wees, te sê sy wil almal gelyk spreek. “Dit was ’n probleem om dit vinnig te moes reël. Die tolkdienste, wat ons vir elke vergadering reël, is ook deur haar weggestuur. Sy het gesê dit is haar vergadering en dit sal in Engels geskied.” Hy sê die gesprek met studenteleiers het langer as ’n uur geduur. Kans is vir studenteleiers gegee om hul mening oor transformasie op die kampus te lug. “Aan die einde het sy gesê sy is nie tevrede met wat sy onder studenteleiers sien nie – dat hulle meer moet saamstaan en oor die vraagstukke leer praat. Sy is ongelukkig oor hoe die situasie deur die studente benader word. “Daar is volgens haar nog ’n ver pad om te stap voordat transformasie op die kampus werk.” Mej. Thato Taka, primaria van die Madelief-koshuis wat ook die vergadering bygewoon het, sê sy blameer nie die minister vir dié woorde nie. “Daar is baie verdeeldheid en vingerwysery in die studenteliggame.” Mnr. Lunga Ngqengelele, Pandor se woordvoerder, sê almal het op die vergadering ingestem dat dit maar in Engels kan wees. “Sy wou nie hê enige mense wat nie deel is van die groep met wie sy wou praat, moes in die vergadering wees nie.” Die beweerde onvoldoende toepassing en ondersteuning van tolkdienste was juis een van die griewe wat koshuisleiers vroeër vanjaar voor hul staking in ’n memorandum aan die UV-bestuur omskryf het. Pandor het ook namens die ministerie en die regering vir die vyf skoonmakers wat in die gewraakte Reitz-video betrokke was, “om verskoning gevra vir die vernedering wat hulle moes beleef”, sê Ngqengelele. Pandor het gisteroggend geslote vergaderings met die werkersunies Nehawu (waaraan die vyf skoonmakers behoort) en UVPersu, die studenteraad en ander studenteliggame en politieke partye, die UV-bestuur en ook die skoonmakers gehad. “Sy wou eerstehands met die mense gepraat het en ingelig wees oor transformasie op die kampus en die gevolge van die video,” het Ngqengelele gesê. Prof. Frederick Fourie, UV-rektor, sê aangesien die bestuur reeds vroeër baie in kontak met die nasionale departement van onderwys was, het hulle nie soseer met Pandor vergader nie, maar net saam middagete genuttig. “Ek kan dus nie praat oor wat in die vergaderings gebeur het nie, maar ek verwelkom die feit dat sy eerstehands wil uitvind wat hier aangaan,” sê Fourie. Pandor het vroeër ’n komitee vol swaargewigte in onderwys aangestel om diskriminasie aan hoëronderwysinstellings uit te wis en sosiale samehorigheid hier te bevorder. Dit het gevolg op die herrie wat vroeër vanjaar rondom die sogenaamde walgvideo losgebars het.
‘Ons loop ter wille van UV’
Reitz-twee staak hul studies
Mike van Rooyen ‘Ons spreek, opreg, die vertroue uit dat ons besluit om ons studies te staak sal bydra om die huidige toestand te laat bedaar, en dat die video inderdaad tog ’n bydrae sal lewer om kwelpunte met integrasie op die kampus en selfs elders op te los.’ OP die vooraand van ’n dringende vergadering van die raad van die Universiteit van die Vrystaat (UV) vandag waar die omstrede video bespreek sal word wat internasionaal opslae gemaak het, het twee van die vervaardigers daarvan, albei studente in hul finale jaar, hul studies opgeskop. Mnre. R.C. Malherbe en Schalk van der Merwe, albei inwoners van die manskoshuis Reitz-kamerwonings op die UV-kampus, sê in ’n brief aan die rektor dat hul besluit grootliks in belang van die UV geneem is. “Ons spreek, opreg, die vertroue uit dat ons besluit om ons studies te staak sal bydra om die huidige toestand te laat bedaar, en dat die video inderdaad tog ’n bydrae sal lewer om kwelpunte met integrasie op die kampus en selfs elders op te los.” Indien hulle dissiplinêr verhoor sou word, sou getuienis aangebied word, wat net verdere negatiewe publisiteit vir die UV tot gevolg kan hê, lui die verklaring voorts. As hulle vrygespreek word, sal dit waarskynlik aanleiding tot voortslepende geweld gee en onskuldige mense sal in gevaar gestel en benadeel word. Hulle bied desnieteenstaande verskoning aan teenoor alle betrokkenes wat direk, of indirek, geraak is deur die vertolking wat aan die video gekoppel is en die reaksie wat dít uitgelok het. Dit sluit ook die inwoners van Reitz-kamerwonings en die betrokke werkers in. Hulle sê hulle wil dit beklemtoon, en vra om die voordeel van die twyfel te kry, dat hulle hoegenaamd nie bedoel of voorsien het dat die video die gevolge sou hê wat nou blyk nie. Hulle het glad nie die oogmerk gehad, of dit voorsien nie, dat dit as vernederend vir die betrokkenes beskou sou word en gesien sou wees dat dit met rassistiese oogmerke gemaak is nie. “Ons het geen kwade gevoelens teenoor enige persone of instansies of bybedoelings met die maak van die video gehad nie, en ook hoegenaamd nie die gevolge daarvan voorsien nie.” Ten slotte bied hulle aan “dat ons studie- en verwante gelde wat ons vir 2008 betaal het, aangewend word om verdienstelike en behoeftige studente te subsidieer”. )Dié video, wat in September 2007 deur Malherbe en Van der Merwe en twee ander destydse studente, mnre. Danie Grobler en Johnny Robberts, gemaak is, het die eerste prys op hul koshuis se jaarlikse kultuuraand verower. In die video word die sogenaamde “inlywing” van swart skoonmakers in die koshuis uitgebeeld as deel van die UV se koshuisintegrasie, wat toe in die nuus was. Geen haan het destyds daarna gekraai nie, totdat dit skielik verlede maand op die internet opgeduik en wyd beskikbaar was, en veroordeel is. Dit het gekom kort nadat groot onrus op die kampus uitgebreek en oproerige studente skade van sowat R3miljoen aangerig het. Malherbe en Van der Merwe was tot nou die kampus van die UV verbied. 7 / 3 / 2008
Beeld
Reitz-kamerwonings sê jammer aan koshuisgangers
Mike van Rooyen
Mike van Rooyen Bloemfontein. – In ’n brief aan mede-koshuisstudente het die huiskomitee van Reitz-kamerwonings op die kampus van die Universiteit van die Vrystaat (UV) “onvoorwaardelik” om verskoning gevra vir die rassistiese video wat daar gemaak is. Briewe is gister aan al die huiskomitees en inwoners van al die koshuise op die kampus gestuur waarin hulle die skade betreur wat die video veroorsaak het. In die video is swart skoonmakers kos gegee waarin die studente “geürineer” het. Hulle het later gesê hulle het voorgegee hulle urineer in die kos. “Die doel van hierdie brief is geensins om die video of motiewe daaragter te verdedig nie. Ons rig hierdie brief as onvoorwaardelike verskoning dat lede van ons koshuis só ’n video gemaak het en vir die gevolglike leed wat dit veroorsaak het.” Die brief lui verder: “Ons betreur die skade wat ons optrede aangerig het aan die verhoudinge tussen kultuur- en taalgroepe op ons kampus, sowel as die beeld van ons trotse universiteit. “Ons moet onsself weer sensitief maak vir ons Bybelse beginsels van respek, liefde, vertroue en integriteit binne ’n multi-kulturele gemeenskap en oor hoe ons hierdie beginsels uitleef. “Die oorspronklike doel met die video het niks met rassisme te doen gehad nie, maar die openbaarmaking daarvan het ons as Reitz-inwoners die nodige besef gebring dat ons introspeksie moet hou van die sensitiwiteit wat steeds bestaan in die interaksie tussen verskillende kultuurgroepe.” Die raad van die UV vergader môre en die gebeure die afgelope tyd op die kampus sal dan bespreek word. Die hantering van die integrasieproses van studente in koshuise deur die universiteitsbestuur sal waarskynlik ook op dié vergadering onder die vergrootglas kom. 6 / 3 / 2008
Reitz-video: 2 studente skort hul studies op
Mike van Rooyen
Mike van Rooyen Bloemfontein. – Twee van die studente wat betrokke was by die vervaardiging van die omstrede Kovsie-video wat wêreldwyd opslae gemaak het, het hul studies opgeskort. Mnre. R.C. Malherbe en Schalk van der Merwe, albei inwoners van Reitz-kamerwonings op die kampus van die Universiteit van die Vrystaat (UV), sê in ’n brief aan die rektor dat hul besluit grootliks in belang van die UV geneem is. Hulle was albei studente in hul finale jaar. Hulle spreek die vertroue uit dat hul besluit om hul studies te staak, sal bydra om die huidige toestand op die UV-kampus te laat bedaar “en dat die video inderdaad tog ’n bydrae sal lewer om kwelpunte met integrasie op die kampus en selfs elders op te los”. Indien hulle intern verhoor sou word, sou getuienis aangebied word wat net verdere negatiewe publisiteit vir die UV tot gevolg kan hê, lui die verklaring. As hulle vrygespreek word, sal dit waarskynlik aanleiding tot voortslepende geweld gee en onskuldige mense sal in gevaar gestel en benadeel word. Hulle bied desnieteenstaande verskoning aan teenoor alle betrokkenes wat direk, of indirek, geraak is deur die vertolking wat aan die video gekoppel is en die reaksie wat dít uitgelok het. Dit sluit ook die inwoners van Reitz-kamerwonings en die betrokke werkers in. Hulle wil dit beklemtoon en vra om die voordeel van die twyfel te kry, dat hulle hoegenaamd nie bedoel of voorsien het dat die video die gevolge sou hê wat nou blyk nie. Hulle het glad nie die oogmerk gehad, of dit voorsien nie, dat dit as vernederend vir die betrokkenes beskou sou word en gesien sou wees dat dit met rassistiese oogmerke gemaak is nie. “Ons het geen kwade gevoelens teenoor enige persone of instellings of bybedoelings met die maak van die video gehad nie en ook hoegenaamd nie die gevolge daarvan voorsien nie.” Malherbe en Van der Merwe was tot nou die kampus van die UV verbied. 7 / 3 / 2008