Outisme: Nuwe hoop?
Dalk hoop vir outisme
Herman Toerien
"Die beste terapie is maksimale ouerliefde."
'n Eenvoudige, eerlike stelling van 'n terapeut na intensiewe toetse op ons jongste jare gelede.
Vanjaar, op 16, kon die diagnose van outisme ongekwalifiseerd neergepen word.
Ook nie heeltemal nie, want Jandré is tog anders, tog uniek soos enige kind, maar met soveel nie-outistiese eienskappe dat die lank uitbly van 'n diagnose nie vreemd was nie. Daar is heel moontlik iets anders by die outisme 'n multi-gestremdheid en dit moet nog gevind word.
Vra enige tyd vir Jandré 'n drukkie, en hy gee dit met oorgawe. Of hy kom vra vir 'n "duk" sy woord vir 'n druk.
Ja, daar was moeilike tye. 'n Pa wat met 'n skoppende en skreeuende kleintjie oor die skouer uit 'n winkel gestap kom waar hy 'n vloermoer gegooi het omdat daar gewoon nie geld was vir iets wat hy gesien en begeer het nie.
Lang ure se verduideliking, en hy raak mak hieroor.
Of 'n Vrystaatstadion wat opgeroep word om te help soek na 'n gestremde kind wat tussen neus en ore verdwyn het. As hy Coke soek, soek hy "Cope" soos hy dit genoem het NOU. Hy mag gestremd wees, maar het rigtingsin soos min, dus is dit ook kort-kort afsit na die geparkeerde kar toe om te kyk of hy nie dalk plan gekry het om daar te gaan wag nie.
En word hy gekry, sal hy meermale met 'n blikkie Coke in die hand staan, en is dit onmoontlik om vas te stel hoe hy hieraan gekom het.
Soos sommige outistiese en Williamssindroomkinders het Jandré ook splintervermoëns, genaamd savantisme. Die eerste tekens het op vierjarige ouderdom geblyk, toe hy by 'n terapeut moeilik was en onder 'n bank ingeklim het. Sy laat hom begaan, en hy begin blokkies wat hy daar in 'n mandjie gekry het uitpak. Netjies, van een tot tien, almal regop, sien die verbaasde terapeut.
Tuis kyk vroulief, en hy kom op die sakrekenaar tot 59 reg.
Nou hoe leer 'n kind op sy eie so iets wat effektief geen taal het nie?
Dis juis oor die taalkwessie dat ons besluit om dan eers vas te haak by dit waarin sy grondslag gelê is voor ons van die probleem bewus geword het. Maar watwou, so "vinnige" soos hy Afrikaanse woorde leer, net so vinnig vorder hy met die Engels. Blykbaar omdat Engels minder harde klanke het waarmee hy sukkel, maar meer waarskynlik omdat al sy helde, soos Spiderman, Asterix, Batman en Kangaroo Jack (min of meer in daardie volgorde van gewildheid) Engels praat.
Nog 'n splintervermoë kom aan die lig.
Ouboet-hulle maak weke lank van koerantpapier klere vir 'n skoolkosert, en die dag met die konsert kom die klere huistoe om aangetrek te word.
Jandré sien dié ongewone klere, en beduie hy wil ook hê. Ons beduie dis amper tyd om te ry en daar is nie tyd nie.
Terwyl ons aantrek gryp hy 'n skêr, kramdrukker en koerante, en dis 'n geknip, gekram en siedaar, nog voor ons ry het hy sy stel klere. Nie baie netjies afgewerk nie, maar dit pas perfek sonder dat iets gemeet of gepas is.
Hierna het dit nie einde nie. Enigiets wat kan plak word aangewend om iets van te maak, gewoonlik Aladdin se towerlamp, wat hy 'n ketel noem. Soms word tot 'n genie geprakseer om by die tuit uit te kom.
Modelhuisies van kartonbokse, met die fynste detail soos trappe, baddens en selfs wasbakke word gemaak.
Een aand begin hy neul vir 'n "twakie." Pa en ma het geen benul watse ding 'n twakie kan wees nie, en uiteindelik is hy moedeloos met sy dom ouers, gryp weggooipapier, 'n skêr en die kramdrukker. Dit woel en werskaf, en na 'n paar uur is "Twakie" klaar, synde 'n drakie. Twakie het tot tande, en 'n "vlam" in die bek wat kan uitkom, met vlerkies kompleet.
Twakie word sy troue metgesel. Een aand voor die TV begin hy stukke van Twakie afpluk, en ons wonder nog wat aangaan, toe begin hy weer stukke papier vaskram. Nie lank nie, is sy nuwe Twakie klaar. Dié keer mensgrootte.
Dié vakansie ry Twakie saam see toe, regop op die sitplek langs Jandré. By die see bedel ouma die drakie af, en Jandré kom sonder Twakie huis toe. Pligsgetrou, elke vakansie wat hy by ouma kom, het hy gaan kyk of dit nog wel gaan met Twakie.
Intussen loop ma 'n tannie raak wat eens met outistiese kinders gewerk het, en keramiekklasse aanbied. Ja, sy sal kyk of sy Jandré kan leer. En nee, sy ken outistiese kinders en Jandré is beslis nie een nie.
En so pak Jandré en tannie Joy, die Engelssprekende tannie. 'n nuwe koers aan.
"Hy wil die onmoontlikste goed maak," sê tannie Joy. "Ek sê vir hom dit kan nie gemaak word nie, maar hy wil nie kopgee nie."
Nie lank nie, kom sy eerste stel werkies huis toe. 'n Pa-draak, 'n ma-draak 'n ouboet-draak en 'n klein drakie.
Die jongelinge is intussen beide al pa en ma verby wat grootte betref, maar die vier drake staan nog. In die begin moes 'n poot of twee al met vasvat weer vasgesit word, maar nie sleg vir iets wat nie gemaak kon word nie.
Die woord versprei, en kort voor lank begin hy mense se honde vir hulle van foto's maak. Selfs 'n kat of twee.
Soos ou Max, wat kort na sy mense die beeldjie gekry het, die tydelike met die ewige verwissel het.
Die Nutsman is sy nuwe held. Wanneer hy Sondae uit die Tydskrif-Rapport die week se TV-programme memoriseer, is die Nutsman bo-aan sy lys.
By geleentheid lees ek in die koerant die Nutsman kom 'n groep mense in die Rosestad toespreek, en ek doen navraag of Jandré dalk sy held kan kom ontmoet.
Riaan maak 'n grotigheid van Jandré se skeppings, en wys dit vir die mense. Toe roep hy Jandré vorentoe, en prys hom vir sy mooi werk, die mense klap hande...en Jandré maak 'n buiging vir die gehoor.
Ek wil hom dooddruk.
Ma besluit hy moet leer teken en skilder ook. Dit lol aan die begin met die plat vlak, maar mettertyd begin ook dié medium mooi werkies oplewer. 'n Skildery wat hy spesiaal ten bate van 'n nuwe outismesentrum vir Bloemfontein skilder word opgefeil en haal 'n yslike R2 300. Waarskynlik meer vir die saak as die kuns, maar dit is 'n mooi skildery.
'n Lang pad met maksimale ouerliefde. Die woorde van 'n dokter aan 'n kinderlose kollega en sy vrou jare gelede bly in my kop vassteek: "Moet nooit ophou hoop nie."
Ons hou nie op hoop nie, ons Glo en ons doen wat ons kan. Omtrent alle preparate wat op ons pad gekom het, al probeer.
Dit lyk nie of geenterapie binne die raamwerk van hoop minstens vir die voorsienbare toekoms val nie.
Die jongste probeerslag na aanleiding van positiewe resultate elders in die wêreld is iets wat volwasse stemselaanvuller (Stem cell enhancement) genoem word.
Mense, nog net 'n week se gebruik en die tekens is goed. Gaan lees gerus op by www.stemtechhealth.co.za
En as iemand dit gebruik en enige resultate behaal, positief of negatief, laat weet my asseblief by hermantoerien@iburst.co.za
Asseblief.