Nuuskommentaar: Wie wend Julius hoe waarvoor aan?
'n Toutrekkery in die kleine bestaan oor of die Julius Malema-verskynsel 'n verskynsel is wat deur die media geskep en in stand gehou word, en of hy die nuusdekking kry weens die feit dat hy die ANC Jeugliga se leier is.
Dit is te ene male 'n feit dat sommige mense die vermoë het om die kalklig te steel, selfs al probeer hulle nie.
Die mate waarin mense soos Joost van der Westhuizen en Naas Botha daarin slaag om lank na hul aftrede as rugbyspelers in die kalklig te bly, staan skerp in teenstelling met byvoorbeeld ander eertydse rugbysterre soos Jackie Snyman. Selfs André Venter, wat weens 'n verlamming en sy beste maak daarvan soms in die nuus kom, kan nie droom om so in die kalklig te kom soos Joost en Botha nie.
Julius Malema is een van hierdie kalkligdiewe. Geen oproepe, selfs uit senior ANC-geledere, dat die media hom volgens sy veronderstelde impak moet beoordeel, sal hom uit die kalklig haal nie. Sy aanvoeling oor hoe om die kalklig te steel is eenvoudig te goed ontwikkel. Word sy breedsprakige oprui-sothede te veel, sal hy die mees onvoorsiene geleentheid benut om versoenend te wees, en al is die uitsprake lomp en vol teenstrydighede, hy het opnuut gesorg dat die kalklig hom bly volg.
Die ander siening is dat Julius nie so irrelevant is as wat sommiges wil glo nie, omdat hy 'n baie wye siening onder jong mense verteenwoordig. Hierdie beskouing is onheilspellend, want dit impliseer dat die ANC koelbloedig die jong mense se ontnugtering oor 'n demokrasie wat te min opgelewer het, wil wegkanaliseer van die wys van vingers na die ANC, en die vinger na ander setlaars soos Julius al daarna verwys het wil wring.
Om nuwe teikens vir rewolusionêre skyfskietery op te stel, los nog nie die oorsake vir die ontstaan van 'n rewolusionêre klimaat op nie. Doeltreffende regering en die effektiewe aanwending van beskikbare hulpbronne ook menslike hulpbronne doen veel meer. Mense reageer op hul persepsies van die werklikheid eerder as die werklikheid self, en daarom stuur onoordeelkundigheid, soos die peperduur vuurwaens van ministers, hordes partytjies en ander vermorsing die seine uit wat geen regering graag sal wil koester nie.
Julius is nie die enigste skrootskieter wat benut word nie. Pas het dit aan die lig gekom dat 'n plaaslike maatskappy Fifa in die hof aandurf oor die gebruiksreg van sokkerembleme met die oog op 2010. Die feit dat so 'n saak in die hof gaan draai is skadelik genoeg vir SA se beeld op die vooraand van die sokkerskouspel. Maar asof dit nie genoeg is nie, dreig Casatu se Vavi op TV met rollende optrede teen Fifa oor hierdie saak.
Presies hoe lank dink invloedryke Suid-Afrikaners gaan dit duur voor Fifa besluit genoeg is genoeg? Suid-Afrikaanse politici, soos Komphela, sit gereeld voet in die hoek met wat as niks anders as politieke inmenging in sport vertolk kan word nie iets wat Fifa en ander internasionale sportliggame soos die IOK verbied. Die Caster-sage het boonop verseker dat die kalklig nou op Suid-Afrika gefokus is en vir die voorsienbare tyd gefokus sal bly. En dis nie asof Fifa hieroor 'n keffende hondjie is nie lande soos Griekeland, Iran en Kenia is al hieroor geskors, en lande soos Nigerië en selfs Brasilië het op die laaste nippertjie kopgegee om te keer dat ook hulle geskors word.
Nog iets wat die sportliggame se grondwette verbied is rassisme, en opmerkings soos setlaars, kan moeilik as iets anders uitgelê word.
Dit gaan Duitsland, die vorige gasheer, nie lank neem om sy vere reg te skud om die toernooi by Suid-Afrika te erf as die politici hier nie leer om 'n wag voor hul monde te hou nie. Stil-stil is Brasilië, die volgende gasheer, op 'n versnelde program geplaas om vir sy gasheerstatus reg te maak. Gasheerstede moes hul meesterplanne reeds twee jaar gelede laat goedkeur.
Die aanbied al dan nie van 2010 behoort egter nie die oorweging te wees om verantwoordelike regering aan die dag te lê nie, verantwoordelike regering self moet die oorweging wees.
En as kroonprinse dan aangewys moet word, moet dit ook nie iemand wees wat om al die verkeerde redes in die kalklig baai nie.
__________ Information from ESET NOD32 Antivirus, version of virus signature database 4560 (20091031) __________The message was checked by ESET NOD32 Antivirus.http://www.eset.com