Herrie se blog

 
« Back to blog

Nuuskommentaar: Hoekom gaan Cope skynbaar nêrens heen nie?

Nuuskommentaar: Hoekom gaan Cope skynbaar nêrens heen nie?
Herman Toerien

'n Politieke party is veronderstel om in 'n nismark in te beweeg. Cope het met sy ontstaan belowende tekens getoon dat dit in 'n potensieel groot mark inbeweeg wat in Suid-Afrika effektief vakant is, maar in Europa tans domineer – die veld van die Christen-demokrasie.

So oorheersend is die aspek nou in Europa dat 'n vroeë gunsteling om president van die Europese Unie te word, die sosiaal-demokraat, Tony Blair, skynbaar heeltemal op droë grond uitgespoel is. Nuwe gunstelinge soos die Nederlandse Premier, Jan-Peter Balkenende, is almal Christen-demokrate.

Kort na Cope se ontstaan het twee kleiner Christen-demokratiese partye, onder meer dié van Peter Marais, hoopvol by Cope aangesluit, en 'n kerklike is tot toekomstige parlementêre leier verkies. Prof. Russel Botman, 'n kerklike, se naam is sterk genoem, en dr. Allan Boesak het prominent toegetree.

Met ongeveer 85 % van die bevolking wat aandui dat hulle Christene is, is dit amper ondenkbaar dat die politieke terrein van die Christen-demokrasie effektief vakant is, en met Cope se stigting vakant sou bly.

In die praktyk egter, het Cope as 'n skadu-party van die ANC ontwikkel. Verloopte ANC's het eenvoudig die nuwe stryukture gedomineer en nuwe aankomelinge uit die ANVC in die strukture ondervang. Mense wat uit ander oorde toegetree het, is eenvoudig sywaarts en selfs uit gerangeer, met die uitsondering van 'n handjievol "token"-aanstellings om 'n beeld van verteenwoordigendheid te skep.

Dit het nietemin tot gevolg gehad dat die party traag was om uit bekende vaarwaters na die oop see te beweeg, en so is in die oorvol poel van soiaal- en liberale demokrasie gevis, wat ook partye soos die ANC, die DA en die UDM insluit.

Die wêreldtendens tot moralistiese politiek kry hier min vastrapplek.

Die teenargument sou stellig wees dat die terrein van Christen-demokrasie nie werklik vakant is nie, dat daar juis 'n horde partye in beweeg en dat hierdie partye voor die voet klein is, en die grootste hieronder boonop krimp.

Dit sou egter 'n oorvereenvoudiging wees.

Dat die Suid-Afrikaanse bevolking in die humanistiese politieke poel oorbevolk raak, het veel meer met 'n stel historiese feite as oortuigings te make. Opnames bewys immers dat verreweg die meeste Suid-Afrikaners teen aborsie op aanvraag gekant is, maar vir partye stem wat dit voorstaan of keusevryheid van denke hieroor akkommodeer.  

'n Tweede waarheid is dat die meeste bestaande plaaslike partye in die Christen-demokratiese sfeer baie raakvlakke met die kleiner Europese Christenpartye het wat lidpartye is van die Europese Christenpartyebeweging, bekend onder sy afkorting, ECPM. Die grootste van hierdie partye is die Nederlandse CristenUnie wat uit die ou Gereformeerd Bond ontstaan het, en wat nou een van die drie partye – hoewel die kleinste – in die Nederlandse regerende koalisie is. In styl en uitdrukking verskil die Suid-Afrikaanse Christen-demokratiese partye baie met die groot Christen-demokratiese partye van Europa, soos die Duitse CDU, die Nederlandse CDA en die Vlaamse CD & V. Word egter na die beleid gekyk, is daar veel meer ooreenkomste. Dit is hierdie veld wat heeltemal braak lê.

Die Vryheidsfront Plus staan in 'n aanverwante sfeer, dié van Christen-volkseie.

Daar was reeds 'n aantal uitsprake wat gedui het op 'n inbeweeg in die sfeer van die groot Europese Christen-demokratiese partye. Oud-Pres. F.W. de Klerk is waarskynlik die mees prominente Suid-Afrikaner wat hom al by herhaling uitgedruk het dat hy ten gunste is van die ontstaan van 'n party wat op die Europese Christen-demokratise model geskoei is. Die destydse leier van die NNP, mnr. Marthinus van Schalkwyk, het ook in 'n stadium na die NNP as 'n Christen-demokratiese party verwys, maar heeltemal van deuntjie verander toe by die ANC aangesluit is.

Trouens, die Suid-Afrikaanse geskiedenis word taamlik gekenmerk deur die opofferbaarheid van Christen-demokrasie. Die Federale Alliansie het met 'n sterk Christen-demokratiese karakter tot stand gekom, maar met die insluiting van die DP daarvan afgestap, en so ook prominente lede verloor.

Met Cope se huidige gereelde samewerking met die DA, veral op mediagebied, is dit te betwyfel of die party nou in sy knyptang ernstig na die Christen-demokrasie as opsie sal kyk. Dit beteken die party sal in die oorbesette arena sy staanplek moet oopveg, of ondergaan.  

   

__________ Information from ESET NOD32 Antivirus, version of virus signature database 4560 (20091031) __________

The message was checked by ESET NOD32 Antivirus.

http://www.eset.com


__________ Information from ESET NOD32 Antivirus, version of virus signature database 4560 (20091031) __________

The message was checked by ESET NOD32 Antivirus.

http://www.eset.com