Herrie se blog

 
« Back to blog

Nuuskommentaar: Die reg is nie net sport nie, en die Reitz-4-sage se draai by die persombudsman

Nuuskommentaar: Die reg is nie net sport nie, en die Reitz-4-sage se draai by die persombudsman
Herman Toerien

Wanneer dinge op die sportveld nie na wense gaan nie, geld die argument dat dit net sport is. 'n Briefskrywer in Volksblad simpatiseer vanoggend met die Cheetahs en ondersteuners oor verskeie insidente, soos 'n beweerde vorentoe aangee na Habana wat tot 'n drie gelei het, en nog 'n voorval waar Habana glo voor die skopper sou wees. Nog verskeie voorbeelde word genoem, en die vinger word veral na die een lynregter gewys.

As is verbrande hout, en dit is net sport. Ook nie heeltemal nie, want 'n ander uitslag sou waarskynlik 'n hele paar miljoen rand in ander rigtings laat rol het. 'n Paar ander spelers sou moontlik die groen en goud oor die kop getrek het.

Na 'n provinsiale skeidsregter in 'n wedstryd tussen Wes-Transvaal en die Vrystaat sowat twee dekades gelede in die verkeerde geselskap gespog het dat hy 'n wedstryd met sowat 17 punte kan swaai sonder dat die vinger na hom gewys kan word, het dit sommer die laaste wedstryd geword wat deur 'n skeidsregter van die tuisspan geplaas word.

Daar is 'n strewe na geregtigheid, selfs op die sportveld.

Wanneer dit egter kom by die regsveld self, wat juis op die beginsel van natuurlike geregtigheid en die weegskaal gebaseer word, dan is mense dikwels veel minder oor regverdigheid begaan.

In die Reitz-sage het dit so erg begin gaan dat die landdros die media en politici moes waarsku, onder meer om nie die beskuldigdes voortydig skuldig te bevind nie. Die landdros het ook gedreig om op te tree teen oortreders.

Sondag plaas 'n nasionale koerant 'n brief, nogal as hoofbrief, waarin die Reitz-4 misdadigers genoem word. Die briefskrywer dring ook aan dat die viertal om verskoning vra.

Vanuit 'n regsoogpunt beskou, die vier is nog nooit aan enigiets skuldig bevind nie en kan dus nie misdadigers genoem word nie. Trouens, die skrywer, en moontlik die koerant moet nou asem ophou nadat die appèlhof sowat 'n jaar gelede bevestig het dat kriminele laster steeds 'n misdaad bly.

Een van die vernaamste redes wat pres. Jacob Zuma aangevoer het hy nie die land oor sy korrupte verhouding met Shaik, soos die hof bevind het, om verskoning kan vra nie is omdat dit op implisiete skulderkenning sou neerkom.

Uiteindelik is die aanklagte teen Zuma ook laat vaar, hoewel die regsproses hieroor nog nie afgeloop het nie.

Die Reitz-4 kan dieselfde argument aanvoer. Trouens, dit is komplekser as die beskuldigdes in die verhoorstadium met die klaers wat ook staatsgetuies is, gesprek moet voer. Die landdros se waarskuwings aan die media en politici het juis betrekking op begionsels waar regsgebruike geskend word.

Dit is egter nie die volle verhaal nie. Die volgende aanhaling kom uit twee susterpublikasies van die koerant wat die brief ongekwalifiseerd gedra het: Hulle bied desnieteenstaande verskoning aan teenoor alle betrokkenes wat direk, of indirek, geraak is deur die vertolking wat aan die video gekoppel is en die reaksie wat dít uitgelok het. Dit sluit ook die inwoners van Reitz-kamerwonings en die betrokke werkers in. Dit is op 7 Maart 2008 in die twee publikasies gepubliseer.

Hierna, so dui die elektroniese argiewe aan, was daar verskeie verwysings, sodat een briefskrywer in 'n stadium geskryf het: "Hoeveel keer moet hulle nóg om verskoning vra?"

Die berig waarop die twee Afrikaanse dagblaaie hul beriggewing geskoei het, is ook deur SAPA die wêreld ingestuur. 'n Soektog deur elektroniese argiewe dui dat dit waarskynlik der geen Engelstalige koerant hier te lande gedra is nie. Dit is wel in die Times of London en minstens een Amerikaanse koerant gedra.

Gegewe die lesersprofiel van Afrikaanstalige en Engelstalige koerante in Suid-Afrika, kan so iets maklik tot polarisasie langs rasselyne lei, en het dit waarskynlik omdat verskillende rasse nou dieselfde situasie wat op geregtigheid afgestem moet wees, met verskillende feitestelle beoordeel.

Die koerant wat die brief gedra het is nou by die Persombudsman verkla.

Die regsproses om te probeer verseker dat 'n onboetvaardige Zuma teregstaan, dat 'n onboetvaardige Malema voor die gelykheidshof pa staan vir 'n opmerking, die gebrom oor spoedboetes wat glo nie betaal word nie – dit is alles is deel van 'n demokratiese proses waar die regstaat nie durf ondermyn word nie, en niemand is skuldig voor hulle skuldig bevind is nie. Dieselfde behoort vir die Reitz-vier te geld.

Want dit is nie net sport nie.

Soos die gesegde lui: "Cheetahs don't cry."  Die dame wat die skaal van geregtigheid vashou – kyk mooi, sy huil.

__________ Information from ESET NOD32 Antivirus, version of virus signature database 4560 (20091031) __________

The message was checked by ESET NOD32 Antivirus.

http://www.eset.com