Afrikaanse humor: Herrie se kerrie: Bul-tuiswedstryde voortaan op Vrystaatstadion?
Sondagoggend ry 'n man met sy groen tjorrie met FS-nommerplate deur Bloemfontein se woongebiede se strate. Die kar is omtrént getooi met blou ballonne, en so ver soos die Blou Bul-ondersteuner ry, so ver toet hy.
Herrie het 'n spesmaas 'n chirurg sou voor die son water trek die toeter moes uithaal waar 'n Cheeetah-ondersteuner dit kort voor lank sou indruk.
By die plek waar mens mos vir die kleintjies die gatsometer indruk om hul koors te meet.
Nietemin. Elke hond kry ook sy dag. Dié merk Herrie die vorige dag, voor die wedstryd, op die boeremark op.
Van die een kant sien Herrie kom iemand met sy woelige worshond aan 'n oranje leiband aan, en van die ander kant iemand met twee effe groter steekhare sulke pers-blou-leibande.
Nou laat niemand vir julle ooit vertel honde is kleurblind nie. Nee, nie as 'n brak 'n worshond met 'n oranje leiband is nie. Want sien hy iets blous, sien hy net rooi, by wyse van spreke.
Dis 'n aardigheid om te sien hoe die plat hond se baas moeite het om daai wors van die verbouereerde steekhare af te hou. Dis 'n tande uitpakkery van 'n ander wêreld, en sy gromme het hy iewers by 'n Cheetah geleer. Herrie kan net dink wat van daai blou ballonne sou oorbly sou iemand dit in sy kop kry om vir die wors te sê: "Sa!"
Dis toe maar 'n blou sakkie aartappels wat iemand op die mark gekoop en roekeloos langs 'n stalletjie neergesit het waar hy aangedoen het, wat dit moes ontgeld.
Dié hond het nie Oros gebruik om te wys wat hy van die blou sakkie dink nie, deur dit met 'n oranje vloeistof te merk.
Herrie weet nie of dit waar is nie, maar hy verneem die Blou Bul-base is so beïndruk met die skrumlesse wat hulle by die Cheetahs gekry het, hulle gaan nou Cheetahs koop vir die paar posisies wat nog nie deur Blikore beklee word nie. Harold Verster het glo reeds die faks gekry (die Bulle het nog net tjekboeke uitgevind, nog nie e-pos nie) waarin die Blou Bulle vra of hulle volgende jaar hul tuiswedstryde nie maar op die Vrystaatstadion kan kom speel nie.
Sien, want dan speer hulle baie op verblyfkostes want die speler kan sommer by hul ouers oorslaap.
Harold het, verneem Herrie op goeie gesag, terug laat weet die Bulle is na die Haaie en die WP op die waglys.
__________ Information from ESET NOD32 Antivirus, version of virus signature database 4560 (20091031) __________The message was checked by ESET NOD32 Antivirus.http://www.eset.com