Cheetahs: Vasbytspan rypgedruk vir 2010
Al staan die Curriebeker die volgende jaar in die Jakarandastad, het die Vrystaatse Cheetahs die troos dat hulle goed rekenskap van hulself gegee het, en dat die jong Blikore boonop in voorwedstryde beide die Onder 19 en Onder 21-titels verower het. Geen ander bond, nie eens die heel grotes, kon naby hieraan kom nie.
Die tweede agtereenvolgende wedstryd tussen die Bulle en die Cheethas het die spanne ewe veel drieë gedruk, en was die geluk aan die Bulle se Morné-stewel.
Die Cheetahs sal opnuut wonder hoe dit gebeur dat hulle 'n wedstryd so kan oorheers, en tog kort voor lank, soos ook teen die Haaie in die halfeind, ver agter te loop.
Die antwoorde is eenvoudig: Die Vrystaat staan drieë af van sy eie mamparraskoppe af, en in moderne rugby is dit amper onmoontlik om drieë teen konvensionele verdedigingslinies te druk. Die Bulle se drieë het, soos dié van die Haaie, ietwat teen die verloop van die spel gekom toe die Cheetahs se opponente gebroke spel uitgebuit het.
Nie dat die Cheetahs nie ook gebroke spel kan uitbuit nie, soos 'n beweging wat 'n slag voor die besoekers se eie pale gaai draai, en byna-byna op 'n drie vir Lionel Mapoe uitgeloop het. Met die vernietigende skrumkrag wat die Cheetahs ontwikkel het, is moontlik vergeet dat gebroke spel 'n beter aanvalsplatform bied.
Die mamparra-skoppe is waarskynlik die gevolg daarvan dat die Cheetahs nog nie genoeg vertroue in hul lynstaanspringers het nie, en daarom lugtig is om die balle uit te skop wanneer nodig.
Te veel is ook moontlik van Heinrich Brussow se vermoë verwag om die bal deur 'n sleutelgat te kan steel, en hoewel dié Springbok 'n barshou gespeel en sy skakelvermoë tot minstens een drie gelei het, is die Cheetahs dié keer te veel keer in strategiese situasies van die bal beroof.
Of die jong Cheetahs volgende jaar met meer ervaring aan die groot reekse gaan deelneem hang af van hoe suksesvol die tjekboekstropers gaan toeslaan, met Brussow skynbaar die groot vis waarvoor die nette gespan word.
Met Griekwas wat die Vodacombeker verower het en vanaf hierdie platform aanvanklik 'n stewige Curriebekeraanslag geloods het, lyk dit of die Cheetahs se Super 14-span met 'n heelwat stewiger aanslag as vanjaar kan kom. Terselfdertyd moet die Vrystaat die waarde van 'n behoorlike en ernstige Vodacombekeraanslag herontdek, omdat hierdie liga die nuwe talent moet identifiseer en rypmaak wat intussen gereed word om die Super 14-manne op hul tone te hou.
Mapoe en ander wys ook dat die keurders hul oog duidelik op die Onder 21-liga moet hou om talent nader te hark as van die gevestigde spelers besluit hulle is op prima donna-status geregtig.
Boonop sal die rustiger situasie op die Kovsiekampus sou dit realiseer waarskynlik koshuisrugby tot sy ou glorie en ryk talentpoel laat herstel.
NS. Dit is net 'n gerug dat die beplande sege-optog deur die strate, sou die Cheetahs gewen het, vervang word vervang word met 'n teer-en-veersessie van die rugby-administrateur wat Morné Steyn vir die Vrystaat verlore laat gaan het. Hy sal ook nie deur die strate gejaag, en die geleentheid met 'n kleilatgooi-geleentheid in die stadion afgesluit word nie. Hy hoef ook nie 500 maal uit te skryf: "Alle Vrystaatse rugbytalent kom nie van Grey af nie."
Tellings:
Curriebeker-eindstryd: Blou Bulle 34, Cheetahs 24
Onder 21: Cheetahs 32, Haaie 25
Onder 19: Cheetahs 45, Leeus 13
__________ Information from ESET NOD32 Antivirus, version of virus signature database 4560 (20091031) __________The message was checked by ESET NOD32 Antivirus.http://www.eset.com