Besprekingsdokument: Christelike Etos Staat & Politiek
Hierdie dokument is 'n besprkingsdokument waarop die outeurs graag terugvoer wil hê.
Mense wat terugvoer wil gee word versoek om dit regstreeks te doen aan dr. Christo Landman, clandman@netactive.co.za of 082 854 75 16
Dankie
'n Christelike etos tov staat en politiek
November 2009
1 Inleiding
1.1 Die oogmerk van hierdie dokument is om 'n uiteensetting te gee van 'n Christelike staats- en politieke model wat kan dien as alternatief vir die totalitêre tendense in die Suid-Afrikaanse samelewing.
2 Vertrekpunt
2.1 Ons erken dat God Drie-enig die Skepper en Heerser van hierdie wêreld is. Hy reël alle dinge vir sy glorie en Hy spreek met die mens deur die Bybel, Sy Woord.
2.2 Die hele skepping het in sonde geval en daardeur ook die mens. As gevolg hiervan is die mens gedoem tot die ewige verderf.
2.3 Deur God se genade tree 'n reddingsplan in werking. God is die redder wat deur sy soewereine liefde Jesus Christus stuur om die mens van sy sonde te verlos sodat die mens weer aangeneem kan word.
2.4 Waar die mens Jesus Christus as verlosser aanvaar veronderstel dit dat die mens daarna uit dankbaarheid leef en sy/haar lewe voortdurend heilig. Heiligheid beteken om op God se openbaring te reageer in vertroue en gehoorsaamheid; in geloof en aanbidding; in gebed en lofprysing om dus in die lig van die Woord te leef.
3 Skeppingsorde/Samelewingsorde
God se skepping is ordelik en word gekenmerk deur verskeidenheid en vervlegtheid van funksies en strukture. Hierdie skepping het met verloop van tyd deur die werking van die mens op verskillende plekke op verskillende maniere ontplooi. As kroon van Sy skepping funksioneer die mens dus in 'n verskeidenheid lewensvorme wat deur verskillende beskawingsvlakke bepaal word wat wissel van 'n ongedifferensieërdheid tot 'n gedifferensieërdheid.
3.1 'n Gedifferensieërde samelewing word gekenmerk deur 'n verskeidenheid eie-soortige samelewingstrukture. Die eie-soortigheid van strukture vind sy beslag in die verskillende funderings en bestemmingsfunksies van die onderskeie strukture.
3.2 Die funderingsfunksie lewer die moontlikheid van bestaan en waarborg die realiteit van die spesifieke struktuur. Die bestemmingsfunksie bepaal 'n struktuur se tipiese geaardheid; rig al sy funksies op die struktuur se individuele doel en waarborg die struktuur se individualiteit.
4 Rol van die mens
4.1 Die mens is 'n unieke wese, geskape na die beeld van God met die opdrag om die aarde te ontwikkel en te onderhou. Deur Christus se versoeningsdaad op die kruis is die mens nie net verlos "van" die sonde nie maar verlos "om" iets te doen. Hierdie "iets doen" kry gestalte in kultuurontplooïng wat twee doelstellings het. Aan die eenkant is dit die verdere ontplooïng van God se skepping en aan die ander kant is dit die herstel van die skepping soos dit deur die werking van die sondeval al verder wegbeweeg van sy oorspronklike oogmerke, naamlik om God te dien.
5 Beskawingsontwikkeling/Kultuurvorming
5.1 As antwoordgewende mens ("Coram Deo") begin die mens reeds hier op aarde bou aan God se koninkryk, die nuwe herskepte aarde wat uiteindelik volledig herskep sal word met Jesus se koms. Hierdie "bouwerk" hou onder andere in dat 'n wye verskeidenheid kultuurdinge ontwerp en ontwikkel word. Kultuurdinge sluit enigiets in waar die mens die natuur omvorm, versorg, verbou, versier, bewaar, en in diens van die mens stel. Waar mens in antwoord op Sy Woord leef behoort kultuurontplooïng altyd plaas te vind in verantwoording aan God.
5.2 Behalwe dat kultuurdinge ontwikkel, differensieër die skepping ook in 'n verskeidenheid samelewingstrukture soos die huwelik, gesin, familie, kerk, skool, vereniging, staat, universiteit, ekonomiese bedryf ensomeer.
5.3 Elke samelewingstruktuur het 'n bepaalde gesagstruktuur wat die orde binne daardie lewensverband verskaf sodat mense geleentheid kry om in vryheid funksies binne hierdie struktuur te verrig.
5.4 In terme van die struktuurbeginsel van "Soewereiniteit in Eie Kring" is elke skeppingsding en dan ook samelewingstruktuur na sy eie aard gemaak. 'n Samelewingstruktuur/instelling kan nie herlei word uit ander samelewingsinstellings nie. In sy bestaanswyse behoort die samelewingstruktuur/instelling in eie reg gerespekteer te word. Elke samelewingstruktuur word getipeer deur die middelpunt/kern wat gevorm word deur die eiesoortigheid van die gesag wat daarin heers. Hierdie gesag is deur God geordineer vir die spesifieke struktuur/instelling.
6 Die staat
6.1 Die staat as samelewingstruktuur is nie deur die mens ontwerp of uitgevind nie. Tog is die ontstaan daarvan afhanklik van menslike aktiwiteit. Dit is 'n samelewingsinstelling naas en in vervlegting met ander wat gekenmerk word deur sy eie individualiteitstruktuur. Die staat as 'n regsverband handhaaf homself ongeag die wisseling van owerheid en onderdaan terwyl die owerheid onoderbroke sy gesag oor die onderdane laat geld. Die primêre doel van die staat is om die regsbelange van staatsburgers en ander nie-staatlike instellings te behartig en te verseker.
7 Owerheidsgesag
7.1 Soos die geval met alle samelewingstrukture is daar in die staat sprake van bowe-en onderskikkende gesag 'n vertikale gesagsverhouding. Hierdie gesag is Godgegewe en daarom verleende gesag. Dit beteken dat die gesag in die staat nie uit staatsverband as bron kom nie; ook nie uit die staatsowerheid (regering) nie en ook nie uit die onderdane (staatsburgers) nie. Dit impliseer dat die gesagdraer (owerheid) dus altyd in die eerste plek verantwoording behoort te doen aan God vir al sy besluite en aksies.
7.2 Die gesag in die staat is begrensde gesag begrens deur die normatiewe struktuur van die lewensvorm waarin dit geld. Geen gesagsdraer is almagtig of alsoewerein nie owerheidsgesag dus ook begrens.
7.3 Die gesag in die staat is ampsgesag ampsgebonde aan mens (amp = taak). Amp beteken dat die ampsdraer 'n opdrag het wat aan ondergeskiktes gelewer moet word die ampsbedienaar moet ampsbediening tot heil wees. Die motief van ampsdiens is nie onderdrukking of verslawing nie maar beskerming en verskansing teen sondeslawerny bevryding van ongehoorsaamheid aan die wil van God. Daarom is ongehoorsaamheid aan regmatige gesag direk 'n sonde teen die Allerhoogste (anargisties in diens van die Satan). Owerheidsgesag is dus ampsgesag en moet as sulks gehandhaaf, eerbiedig en gehoorsaam word. Mens is ook verplig om elke regmatige amp te respekteer, los van die mense daarin.
7.4 Gesag is normatief taakstellende gesag - ampsdraers moet hulle gesag handhaaf. Gesag is onvervangbaar - staatsgesag is nie kerkgesag of besigheidsgesag nie. Gesag is ook ondeelbaar - daar is net een owerheid in die staat.
8 Burgervryheid
8.1 Die vryheid van die mens is afhanklik van sy gehoorsaamheid aan die wil van God. 'n Mens is dus nooit totaal vry nie maar slegs vry binne verantwoordelikheid. Hierdie vryhede manifesteer in funksionele en strukturele vryhede.
8.2 Funksionele vryhede behels godsdiensvryheid; liefdesvryheid; kunsvryheid; ekonomiese vryheid; omgangsvryheid; taalvryheid; stylvryheid; en akademiese vryheid.
8.3 Strukturele vryhede behels vryheid tov kerk; huwelik; gesin; bedryf; universtiteit; skool; vereniging ens.
Die mens behoort in beginsel vry te wees van onregmatige owerheidsbemoeïng. Die owerheid moet die grense van sy eie ampsbevoegdheid eerbiedig. Die owerheid moet ook toesien dat sy onderdane nie mekaar se burgelike vryhede vernietig nie.
9 Politieke medeseggenskap
9.1 Politieke medeseggenskap is 'n staatkundige interne bevoegdheid van die staatsburgers. Dit kom tot openbaring in spraakvryheid; persvryheid; vergader- en organisasievryheid; politieke kritiek- en protesreg en stemreg (die reg om verkiesbaar te wees asook die reg om te kies).
9.2 Staatsburgers kan hiervolgens bepaal deur wie hulle regeer te word asook volgens watter beginsels daar regeer sal word. Die burger het die reg om iemand in die owerheidsamp te plaas asook die reg om die een wat daarin geplaas is te toets of die geplaaste suiwer volgens partybeginsels optree, al dan nie.
10 Die politieke party
10.1 Politieke partye speel 'n belangrike rol in die staat. In 'n regstaat ontstaan die party as 'n samelewingsinstelling wanneer 'n groep mense rondom bepaalde beginsels organiseer ten einde 'n beheer oor die owerheidsamp te verkry. Die party ontwikkel 'n spesifieke program van beginsels en beleid waarvolgens dit sal regeer indien dit die owerheidsamp oorneem. Kiesers kies vir sodanige party en/of sluit by 'n party aan indien hulle hierdie beginsels en beleid ondersteun.
10.2 Indien 'n spesifieke party die meerderheidsteun kry en die owerheidsamp beklee moet dit dan regeer volgens sy vooropgestelde beleid. Die politiek party streef na staatkundige mag slegs vir sy politieke geloofsbelydenis en nie vir die partyorganisasie as sulks nie. Die kerntoets vir elke politieke geloofsbelydenis is of 'n owerheid daarvolgens in algemene regsbelang kan regeer.
10.3 Dit is van kardinale belang dat die party as samelewingsinstelling van die staat as samelewingsinstelling onderskei moet word. Die politieke party kan hoogstens gesien word as 'n skadubeeld van die owerheidstruktuur. Dit dien as die politieke kontroleur van die van die staatsowerheid en ook as 'n skool wat aan die owerheidsamp sy personeel lewer.
11