Haal iets positiefs uit disleksie
"Nuo gana ek iets oor dsileksei skryf. Ek gana nie spot nei, ook nie kla nie, net biekie oor die vasbyt en moet skryf."
Sommer ter aanvang. Daar is hoop. Terapeute verrig wondere as dit op 'n jong ouderdom vasgestel en aangespreek word.
Maar daar glip gevalle deur die krake, en ek was een daarvan. Miskien was meer as 'n halwe eeu gelede ook bietjie gou om raak te sien en iets aan te doen.
Met twee nefies wat akademies nie matriek kon haal weens disleksie nie, was die uwe redelik gou oortuig dis sy moeilikheid ook ...die skoolhoof wat alewig wou weet hoekom 'n man dan twintig persent onder sy IK presteer.
"Man, jy het nie disleksie nie, want jy het nie op jou kop geval nie." Punt.
In my derde jaar op universiteit word my oë getoets. "Maar jou oë kan dan nie konvergeer nie."
Hoe nou, wat is dit en wat het dit tot gevolg?
"Jou oë kan nie na mekaar kyk nie, en dit maak dat jou oë gou moeg en seer word as jy lees." Leer behels ook taamlik lees, en siedaar, ek het die verklaring. Of so gedink.
Eers die jaar daarna, toe ek in my honneursjaar is, lê ek psigometriese toetse vir 'n werkaansoek af, en word ek met disleksie gediagnoseer.
Later jare blyk dit kom hierdie disleksie van altwee kante van die familie af, en word baie dinge duidelik.
Die snuifgetrapte voetpaadjie na die skoolhoof se kantoor, hoekom ek nooit klaar was as "dosente" hul "lesings" in die vorm van handgeskrewe transparante teen die witbord gooi nie, en omgeblaai word voor ek halfpad is, hoekom ek juis in eksamentyd so lekker landloopfiks word.
Want as die brein ingespan moet word, word die liggaam hiperaktief.
Dan word verwoed in die tuin gewerk, en kort-kort gou "om die koppie gehardloop" om die brein bietjie te laat lugskep.
Steeds is dit amper onmoontlik om agter te kom die tak is op die kat, en nie die kat op die tak nie. Die rekenaar se speltoetser help ook nie.
Nie net letterdisleksie nie, maar ook syferdisleksie.
Trouens, woorde kan mens nog op sig memoriseer, maar syfers, soos op 'n nommerplaat, maak nie 'n herkenbare prentjie nie. By daardie werk wat ek gekry het, was deel van die opleiding om skyfies vir 'n breukdeel van 'n sekonde teen die bord te flits, en dan vrae te vra.
Die een waarmee ek baie gesukkel het was 'n meisie 'n voormalige mej. Suid-Afrika in 'n sjoebroekie op 'n motorfiets. Dan wil hulle die motorfiets se registrasienommer weet!
Ek weet nie hoeveel die feit dat ek nie eens die nommerplaat kon kry met syferdisleksie te make gehad het nie.
So elke tien jaar na ek klaargemaak het, skryf ek weer vir 'n universiteitskursus in. Buitemuurs, wanneer die akademiese swaarkry al bietjie vergete is.
So kom ekonomie aan die beurt.
Die dosent kom in 'n stadium na my toe, baie deurmekaar.
"Die ander studente kry agt uit nege vir die teorievrae, en een uit nege vir die toepassingsvrae. Jy kry een uit nege vir die teorievrae, en agt of nege uit tien vir die toepassing. Hoe kry jy dit reg?"
Ek kon dit net so min antwoord soos wat ek 'n verbaasde onderwyseres kon antwoord oor hoe ek by 'n antwoord van 5 en 58 / 59stes in plaas van die regte antwoord van 6 gekom het. Op sig kon ek sien min of meer wat die antwoord moes wees, maar om in 'n syferdoolhof by daai regte antwoord uit te kom dis 'n heel ander storie.
Dus, het ek die kans gekry het ek op 'n manier die transparant langer op die oorhoofse projektor laat bly. Soos die dosent wat gedooi het oor sy dampies. Verkas hy buitentoe, glip ek gou die vorige transparant terug op, en skryf.
By geleentheid was ek nog nie klaar toe hy terugkom nie.
"Wat het van my transparant geword?" teem hy.
Almal in die klas kyk om, ek ook, maar ek sit agter teen die muur.
Dus het ek grootliks my tyd beter benut deur meer te luister behalwe dat daardie dosent en van die ander g'n niks gepraat het nie, net die *&^%se transparante teen die muur gegooi het.
Dan het ek nuttige dinge gedoen soos om ook Sorsie se naam in die presensielys te skryf, en eksperimente gedoen soos om te tel hoeveel keer per minuut 'n sekere dosent "nie waar nie" sê.
Of om 'n stuk plank deur die koperhandvatsels van die klaskamer se dubbeldeur te gaan druk toe 'n dosent laat was vir klas. Dit was presies die dag na ek by my ma 'n preek gekry het oor ons daardie dag 'n klas "gegeneral" het dit is wanneer die dosent presies sewe minute na die klas moes begin het, nog nie daar is nie en die klas so blitsig verdamp dat die dosent, sou hy agt minute laat wees, nie eens meer een verdwaalde student kan opspoor nie.
Want, het ma vertel, toe sy op Tuks was het hulle dit ook weer met 'n huishoudkundeklas gedoen. Met die volgende klas is die dosent in trane sy het uit haar eie sak bestanddele vir 'n eksperiment gaan koop en in die stadsverkeer vasgevang geraak. En sê ma, hulle het so sleg gevoel.
Die volgende dag is die lang maer prof laat, en ek merk die klas begin die horlosies soos stophorlosies dophou. Hier gaan binne 'n minuut of wat 'n groot makeer wees.
Dis toe ek die los plank sien, en die "blink" idee kry. Met die plank deur die handvatsels, is die klas se verkasplanne skoon vergete. Almal hou daai deur dop. En sowaar. 'n paar sekondes na die sewe minute verstryk het, probeer iemand die deur oopmaak. En los dadelik.
Sou die dosent hom vererg het?
Ek vlieg op om hom te gaan soek en om verskoning te vra.
Maar watwou, was nog net halfpad op toe kom daai lang, maer prof by daai deure ingeskouer 'n mens sien net spaanders waai. Hy ploeg so drie rye banke in, skik hom en sy klere, en gaan aan met die klas asof niks gebeur het nie.
Het hy maar geweet hoe amper het ek daai plank uitgehaal gehad. Gelukkig was die klas op die grondvloer, want hy sou by die venster uit gewees het.
Met die rekenaarera kom voor- en nadele. Met 'n Afrikaanse speltoetser bygevoeg, kan die tipiese disleksiefoute maklik ondervang word. Trouens, om uit die kop te tik gaan so vinnig die rekenaar kan nie altyd byhou wanneer dieselfde karakter twee keer langs mekaar gebruik moet word nie. Dit het deels te make daarmee dat die uwe se wysvingers en pinkies eintlik al vingers is wat dun genoeg is om taamlik maklik tussen die toetse in te pas. Die ander is te duk vir tuk. Die ander hand se wysvinger druk dan die volgende karakter nog voor die rekenaar die tweede karakter van die ander hand geregistreer het, en is dit 'n redelike groot werk om na afloop van 'n stuk tikwerk al die "gana's" na "gaan" te verander.
Om 'n geskrewe teks oor te tik is egter nag. Die teks moet reg gelees word, gememoriseer word en dan na die toetsbord gekyk word om die wysvingers op die regte spasies te lanseer. 'n Toetsbord is dus ook nie juis iets wat vreeslik hou nie.
Ons jongste, wat in die outismespektrum val, het verbale disleksie. By geleentheid, toe hy nog in die skool was, kom hy baie in sy skik by die huis. Hy het derde gekom in gewigstoot. Hy is net kwaai opgetrek met homself omdat hy so "terks" is, en ons is weer verbaas oor daai maer liggaampie soveel krag kon optower.
Natuurlik het disleksie positiewe en negatiewe newe-efekte. Die negatiewe is dat dit ook asosiale gedrag tot gevolg het, want 'n mens kom maar deurlopende in vernederende situasies oor die tak op die kat.
Die positiewe is moeiliker om te verduidelik. Omdat dit moeiliker is om geskrewe kennis in te neem, gebruik die brein daardie kennis wat hy wél inneem optimaal. Kennis in een vak opgedoen, kom handig te pas om toepassing in 'n ander vak te vergemaklik. 'n Redelike algemene kennis het dikwels tot gevolg dat die IK vir algemene kennis baie hoër as die res van die IK is.
En as jy kinders het, probeer dit so jonk as moontlik vasstel. Dit kan wonderlik aangespreek word. En as dit nie volkome aangespreek word nie, pas aan. Mense met disleksie is individue. Die een sal meer baat daarby vind om toestemming te kry om langer aan vraestelle te skryf, die ander se selfbeeld sal weer deur sulke spesiale behandeling geknou word, en sy selfbeeld word beter gedien deur 'n vasbyt-lewenstyl.
Baie suksesvolle beroepslui, soos Louis Luyt en Tony Factor, het disleksie. Dit is die gelukkiges wie se talente en belangstellingsvelde so baie met die disleksie oorvleuel dat dit verlammend inwerk nie, en mense wat duidelik oor buitengewone vasbyt beskik. As iemand, soos die uwe, (wil) skryf lol dit egter noodwendig. Dit gaan makliker met die Afrikaanse speltoetser, maar dit is nie volmaak nie en daar is geen manier waarop iets gepubliseer kan word, nie eens op die internet, sonder dat iemand anders dit eers geproeflees het nie. Vir internetpublikasie waar geld nie verdien gaan word nie, is so iemand nie altyd beskikbaar nie, en ek was al goed rooioor oor van die versrkilke splelings wat verewig geraak het.
Ander opsies is daar nie...'n gewas wat die stemband beskadig het maak dat ek met my vingers moet praat daai twee wat nie te duk is om mee te tuk nie.