Herrie se blog

 

Gedig vir die Christusfees

Gedig vir die Christusfees

Die lig daar ver van die blink Bethlehemster

Bring uit die Ooste wyse manne van ver

Na Bethlehem – Hy is dáár gebore

Vir 'n mensdom in sonde verlore

In die veld het herders by 'n engel gehoor:

"Moenie bang wees nie, julle moet die boodskap hoor

want ek bring nou goeie nuus vir julle

wat vreugde hierin gaan vind

die Redder is gebore vir hulle

wat redding vind in die Kind

In Bethlehem is Hy gebore

Die Redder van hulle verlore

Plotseling, 'n engeleskaar wat sê

Oor die kindjie wat daar in 'n krip lê:

"Glorie aan God in die hoogste

Hemel en vrede op aarde

vir die mense wat Hom behaag"

verhoog die koms van die Grootste

Bethlehem se koningswaarde

Wat sondeheerskappy vervaag.

Lank reeds is voorspel van hierdie voorloper

Die geboorte van Johannes die Doper

Wat die pad toe moes kom voorberei

'n stem roepend uit die woesteny

Hy het kom getuig oor die wonderbaar Lig

Maar hierdie Lig self, dit was hy beslis nie

Net om ander na die Vredevors te rig

Omdat die wêreld nie sy Skepper ken nie

So getuig Johannes oor Emmanuel God

"God met ons – uit Sy oop hand geskenk

op geskenk – veel meer as Moses se gebod

die waarheid en Lig om te gedenk"

Herman Toerien

Inligting oor Geloftefeeste 2009 asb

Die Ditsem Vrystaat wil graag kortliks die besonderhede van Geloftefeeste, veral in die Vrystaat, wat in 2009 plaasvind, publiseer.

Ons sal enige inligting soos die plek, tyd en wie gekontak kan word baie waardeer. Weet u van 'n Geloftefees in u omgewing, laat weet asseblief.

Hierdie inligting sal ook tot ander belanghebbendes se beskikking gestel word.

Baie dankie by voorbaat.

Herman Toerien

hermantoerien@iburst.co.za

Nuuskommentaar: Ineenvloeiing van gedagtes - groter realisme of pessimisme?

Nuuskommentaar: Ineenvloeiing van gedagtes – groter realisme of pessimisme?

Herman Toerien

Chris Louw se stelling vanoggend in Volksblad dat hy sukkel om iets positiefs oor die ANC te sê, staan nie in isolasie nie. Koos Kombuis het onlangs ook op sy aweregse manier verskoning gevra dat hy in ‘n stadium optimisties was oor die nuwe Suid-Afrika.

Max du Preez is nog iemand wat nou gereeld in sy aanslag soms bitter ver van links klink.

Aan die ander kant van die spektrum – as ‘n mens van so iets kan praat – is daar ‘n siddering oor waartoe kapitalisme kon ontwikkel. Die skokgolf het die Jan Publiek vierkantig tussen die oë getref toe een van die Amerikaanse makro-instansies wat staatshulp gekry het om kop bo water te hou, sommer dadelik miljoene dollar se bonusse aan sy grootbase gaan betaal het. Gelukkig het dit op internasionale skaal nie ‘n volkome omswaai na sosialisme teweeg gebring nie, bloot ‘n besef dat moraliteit beter verskans moet word. Planne in Nederland om bankbase vir onoordeelkundige verliese te laat pa staan is een manier, en regringsdokumente wat die strategie na ekonomiese herstel uitspel wat groot klem op moraliteit lê is nog een. Skielik klink prof. Sampie Terblache se stem nie meer so baie soos ‘n stem roepend in die woestyn nie.

Sou die eertydse linkse en kapitalistiese lyne nou na ‘n fokuspunt ingetrek word, kom ‘n mens klaarblyklik by ‘n punt waar ‘n moreelgebaseerde realiteit geld. Dit stem ooreen met ‘n breë stroming wêreldwyd, genaamd die moreelgebaseerde waardestelsel met partye soos Family First in verskeie lande. Dit is ook ‘n oorkoepelende raamwerk waarbinne Christen-demokratiese partye, asook Christelik Volkseie funksioneer, wat veral in Wes-Europa groot, en dikwels regerende partye is. Trouens, in hierdie stadium lyk dit asof die Europese Unie se eerste president uit hierdie geledere gaan kom.

Christelike vakbonde, soos Solidariteit hier te lande, het wêreldwyd miljoene lede en is ‘n beduidende faktor.

In Wes-Europa is juis enkele jare gelede reeds stem dik gemaak teen uitdrukkings soos links en regs in die politiek, of konserwatief en liberaal. Afgesien daarvan dat dit in verskillende omgewings verskillende betekenisse het, vereis volwasse demokratiese denke dat iemand sy standpunte oor verskillende sake binne ‘n sirkel van gedagtes kan uitdruk, eerder as vasgepen iewers op ‘n lyn wat van links na regs loop. Oor een saak sal ‘n persoon dalk dieselfde voel as die beleid van ‘n sogenaamde linkse party, terwyl hy oor ‘n ander saak dieselfde sal voel as die beleid van ‘n sogenaamde regse party.  

Pas het die ANC self laat blyk dat korrupsie sulke afmetings hier aanneem dat dit ‘n bedreiging vir die land inhou. Hoe die regering in die praktyk gaan optree, is ‘n hoofstuk vir ‘n ander dag.

Hoewel die swaartepunt van lewensuitkyk moontlik verskuif, sal daar altyd mense op die periferie wees. Hierdie mense sien met verbystering hoe ander, wat argumentsonthalwe saam op die Dakarsafarie was, hulle nou rondom die sogenaamd konserwatiewer kern bevind met sake soos moedertaalonderrig en die bereddering van Afrikaans op die Universiteit van Stellenbosch. Beskrywings wat as skeldname bedoel is, soos neo-konserwatief, word gebruik. In die proses besef hierdie gatvaste mense nie dat hul simplistiese, dikwels negrofilistiese sienings, nou reeds erg morgevreet is nie.

Die interessantheid is dat die Volkereg nog al die jare rondom die middellyn afgespeel het, en dat hierdie middellyn ook deur die grondwette van partye en state loop wat op die oog af so verskillend is soos dié van Indië en die regerende Duitse Christen-Demokratiese Unie.

Word die Vryheidsfront Plus se webwerf bestudeer, sukkel ‘n mens ook om iets te vind wat nie hiermee strook nie. In die praktyk, sal baie argumenteer, is die oriëntasie van baie ondersteuners waarskynlik weg van die hierdie sentrum.

Dit is te verwagte dat daar op die politieke spektrum teenwigte vir die Cape en Houghton Liberals sal wees.

Sonder periferie sou ons sonnestelsel immers nie planete gehad het nie ...

Nuuskommentaar: Xenofobie steeds met ons

Nuuskommentaar: Xenofobie steeds met ons
Herman Toerien

Die jongste gebeure by De Doorns waar xenofobiese geweld uitgebreek het is simptomaties van 'n sweer vlak onder die oppervlak.

Met Suid-Afrika se werkloosheidskoers, gevoed deur hemelhoë verwagtinge danksy verkiesingsbeloftes, verwag die breë gemeenskap vooruitgang en beter salarisse. Nie om te sien hoe buitelanders bereid is om vir die minimum lone baie hard te werk nie.

Dit is dan ook van die buitelanders se belangrikste verwere: Suid-Afrikaners verstaan nie werksetiek nie, en die spaza-bedryf teen wie baie meeding, verstaan nie die konsep van groter wins uit hoër omset nie, net maksimale wins per item deur onderlinge prysvaspennings wat in effek op die uitbuiting van die publiek neerkom.

Baie buitelanders, veral die Somali's op die Kaapse Vlakte, leer baie gou Afrikaans aan anders as die aankomelinge uit die ou Trans- en Ciskei, en doen daarom makliker sake met die honderde duisende Afrikaanssprekendes op die Kaapse Vlakte.

'n Stalletjiehouer op die boeremark in Langenhovenpark, Bloemfontein, was eendag verbaas om te hoor hoe 'n Nigeriër agter 'n wit klant wat sy beursie in sy stalletjie vergeet het, aanhardloop: "Oom!, Oom!"

Die reaksie is dikwels nie om selfondersoek te doen nie, maar om die bakhand- en uitbuitingsindroom te wil verskans – met geweld indien nodig.

Die verdere ironie is dat baie van die vlugtelinge in die land is weens die een of ander vorm van versuim van die regering. By De Doorns is baie van die vlugtelinge Zimbabwiërs, 'n tragiese gevolg van Suid-Afrika se versuim om in dié rampspoedige potensieel skatryk buurland in te gryp.

Talle het in die land gekom deur uiters gebrekkige grensbeveiliging wat hoegenaamd nie tred hou met die omvang van die bedreiging daarvan nie.

Dit is ook nie net vlugtelinge wat die land inkom nie. Uiters gewelddadige Pakistanse misdaadsindikate, Nigeriese dwelm- en prostitusiebase, en vele meer haal gereeld die nuus.

Dit is moeilik om te bepaal hoeveel mense die land onwettig binnegekom het. Selfoonverkoopsyfers dui aan dat heelwat meer selfone besit en gebruik word as die hoeveelheid mense wat amptelik in die land woon en normaalweg toegang daartoe behoort te hê. Syfers van etlike miljoene word gereeld genoem, heelwat meer as die amptelike werkloosheidskoers.

Ervaring in die verlede leer dat geweld in een gemeenskap dikwels 'n domino-effek deur die land het. Die land hou nou asem op.

Om bloot vir die bevolking te preek om nie xenofobie aan die dag te lê nie, beteken dadels. Die oomblik wanneer proteste om welke rede ook al, soos dienslewering, in geweld oorgaan, word die belange en eiendom van buitelanders dikwels skielik geteiken en opportunisties geplunder.

Uiteindelik is Suid-Afrika weer by die punt waar moraliteit en etiek te lank gerysmier is.

__________ Information from ESET NOD32 Antivirus, version of virus signature database 4615 (20091117) __________

The message was checked by ESET NOD32 Antivirus.

http://www.eset.com


__________ Information from ESET NOD32 Antivirus, version of virus signature database 4615 (20091117) __________

The message was checked by ESET NOD32 Antivirus.

http://www.eset.com

Sarie Marais se skrywer op 18 November 150 jaar gedenk



Sarie Marais se skrywer op 18 November 150 jaar gedenk

Dit is vandag (18 November) presies 150 jaar sedert Jacobus Petrus Toerien, beter bekend as Jepete, die eerste lewenslig in die Paarl aanskou het.

Hoewel Jepete veral onthou sal word vir sy aandeel in die neerpen van My Sarie Marais, was sy aandeel in die ontwikkeling van Afrikaans veel groter. Hy was veral in die eerste Afrikaanse taalbeweging betrokke as subredakteur van De Patriot, en danksy die bydraes wat hy vir Ons Klyntjie gelewer het.

Na hy na die Transvaal verhuis, en met Sarie Maré in die huwelik getree het, het hy hom later in Middelburg gevestig waar hy De Republikein gestig het wat ook onder sy redakteurskap gestaan het.

Hy het gedigte in Engels, Afrikaanse en Nederlands geskryf, en het aan die Anglo-Boereoorlog deelgeneem. Hy is in 1930 aan malaria oorlede.

Jepete se 150ste herdenkingsjaar val toevallig saam met die jaar waarin die ander bekende Toerien-digter, Barend J. Toerien, deur die Akademie vir Wetenskap en Kuns met ‘n medalje vereer is, en ook die jaar waarin Barend gesterf het.

‘n Vollediger artikel wat vroeër vanjaar in Beeld en in Die Volksblad verskyn het, en na Barend se afsterwe effens aangepas is, is hieronder.

Sarie Marais-skrywer 150 jaar gelede gebore

DIE man wat minstens ’n deel van seker die bekendste Afrikaanse volksliedjie My Sarie Marais geskryf het, is op 18 November 150 jaar gelede gebore. Jacobus Petrus (Jepete) Toerien se 150ste verjaarsdag word toevallig gevier in dieselfde jaar wat die ander bekende Afrikaanse digter, Barend J. Toerien gesterf het.

Jepete is op 18 November 1859 in die Paarl gebore, en word op jong ouderdom subredakteur van De Patriot, maar lewer ook bydraes vir Ons Klyntjie, wat albei in die Paarl uitgegee is.

Hy was baie aktief betrokke by die eerste taalbeweging, en hoewel hy hoofsaaklik in Afrikaans gedig het, het ook Nederlandse en Engelse gedigte uit sy pen gevloei.

In 1884, ’n jaar nadat hy na die destydse Transvaal verhuis het, tree hy met Susara Margaretha Maré in die huwelik wat as inspirasie vir die titel van die lied My Sarie Marais gedien het.

Sarie was die dogter van die Volksraadslid Jacob Maré wat aan die Mooirivier by Potchefstroom geboer het. Vandag heet ’n straat in Pretoria nog na hom.

In 1890 stig Toerien in Middelburg die koerant De Republikein wat sterk pro-republiek was.

Hy het aan die Anglo-Boere-oorlog deelgeneem, maar sy geldelike posisie het in die proses kwaai agteruitgegaan, veral nadat sy drukpers afgebrand het. Hy is in 1920 aan malaria oorlede.

Sy pro-Afrikaanse gesindheid blyk uit die volgende verwysing van hom na Het Dagblad, ’n koerant wat ’n pro-Engelse beleid voorgestaan het:

Afrikaner syn blad met jingoe syn gees,

Kyk maat, dis fieslik, dis naar om te lees...

Sy oeuvre is egter gewoonlik veel dieper as ’n ligsinnige gespot, soos die snede uit ’n Nederlandse gedig oor die Anglo-Boere-oorlog getuig:

Gy hebt gesien de stromen bloeds, de lyken op den grond,

De pas gedolven graven,

En als gy weer komt, brengt Hem den vrede

’n voorspoed mee

Waar naar ons hart, ons siel verlangt

W’ zyn moede van dien stryd.

NÁ Jepete se dood het Sarie haar in Bloemfontein kom vestig.

In 1937, twee jaar voor Sarie se dood, word sy deur ’n ongenoemde verslaggewer van Volksblad besoek.

Sy erken teenoor hom dat sy inderdaad die Sarie van die liedjie is – iets wat destyds taamlik wyd betwis is.

Sy stem tot ’n berig in, op voorwaarde dat die berig voor publikasie aan haar voorgelê word. Twee dae later, toe die verslaggewer haar vir die goedkeuring besoek, het sy egter van plan verander.

Kort voor haar dood laat Sarie ’n trommel verbrand, wat heelwat van Jepete se skryfwerk bevat het, en volgens aanduidings ook die oorspronklike Sarie Marais. Volgens navorsing van ’n broerskind van Jepete, ook JP Toerien, was Sarie nie gediend daarmee dat ’n lied wat aan haar opgedra is “goedkoop” oral gesing word nie.

Sarie se graf in Bloemfontein was tot enkele jare gelede ongemerk, maar is deur ’n projek van veral me. Joan Abrahams, bekende inwoner van die stad, opgespoor en van ’n grafsteen voorsien.

Uit die relatief klein erfenis van Jepete se skryfwerk wat vir die nageslag behoue gebly het, is dit duidelik dat Jepete groter taalkundige erkenning verdien, selfs al sou hy nie die skrywer van My Sarie Marais, of dele daarvan, wees nie.

BAREND J. TOERIEN HET die stukke wat hy vir die opstel van die Toeriens se stamregister bymekaar kon maak, na die voltooiing daarvan aan die Genealogiese Instituut geskenk. Dié “Sarie Marais-dossier” is weer aan Naln oorhandig. ’n Seleksie van Afrikaanse, Engelse en Nederlandse gedigte van Jepete is in die stamregister opgeneem.

Dit is dan ook ietwat interessant dat Barend Toerien, wat sedert die afsterwe van Elisabeth Eybers as die doyen van erkende Afrikaanse digters gereken is, juis vanjaar, met Jepete se 150ste herdenking, deur die SA Akademie met ’n medalje vereer is.

Jepete het van die eerste Toerien hier te lande se oudste seun afgestam, en Barend van die jongste.

Jepete en Barend was en is egter nie die enigste Toeriens met Afrikaanse ink in hul are nie. Die bekende Heine Toerien (van onder meer Die Mielieblaarklubfaam) het onder meer vir Groep Twee se Tussen Treine en Gé Korsten se Liefling gesorg, en het saam met nog ’n Toerien, Danie Toerien, vir verskeie van Beeld se Deurloop-rubrieke gesorg.

Heine se pa was die bekende Frank Toerien, wat onder meer assistent-redakteur van die Groot Afrikaanse Woordeboek was. Heine se seun, Blake, was weer bekend vir die musiekblyspele wat hy geskryf het.

Francois Toerien is nog ’n Toerien wat veral toneelstukke skryf, terwyl Ann Toerien, nou ’n impresario van Pretoria, bekendheid as kosresensent verwerf het.

Nog twee Toeriens skryf veral in Engels, Wendy veral oor wyn en Jane oor voëls. ) Herman Toerien is ’n vryskutskrywer, joernalis en rubriekskrywer van Bloemfontein.  

__________ Information from ESET NOD32 Antivirus, version of virus signature database 4615 (20091117) __________

The message was checked by ESET NOD32 Antivirus.

http://www.eset.com

Tannie Alida - die vrou met die hart vir gestremdes

Tannie Alida – die vrou met die hart vir gestremdes

Dink ek aan tannie Alida, dink ek tegelyk aan twee dinge; die allerlekkerste droëwors, sulke dikkes, en haar verstommende vermoë om gesigte vir dekades te onthou.

Nie net die gesigte nie, maar die fynste detail oor die persoon se lewe.

Gisteraand kry ek 'n SMS van boet Nic af: Neef Meyer het gebel en gesê tannie Alida het geval, en na twee operasies moet die familie hulle maar op die ergste voorberei.

Tannie Alida is my ma se ouer suster, en hulle is saam getroud – dubbeltroue.

Tannie Alida het eendag, jare na sy weduwee geword het, vertel van hoe sy oom Ben Wannenburg ontmoet en op hom verlief geraak het. Die diep blou oë, 'n jong wewenaar met twee seuns wat haar voete onder haar uitgeslaan het.

Oom Ben en tannie Alida het op 'n plaas by Hennenman geboer, en naderhand in 'n nuwe huis ingetrek. Dit was egter die ou huis wat soos 'n magneet getrek het, want op die ou verandastoep het daardie droëwors gehang om droog te word.

Kurkdroog soos wildsbiltong en so dik soos biltong, en is soos biltong gekerf.

Nog net twee keer in my lewe het ek op droëwors afgekom wat amper-amper soos daardie droëwors geproe het – 'n keer jare gelede toe ek by my sus in Durbanville gekuier het en 'n stafie droëwors by 'n straatkêffie gekoop het. Maar dit was nie die ware Jacob nie, baie dunner, en papnat van die vet. Dit kon ook buig.

Daarna het oom Jacob Naudé-hulle op die boeremark amper-amper dieselfde resep in hul droëwors gehad. Ek noem die Naudés spesifiek – nie oor oom Jacob my skoonpa se kleinneef is nie, maar omdat hulle toe ook Jacobsdal toe getrek het soos oom Ben en tannie Alida gemaak het.

Maar kleintyd was die kontak met die Wannenburgs meestal by die Bakke. Ons Toeriens het 'n kothuis – dis destyds gewoon 'n bungalow genoem – gehad, en die Wannenburgs ook een so 'n ent verder. Oom Ben het van Oudtshoorn se wêreld gekom, en die omgewing was in 'n sekere sin altyd sy wêreld. Vrystaatse familie kon nooit by hom byhou as hy met sy Ford Galaxy deur een van daardie passe gery het nie.

Tussen die Toeriens en die Wannenburgs se bungalows was oom Japie en tannie Max Brits se bungalow. Hulle het ook van Henneman gekom, en oom Japie se spesialiteit was weer sulke dik beesbiltonge wat hy so deur die loop van 'n kuier nadergetrek het, en met sy knipmes begin kerf en so skyfie vir skyfie aan die waterbek-gaste uitgedeel het.

Idilliese dae.

Oom Ben en tannie Alida se kinders het omtrent presies met dié van die Toeriens ooreengekom, en dit was 'n groot gespeel, sorgvrye dae om.

Toe word die bakke gesloop.

Maar daar was dae op die plaas by Hennenman ook. Afgesien van die hangende droëwors onthou ek spesifiek hoe ek een oggend kortbroek en kaalvoet op pad buitetoe was. In die sitkamer loop ek oom Ben raak.

"Ek dink jy moet skoene aantrek," sê oom Ben, en hy wys na die spierwit gerypte grasperk buite.

"Ag nee wat oom," sê die dom Boelandertjie, "by die huis loop ek altyd kaalvoet."

"Ja, maar dis die Vrystaat dié."

Slim vang sy baas en seker minder as 'n kwartier later is die uwe terug en word die blou voete gesool.

Intussen het ons Toeriens Vrystaters geword.

Van jongs af het ons gehoor van tannie Alida se verstommende vermoë om gesigte te herken, en dan sommer die persoon se hele lewe uit te spel. By geleentheid het ek dit self in aksie gesien.

Oom Ben se oudste seun, Tok, uit sy eerste huwelik was siek in die hospitaal, en die familie om sy bed saamgetrek. 'n Groepie mense stap verby, op pad om hul familielid te besoek. Skielik vlieg tannie Alida op, en loop die een vrou by:

"My hene Anna, jou op skool laas gesien."

Verbystering versprei oor Anna se gesig. Sy het geen benul wie die vrou is wat haar so herken nie, en nogal van skooldae af wat duidelik 'n hele paar dekades tevore moes wees.

En toe ontken die vrou dat sy tannie Alida ken. Dit, het my ma vertel, het nogal gebeur want hulle was in Ventersburg op skool, en van die mense wat later ietse geword het, het daardie nederige herkoms probeer wegsteek.

Fout.

"Ja, man, jy was Sarie en Koos se tweede kind en ons was nog saam by ou Pêre in die geskiedenisklas..."  

Die vrou probeer nog teenstribbel, maar tannie Alida ryg nog detail in die fynste besonderhede uit.

Toe is eers Tok oorlede, en nie lank daarna nie oom Ben self.

Mettertyd het tannie Alida se kinders op die uitsondering van Pieter na, Boland toe verhuis, en tannie Alida ook. Ons kontak het bitter min geword.

Later hoor ons tannie Alida het dalk bietjie Alzheimers, want sy begin nou vergeet.

Toe ontwikkel my ma demensie en tannie Alida se Alzheimer is bevestig.

Op 'n dag lui die telefoon. Dit is tannie Alida, en sy het eintlik bedoel om my ma te bel, maar toe bel sy per ongeluk vir ons.

"Bietjie Alzheimer," verduidelik sy.

Ek weer, staan verstom. Sy het ons seker meer as 'n dekade tevore laas gebel, en om dan net 'n bietjie deurmekaar te raak met die nommers is plein merkwaardig. Ek kan nie eens my eie selfoonnommer onthou nie, en dié het ek al baie jare.

Maar tannie Alida, ek kan dalk nie syfers onthou nie, en met gesigte is ek self pateties, maar so waar as wat ek leef, al is dit nog tweehonderd jaar, as ek aan daai dik droëwors op tannie se ou huis se stoep dink, water my mond nog spontaan.

Maar tannie moenie worrie nie, dis nie al waarvoor ek tannie sal onthou nie. Tannie se vertelling van die ontmoeting met oom Ben is ook in my geheue vasgeswys. Ook die kuiers daar in Kimberley waar tannie betrokke was by die terapie en versorging van gestremde kinders – al was van die "kinders" al middeljarig. Nou, as pa van 'n gestremde kind, besef 'n mens eers terdeë van hoe 'n spesiale mens tannie is om so 'n hart vir sulke kinders te hê.

__________ Information from ESET NOD32 Antivirus, version of virus signature database 4613 (20091116) __________

The message was checked by ESET NOD32 Antivirus.

http://www.eset.com

Nuuskommentaar: Regstellende aksie in die spervuur

Nuuskommentaar: Regstellende aksie in die spervuur
Herman Toerien

Regstellende aksie se Engelse naam, Affirmative Action, kan waarskynlik naatloos toegepas word wanneer dit ingespan waarvoor dit bedoel word – die beskerming van minderheidsregte. Dan maak dit immers deel uit van 'n belangrike volkeregtelike beginsel, naamlik die beskerming van minderhede wat in 'n gewone een mens, een stem-stelsel aan die kortste end sou trek.

Die beskerming van minderheidsregte en selfs die toestaan van selfbeskikking en wisselende vlakke van outonomie word in die meeste moderne grondwette erken. Dit word onder meer in die Europese Unie se grondwet vasgelê wat Turkye, wat graag lid wil word, reeds gedwing het om verreikende toegewings aan die Koerdiese minderheid te maak. Die Baske wat onder Franco se bewind erg onderdruk is, het in die moderne Spaanse staat aansienlike outonomie, terwyl Brittanje die Skotse en Walliese parlemente her-ingestel het.

Indië, op wie se grondwet Suid-Afrika s'n grootliks geskoei is, erken verskeie staatkundige minderheidsbelange, soos 'n aantal gereserveerde setels in die nasionale parlement vir die voor-Indiese inboorlingbevolking. Nieu-Seeland het weer 'n Maori-kongres,in die handel en wandel bekend as die Maori-parlement.  

Tog doen die staatkundige outonomie nie genoeg om werkplekdiskriminasie teen te werk nie. Maatreëls om hierdie skeeftrek teen te werk word dan in die grondwet ondervang, en in veral arbeidswetgewing uitgespel.

Juis omdat dit in die Suid-Afrikaanse grondwet gegrondves is – weliswaar as beperkende kwalifisering van die hoofbeginsel dat nie op grond van ras, etnisiteit, geslag en vele meer onbillik teen iemand gediskrimineer mag word nie – moet Suid-Afrika ingevolge die grondwet self sy oog op verwikkelinge in die buiteland hou. Die buitelandse regspraak wat in die oog gehou moet word, word volgens die grondwet nie beperk tot lande met 'n Romeins-Hollandse regstelsel nie, en die arbeidsreg in Suid-Afrika neem juis vele presedente vir uitleg uit die Engelse reg.

In die VSA, wat 'n hibride-vorm van die Romeins-Hollandse reg handhaaf, was daar vroeër vanjaar 'n insiggewende regstellende aksie-uitspraak in die hoogste hof. Dit het in wese daarop neergekom dat standaarde – in daardie geval by 'n brandweerstasie – nie verslap mag word ter wille van raskwotas nie. Noodsaaklike dienslewering op die vereiste standaard tel meer.

In Suid-Afrika, waar regstellende aksie ontwerp is om die meerderheid te bevoordeel, sou dit onverantwoordelik wees om die terminologie, affirmative action te gebruik omdat dit nepotisme of rasnepotisme in die hand kan werk.

Buitendien sluit die Suid-Afrikaanse arbeidsreg slegs nie-gestremde blanke mans van regstellende aksie uit.

In die geval wat nou deur Solidariteit hof toe geneem word is 'n blanke polisievrou bevordering geweier, terwyl arbeidswetgewing hierdie kategorie mense juis onder die bevoordeeldes van regstellende aksie uitlig. Die SAPD verweer hom op sy kwotabeleid. Geen wonder nie dat grondwetkenners soos Cachalia, Davis en ander verkies om ook in Engels na Corrective Action eerder as Affrimative Action te verwys.

Word egter na die grondwet self teruggegaan, is dit duidelik dat die grondslag vir regstellende aksie nie primêr kwotas, en allermins raskwotas, in die oog het nie, maar alle individue teen wie daar in die verlede onbillik gediskrimineer is. Hier is 'n grys area. Sedert 1994 – en eintlik in antisipasie op die nuwe bedeling toe poste gevries is voor 1994 – is reeds teen blanke mans gediskrimineer.

In watter stadium sou daar dan aangevoer kan word daar is in die verlede, dws sedert 1994, onbillik teen hulle gediskrimineer?

Regstellende aksie, en veral affrimative action, is ontwerp om minderhede te beskerm, en selfs daar moet die regstoepassing gereeld in die howe hersien word.

Dit is nie ontwerp om 'n meerderheid te bevoordeel nie, en lei tot talle ooglopende onbillikhede, in ooglopende teenstelling met die veronderstelde grondslag van natuurlike geregtigheid van die Suid-Afrikaanse regstelsel. In die huidige toepassing ontstaan die absurde situasie dat die kind van 'n swart magnaat wat die beste privaat skole en die beste universiteite kon bywoon, steeds weens vermeende onbillike diskriminasie in die verlede voor 'n wit kinderhuisseun wat deur deeltydse studies sy kwalifikasie behaal het, bevoordeel moet word. Teen dié agtergrond was die uitspraak voor 'n bruin gehoor van Tokyo Sexwale, 'n magnaat, dat hy sy bruin kinders ook nog die voordeel van affirmative action wil laat trek, uiters ongelukkig. Dit was egter as stemwerwery vir die betrokke gehoor bedoel.

Dit is egter noodsaaklik dat begin word met regsopruiming, en Solidariteit se huidige regsaksies is van die uiterste belang.

   

Nuuskommentaar: Iran knyp internet

Nuuskommentaar: Iran knyp internet
Herman Toerien

Op die oog af klink dit na nie veel om oor huis toe te skryf nie dat Iran 'n spesiale polisie-eenheid op die been gebring het om webtuistes wat hulle aan "bedrog, beledigings en die verspreiding van leuens" skuldig maak uit te snuffel en misdaad te bestry.

Daar behoort immers geen rede te wees waarom internetgebruikers van misdaad gevrywaar behoort te word wat die res van 'n bevolking nie beskore is nie. In Suid-Afrika het talle onskuldige mense reeds die slagoffers geword van internetstrooptogte op hul bankrekenings, laster via webwerwe wat in die buiteland gesetel is, is skoolmeisies wat op 'n sogenaamde sletlyste geplaas is, en terroriseer bloggoggas goedbedoelde blokbouers en vele meer.

In die geval van Iran skep dit egter rede tot kommer. Iran is op die Joernaliste sonder Grense se pervryheidsindeks 172de uit 'n moontlike 175 lande. Slegs Turkmenistan, Noord-Korea en Eritrea vaar swakker, en Iran het die ongewone prestasie behaal om selfs swakker as Kuba op die indeks te vaar.

Op die Verslaggewers sonder Grense, of beter bekend as Reporters without Borders, se webwerf is 'n spesiale hofie waarin bystand gevra word aan Iranse joernaliste wat na die buiteland gevlug het.

In Suid-Afrika het gerekende redakteurs reeds daarop gewys dat die inligtingsvloei op die internet dit vir koerante onmoontlik maak om selfopgelegde politieke korrekte perssensuur toe te pas of ter wille van eie agendas oor belangrike nuusgebeure te swyg. Die inligting vloei gewoon om die betrokke koerante, en die koerante sit dan met 'n geloofwaardigheidskrisis.

Verskeie Arabiese lande, oor die algemeen berug vir hul onverdraagsaamheid teenoor persvryheid, het ook al die internet probeer polisieër.

Iran, wat nie 'n Arabiese staat is nie, het na afloop van die jongste presidentsverkiesing, wat wyd geglo word gekook was, verbysterd gesien hoe die buiteland die keer ten spyte van 'n streng kontrole oor die media, skynbaar in detail van al die gekonkel en die optrede teen beswaarmakers bewus was. Moderne inwoners van Teheran het via Flicker doodgewoon verslag gedoen, en enige konvensionale inligtingskontrole nek omgedraai. Die meeste opposie-webtuistes is reeds verbied, veral dié wat aan die verslane presidentskandidate behoort het.

Waarnemers meen dat die internetpolisie se doel is om die opposisiestem stil te smoor, aangesien die internet een van die laaste middele was wat tot die opposisie se beskikking was.

Vanjaar is wêreldwyd reeds meer as 90 mense in hegtenis geneem omdat hulle inligting via die internet versprei het.

So jaloers word wêreldwyd oor die internet se inligtingsvloei gewaak, dat selfs uiters liberale lande se optrede teen byvoorbeeld kinderpornografie en kommunikasie tussen terreurorganisasies se selle uiters krities onder die vegrootglas geplaas word, en soms selfs uit beginsel regstreeks teengestaan word. Die vrees is dat 'n wet op die oog af vir een doel geskryf kan word, maar dan in die praktyk vir 'n ander toegepas word – tot nadeel van die demokrasie.   

Road map to Christian Democracy

Road map to Christian Democracy in South Africa
Herman Toerien

History, rather than ideology, probably has more to do with the fact that the political space of Christian Democracy in South Africa is vacant.

The fact is that approximately 80 percent of the population indicate that they are Christian, yet in political terms this is approximately the percentage of voters who vote for humanist parties such as the ANC and DA.

This is partially a New World feature, but also something reflecting the so called English speaking world.

In Britain politics are dominated by parties such as the Labour Party, the Tories end the Liberals. Across the English Channel, politics are in broad terms dominated by Christian Democracy and Social Democracy. History also has much to do with this reality, but the fixed patterns also came about by constituency based and proportional election systems. A constituency based MP basically only needed to ensure the voters in his area that he goes to church, and that was it.

In New World countries such as Australia, SA and Canada Christian Democratic parties as a general rule are small. In Germany, the Netherlands and Flanders, for e.g. the CDP's at present are the largest parties in the ruling coalitions.

In the Netherlands, the third largest party in the coalition is the ChristenUnie.

In the effectively two party system of the USA Christian democracy is active through lobbies with well defined policies, such as the four million paid up members strong Christian Coalition of America.

Although, in style and expression there are large differences between the large European CDP's and the New World CDP's, there are certain commonalities:

-          Based on family values, with the understanding that these should be good family values.

-          They are morality inclined, and therefore as a rule oppose matters such as abortion on demand.

-          Authority lies at the lowest possible level, the subsidiary principle. School governing bodies would thus be seen as extensions of the family, rather than the state and so effectively scrapping controversy on religious teachings in school.

-          The insight in a Bill of Human Rights is more developmentally orientated than humanist, and there is a stronger focus on minority rights.

-          "Welfare state" insights are more based on the Biblical principle of looking after the poor than had outs, and therefore much focus is placed on enabling the poor to earn a better living through work, and restoration of dignity.

It is often believed that Christian Democracy stems from Roman Catholic origins where the church stands central, with other spheres of life such as the state, branching out of the church. This may be true in some cases, especially from the Latin states and even Belgium where the formal links between Christian Democracy and the Catholic Church were severed only a few decades ago, but the Dutch CDA is described in literature as 'n "Protestant" party, and the majority of German CDU members are probably Lutheran. The Dutch ChristenUnie was born out of the Gereformeerd Verbond.

Christian Democracy is broadly defined in terms of two larger groupings, namely the morally based parties and the family based parties. In fact, when there was a split in the Australian CDP between the leader, Fred Nile, and his former more level headed deputy, Dr., Moyles, the latter joined the Family First party.

The South African reality is that the parties operating in the humanist field overcrowd a section of the pool, whilst the Christian Democracy side is effectively vacant. This is discussed in some length at http://fotostaatsentrum.posterous.com/the-death-bell-has-not-tolled-for-cope-not-ye

And

http://fotostaatsentrum.posterous.com/kreeftegang-vir-cope

and thus not repeated.

To rectify matters is what is more important, and this will be no easy task considering the general South African media orientation.

But some matters are more simplistic. Far too many CDP's in the New World have for various reasons developed dictatorship style one man leaderships. A lot of energy is spent on the fortification of this situation, including character murder of challengers. Leadership mistakes accumulate and the image of the party is tarnished. Even, from a distance, this is apparently what is happening in Australia where the party decided some time ago the leader will remain unchallenged until such time as he himself decides it is time to retire.

In South Africa the foot work was done very well to establish a party in the Christian Democratic sphere, as was amply demonstrated that when the party was launched, the policy framework and many more were effectively carbon copies of those found on the web sites of the Canadian and New Zealand Christian Heritage Parties, the Australian CDP, the Christian Coalition of America and the ChristenUnie.

The derailing probably came with a "Africanist course" in style and image, very strange and uncomfortable to main stream whites in the main stream, especially Afrikaans churches. These churches, simultaneously, over stretched the "autonomy of state and church" as reaction to a previous dispensation when these churches "supplied" the moral base for the previous (apartheid) dispensation.

The result is that it is OK to, on Sundays, attend the sermons of churches where abortions on demand are wrong, gambling is wrong, etc, but after church lock the Lord in church and be active in parties favouring abortions on demand and support the Lotto. It is even OK for the preachers themselves to overtly involve them with this schizophrenic behaviour by overtly supporting church members who become candidates, etc.

From a Christian democracy viewpoint, this literally allows church members to be active members of parties getting away with murder.  

There can be no doubt that Christian democracy in South Africa is not where it should be, especially as the largest parties also do not supplement in this role. (The DA tries to compromise by giving a freedom of choice to members on matters such as abortion, gay marriages, the death penalty etc, which is only feasible as long as the party is not a ruling party).

How should Christian Democracy go about to become the force it should be?

One of the most difficult tasks would be to portray the "should be" position through the media. What springs to mind is the American study indicating the average American journalist to be more liberal than the average American. The SABC (and other media) seldom or ever refer to Angela Merkel's party as a Christian Democratic party, but to the party as 'n "conservative party".

Very few South Africans are aware of the fact that South Africa is, in terms of modern politics, actually "backward" through the vacancy of the Christian Democratic option. Marketing principles dictate that people must first know that a product exists before a need for the product can develop.

The South African media are almost void of the international rumblings on the "morality in the media and with politicians."

Several political parties in South Africa have made several expressions on corruption and a lack of morality, but this is based on (opportunist) policy, rather than enshrined principle, as is the case with Christian Democracy.

Local parties also find it difficult to portray their "linkage" to a large world movement as the largest parties are also ruling parties, and thus bilateral contact with South Africa are with the ruling party. Not enough had been done to build strong ties when for e.g. the CDU was in opposition. The reasons vary from uncomfortableness with Europe, especially outside the UK, but also a local stance of the larger CDP's (the so called People's Parties, not being "Christian enough." Yet, the building of relations with the European Christian Party Movement (ECPM) spearheaded by the ChristenUnie, is also mostly severely neglected. The result is that South African voters perceive Christian Democracy as something small, and heavily divided, and often with some ridiculous statements by a little dictator.

It will be no easy task to scramble together the host of CDP's in South Africa, and various personal end complicated reasons exist for this. Efforts by well meaning institutions to mould together the combined force, will be very difficult.

It seems as though a fresh initiative is needed, large enough to create the required profiling, starting with a well based and balanced policy, a conference under non aligned chairmanship such as people of the calibre of the stature of Desmond Tutu and FW de Klerk…

A lot of forgiveness is outstanding, but so is remorse, the prerequisite for real forgiveness.

 

Herrie se kerrie: Wat het Suid-Afrika voor grondpaaie gehad?

Herrie se kerrie: Wat het Suid-Afrika voor grondpaaie gehad?

Daar is goeie en slegte nuus oor die Vrystaatse paaie.

Die slegte nuus is dat dit sleg gaan met Vrystaatse paaie.

Die goeie nuus is dat die AA in 'n verslag sê die probleme sal oor dertig jaar (nou is dit nog net 29 jaar) opgelos wees, want teen die huidige tempo van onderbefondsing, sal daar dan nie meer paaie in Suid-Afrika oor wees om oor te bekommer nie.

Hoe dan gemaak, weet Herrie nou nie mooi nie, want Transnet bespaar skynbaar steeds deur spoorlyne op te breek en te verkoop.

Spoorlyne, ter wille van die jongklomp, is sulke lang ysterstawe waarop daar eens op 'n tyd treine geloop het.

Ag, en sal pa of ma tog verduidelik wat die verskil tussen 'n soustrein en 'n regte trein is? Weens min plasingsruimte kan Herrie nie hiermee ook nog uithelp nie.

Swak paaie, anders as wat baie mense dink, dateer nie net uit die post 1994-bedeling nie. Toe die nuwe regering destyds besluit het die naam "Oranje-Vrystaat" is onaanvaarbaar, het 'n slimjan in 'n brief aan Volksblad die volgende insiggewende naam voorgestel: Potholes.

Herrie verstaan nie hoekom hierdie voorstel nie die pyp gerook het nie, synde die nuwe regering dan so danig met die Engels is.

Nietemin, lees 'n mens die geskiedenis, kom 'n mens agter hoe belangrik eers paaie – wat weinig meer as ossewaspore was, toe spoorlyne, en later weer paaie was. Ouma Meyer het vertel van die skande jare gelede toe besluit is watter pad uit Bloemfontein moet eerste geteer word. Die keuse val toe op 'n pad by 'n klein dorpie verby na nog 'n klein dorpie. So 150 kilometer buite Bloemfontein en so 20 kilometer voor die tweede klein dorpie, daar stop die teerpad. Heel toevallig by die afdraai na 'n minister se plaasopstal.

By geleentheid kom meld Petrus by Herrie aan – 'n ou man wat in die week op 'n plot werk, en Saterdae dan met sy verbluffende kennis Herrie se tuin kom regruk.  

Petrus kom uit 'n vooraanstaande familie. Sy ouers was boere. Hulle het uit die grond geraak toe die vorige regering swart kolle "opgeruim" het, en Petrus se ouers besluit toe om die geld te gebruik om 'n wa en span osse te koop en transportryers te word.

Toe, op 'n dag, trek die span deur 'n drif toe die rivier skielik afkom. Toe het Petrus se ouers nie meer die plaas nie en ook nie meer die span osse en die wa nie, en Petrus het arm grootgeword.

Gelukkig is daar ook baie mooi transportrystories.

Met 'n landboukongres by Rustenburg so 'n klompie jare gelede, vra 'n moedelose boer uit die Molopo wat Suid-Afrika voor teerpaaie gehad het.

Teerpaaie, antwoord hy toe self. In die Molopo, het hy beduie, hou nie eens 'n viertrek nie. Hulle sit met produkte op die plase wat by die graansuiers en markte moet uitkom, maar daar is nie 'n manier om dit oor daardie "paaie" vervoer te kry nie.

By geleentheid het Herrie self 'n spaarwiel van 'n bakkie verloor toe die pad tussen Heilbron en Frankfort meer gat as pad was.

Die LPW wat 'n jaar of wat gelede in die Vrystaatse Wetgewer vertel het hoe dronkbestuurders nou snags geïdentifiseer word, was nie heeltemal oorspronklik nie, maar dit was darem snaaks.

Verduidelik hy, in die ou dae is die kar waarvan die ligte slinger-slinger aangekom het, afgetrek, want hy is gesuip. Nou word die ou wie se ligte reguit aankom afgetrek, want hy is te gesuip om vir die slaggate uit te swaai.  

Nou ja, van paaie en dronkies gepraat. By geleentheid val 'n paar spoke 'n moeilike dronkie lastig: "Gate toe!" bulder hy op die spoke.

Herrie het 'n sluk of twee witblits-versnit geneem en bulder: "Spore toe!" Op die spore wat nog nie vir skrootyster verkoop is nie.   

__________ Information from ESET NOD32 Antivirus, version of virus signature database 4607 (20091114) __________

The message was checked by ESET NOD32 Antivirus.

http://www.eset.com


__________ Information from ESET NOD32 Antivirus, version of virus signature database 4607 (20091114) __________

The message was checked by ESET NOD32 Antivirus.

http://www.eset.com