Herrie se blog

 

Onderweg na die Gelofte

Herman Toerien

Onderweg na 'n Gelofte: Deel 1

In Piet Retief se manifes wat hy in die Grahamstown Journal gepubliseer het word die redes vir die Groot Trek aangedui. Die redes kom baie met dié van vandag ooreen: Misdaad wat plaasmoorde insluit, owerheidsoptredes wat behoorlike selfverdediging moeilik maak, die blaam wat op 'n onregverdige wyse op die boere gepak word met die gevolg 'n land waarin daar geen vooruitsig meer bestaan op die geluk of vrede van hul kinders nie.

Die mite dat die boere getrek het omdat slawerny afgeskaf is, word ook in die manifes belig: In die land waar hulle gaan bly sal regverdige beginsels van vryheid gehandhaaf word en geen slawerny sal geduld word nie. Hulle sal geen volk beroof of lastig val nie, maar indien hulle aangeval word sal hulle nie aarsel om hulle teen elke vyand te verdedig nie. Misdaad sal onderdruk word en daar sal 'n behoorlike werkgewer – werknemerverhouding wees.

Retief se manifes is ook deurdrenk met sy geloof in God.

In feitlik identiese omstandighede as wat Retief skets, tree Afrikaners vandag verskillend op en dit kan gesien word nie net aan waar oral in die wêreld vandag Afrikaans gepraat word nie, maar in welke verskillende politieke partye Afrikaners hulle vandag bevind.

'n Gemene deler van hierdie mense is dat hulle, soos Retief, glo wat hulle doen is in die beste belang van hul kinders. Geen ouer wil hê sy kind moet vermoor, of op 'n ander wyse die slagoffer van misdaad word nie. Hy wil ook sien dat sy kind die geleenthede waarvoor die ouer hard gewerk het kan benut, en nie die slagoffer word van die vrypas wat 'n ander oor sy kleur of politieke affiliasies kry nie.

Die Afrikaner is vandag weer op trek. Soos destyds met die verskillende trekgeselskappe waarvan sommiges hoogs riskante trektogte die onbekende ingevaar het, is daar vandag ook trekke in verskillende geografiese en geestelike rigtings. Een trekgeselskap het in geheel weens aanvalle en malaria en ander onbekende siektes verdwyn. Soos destyds sit heelwat van die onderskeie leiers nie langs dieselfde vuur nie.

Wat hulle in gemeen het was hul geloof in God en die wete dat hulle anders is – soos Retief dit gestel het – aan heilige grond gebind is.

Ongeag die benadering wat Afrikaners vandag volg, moet hulle kennis neem van die lesse uit die geskiedenis, en die vernaamste les is: Ongeag hoe sake dan lyk, vertrou in God en soek om Sy wil te doen.

Aanloop tot die Gelofte, Deel 2

As Afrikaners vanjaar se nuuswaardighede in oënskou moet neem sou die misdaadsituasie, Malema se woeste uitsprake en die komende sokker-wêreldbeker sekerlik uitstaan. Die kritiek waaronder boere opnuut vir onder meer die sogenaamde mishandeling van hul werkers moes deurloop het egter ook baie aandag getrek. Die hoof-aanhitser was voorheen 'n adjunk-minister wat Afrikaans as huistaal gebruik het.

Dat die bewerings slag om slag weerlê is, het die adjunk-minister egter nie verhinder om by herhaling sy aannames op te rakel nie.

Vir die voornemende Trekkers was dit nie anders nie. Andries Stockenström, wat as luitenant-goewerneur die goewerneur in die grensgebied verteenwoordig het, het ook verslag op verslag oor die verslegtende omstandighede ontvang, en tog die boere gemaan om nie die, soos hy dit gestel het, dwaasheid van die trek aan te pak nie.

Veel erger was egter die invloed van veral sendelinge, waarvan baie niks anders as negrofilistiese menseregteaktiviste was nie. Soos daar vandag gereeld gehoor moet word dat swart mense per definisie nie rassiste kan wees nie, is die indruk destyds ook gewek dat nie-wittes eers gelyk sou wees wanneer hulle meer gelyk as die wit bevolking sou wees. Die edel barbaar kon per definisie nie 'n voet verkeerd neersit nie. Vanuit hierdie geledere is die een smeerveldtog na die ander op die boere geloods, en omdat dit uit sendeling-geledere gekom het, is dit dikwels oorsee geglo.

Hierdie situasie sou 'n volk in wording waarvan die Christelike godsdiens nie so kernagtig gewortel was nie, se geloof laat wankel het.

Die werklikheid het ietwat anders gelyk. Louis Trichardt, byvoorbeeld, het op grond geboer wat hy van die Xhosa-hoofman, Hintsa gehuur het. Hy het eers hier verkas toe daar oorlog tussen Hintsa en die Britse regering uitgebreek het.

Verder was die Trekkers geen barbare nie. Trichardt het byvoorbeeld behoorlik dagboek gehou, maar die duidelikste demonstrasie dat dit hier om beskaafde mense gehandel het, was die sentrale plek wat die Bybel ingeneem het. So skryf die reeks, Drie Eeue, oor die voorbereiding vir die Trek: Die gereelde daaglikse huisgodsdiens is van baie groot belang en het die trekkers bewaar van verval. Dit is die grondslag van hul beskawing....In die huis neem hierdie boek die ereplek in, en op die trek sal dit ook nie minder die geval wees nie."

Die impak van die sendelinge was egter so groot dat die eerste grondwet wat die Trekkers in 1837 aangeneem het, onder andere bepaal het dat hulle niks te doen sou hê met Engelse sendelinge nie. Piet Retief is by dieselfde geleentheid tot goewerneur verkies, en Erasmus Smit, eintlik 'n arm en sieklike sendeling, tot predikant van die trekkers. Met sy inhuldiging het Retief onder meer gesweer dat hy die Christelike geloof sou beskerm.  Hierdie onderneming kwalifiseer ook as Gelofte, en kan in baie opsigte as voorbereidende Gelofte beskou word vir die een wat Afrikaners op 16 Desember herdenk.

Die integrale deel van 'n kerkleier in die Boere se vryheidstrewe het later ook geblyk toe die Vrystaatse regering op die slagveld tydens die Anglo-Boereoorlog uit 'n driemanskap bestaan het – pres. M.T. Steyn, genl. Christiaan de Wet en Vader Kestell.

Dat die gelowige trekkers hulle in 'n situasie van nood 'n Gelofte sou maak, was 'n feitlike onvermydelike. 

Net so belangrik is dit dat Afrikaners vandag steeds, ongeag al die aanslae, hul Christelike geloof koester en aan hul nageslag oordra – maar ook nooit die sendingtaak versaak nie.

Die Gelofte: Deel 3

Wanneer aan die slag van Bloedrivier gedink word, word aan 'n stryd teen 'n oormag gedink. In die Voortrekkerlaer was 468 Voortrekkers, drie Engelse onder wie Alexander Biggar wat die dood van sy seun kom wreek het, sestig swart soldate van Biggar en 'n onbekende aantal bruin en swart bediendes. Die swart soldate is blykbaar deur die Engelse in Port Natal as skerpskutters opgelei om deur jag die nedersetting van vleis te voorsien. Die bediendes het ook 'n noodsaaklike rol vervul omdat elkeen van die Voortrekkers 'n paar voorlaaiers gehad het, en die bediendes kon help laai.

Aan die kant van die Zoeloes het sowat tienduisend vegters aan die aanval deelgeneem.

In die aanloop tot die slag is die Voortrekkers van verskeie van hul leiers gestroop – Piet Retief wat saam met sy afvaardiging deur Dingaan in sy hoofstat vermoor is, Piet Uys wat saam met sy seun, Dirkie, dapper teen 'n oormag ondergegaan het, en Gerrit Maritz. Andries Pretorius het pas uit die kolonie by die Trekkers aangesluit, en is tot Hoofkommandant verkies.

Pretorius het dadelik improvisasies ingevoer, soos om 'n aantal waens saam te neem wat as forte kon dien eerder as die kwesbare perdekommando's. Veghekke is ook aangebring, sodat daar nie elke keer doringtakke gekap hoef te word nie. Die veghekke het dit moontlik gemaak om in 'n oop terrein wat sonder doringbome was die finale slag te lewer, waar die Voortrekkers die vyand oor 'n lang afstand kon sien aankom.

In die aangesig van so 'n oormag, het die Trekkers die Gelofte afgelê.

Ook vandag ervaar Afrikaners die sensasie van 'n oormag. Om enkeles toe noem: Die grondwet waarborg taalregte, maar Pansat, 'n taalwaghond ingestel ingevolge die grondwet, hou steeds vol dat die owerheid self die grootste oortreder van die taalbepalings is. Die ANC se leiersverkiesings wat in beginsel ook die land se nuwe president oplewer, word ewe-eens dikwels met agteloosheid begroet.

Hoewel daar Afrikaners lid van die ANC is nie, sal hulle 'n onbeduidende invloed binne dié organisasie uitoefen. Menslik gesproke, teen so 'n oormag en 'n beleid van regstellende aksie is die Afrikaner tot ondergang gedoem.

Vandag mag Afrikaners in politiek en staatkunde verskil oor wat in die beste belang van die volk is – maar daar moet noodwendig een gemene deler wees – die geloof en vertroue in God.

Al het Pretorius skitterende krygsvernuf aan die dag gelê, kan die Goddelike ingryp nie misgekyk word nie. Op sy eenvoudigste, toe die Voortrekkers sowat 3 000 van die tienduisend aanvallers doodgeskiet het, was hul ammunisie bykans op. Sou die aanvalsmag nie op die vlug geslaan het toe Pretorius 'n groep ruiters uitgestuur het om hulle op die vlug te laat slaan nie, kon die laer sonder ammunisie voor 'n oormag wat steeds groot was geval het. Die lanterns wat Pretorius aan lang stokke buite die laer laat vasmaak het, het die nag in die mistigheid 'n spookagtige effek gehad wat die Zoeloes laat besluit het om in die dag aan te val – waar hulle oor 'n groter afstand maklike teikens was.

Die geskiedenis leer dat Christene nie altyd kry wat hulle in daardie stadium gedink het die beste belang van God sou dien nie. Die Christene wat in Nero se tyd en ander tye van vervolging as martelaars gesterf het kon stellig nie destyds verstaan waarom dit moes gebeur nie. Vandag kan teruggekyk word en gesien word dat dit moes gebeur om Christene uit hul gemaksone te haal en die wêreld in te versprei om die evangelie te versprei. 

Sonder 'n vaste geloof in God sal enige volk wat onder druk kom in wanhoop verval. Met God kan die volk hom op sy Skepper beroep. Nie net kan nie, hy moet bid sonder ophou. Die volk kan selfs duursame Geloftes maak sonder om God te probeer afpers om te maak soos ons wil hê Hy moet maak.

Hiervoor het Christus self aan ons die voorbeeld gestel: As dit U wil is, laat hierdie beker by My verbygaan. Maar nogtans nie My wil nie, maar laat U wil geskied.  

Dit beteken egter nie ons is fatalistiese passasiers op ons lewenspad nie. Met God aan my sy loop ek immers 'n bende storm. Dan ken ons geen oormag teen ons nie.

Ons durf nie uit die oog verloor dat God ook aan ons beloftes maak nie. God bewys immers liefde tot in die duisendste geslag van die wat Hom liefhet en Sy gebooie onderhou. En soos ons uit Retief se manifes voor sy vertrek uit die Kolonie gesien het – die Voortrekkers het gedink in terme van wat hulle geglo het die beste belang van hul kinders - hul nageslag – sou wees.

Die Gelofte en vandag – Deel 4

As 'n mens vandag na die kalender sou kyk, is daar behalwe op die kalenders van sommige kerke, geen Geloftedag meer op aangedui nie. In die plek daarvan staan Versoeningsdag.

Beteken dit dan dat Geloftedag self ook nie meer bestaan nie? Die blote feit dat ook Hemelvaartdag op die kalender van 'n sekulêre staat verdwyn het, beteken egter nie dat daar geen Hemelvaartdag meer vir Christene is nie.

Trouens, dit is 'n oop vraag of die Kersfees wat ons vandag in Suid-Afrika ervaar, en toenemend met 'n "Happy Holidays" op TV en elders gevier word, iets met die Christene se Christusfees gemeen het. Trouens, ons hoor al meer dat om Christus aan Kersfees te koppel, aanstoot aan nie-Christene gee. So word die Christen-Afrikaner al hoe meer 'n vreemdeling in sy eie land.

Enkele jare gelede, ingevolge 'n gebruik in die nuwe Suid-Afrika, het Versoeningsdag se vakansiedag op die 17de geval, omdat die 16de op 'n Sondag geval. Die ironie is dat die opstellers van die Gelofte juis met hul siening van viering soos 'n Sabbat, die Sondaggebruike in gedagte gehad het.

Trouens, die slag van Bloedrivier het op 'n Sondag plaasgevind ongeag die Trekkers se pogings om nie die slag op 'n Sondag te laat plaasvind nie.

Ons keer weer vlugtig na Retief se aflegging van sy eed as verkose goewerneur van die Voortrekkers terug. Benewens sy eed dat hy die Christelike geloof sou aanhang en deel van die Voortrekkerstaat sou maak, het hy dit ook gekwalifiseer met die Kategismus en geloofsartikels van die Nederduits Gereformeerde Kerk.

Om gereformeerd te wees, beteken om deurlopend die Wil van God in die lig van die Skrif te soek. Dit is 'n onvoltooide proses. Dit is dus heel gepas dat ons elke jaar Skrifgetrou bestekopname oor hierdie belangrike dag doen.

Trouens, die gebruik om dit jaarliks te gedenk het eers van 1864 af, toe die eerste volksfees op die terrein gehou is, posgevat.

Wat binne gereformeerde tradisie onveranderd bly, is die afhanklikheid van en geloof in God, en daarom gehoorsaamheid aan God. Dit is niks anders nie as om met God te versoen.

Die Christen – as uitvloeisel van die opsomming van die Tien Gebooie, verstaan dat liefde vir die medemens onvolledig is as die liefde vir God ontbreek. Daarom, so glo die Christen, is nie net Versoeningsdag nie, maar elke dag en veral die Christelike dae, Versoeningsdag.

Hierdie gedagte staan ook nie in teenstelling met die Gelofte of die slag van Bloedrivier nie. In die laer het immers wit, swart, Voortrekker en Engelsman naas mekaar teen die uitdelgingsmag van Dingaan geveg. Ouer bronne dui aan dat daar ongeveer 450 swart en bruin mans in die laer was, amper net so veel as die Voortrekkers self. Hoewel die mag van hierdie moordmasjien nie met die slag van Bloedrivier vernietig is nie, het die veiligheidsituasie in Natal en elders so verbeter dat talle ander swart stamme wat daar vervolg is, uit hul skuilplekke gekom het. Een bron beskryf dit selfs as dat hulle uit hul gate gekruip het, so vreesbevange was hulle vir Dingaan se moordende impi's.

Indien Geloftedag gestroop word van die politieke misbruik waaraan Geloftefeeste dikwels met ellelange politieke toesprake misbruik is, bly 'n blink diamant vir die Afrikaner oor. Dit maak die Afrikaner een van min volke wat sy lotsbestemming met 'n Gelofte aan God gebind het. Dit is geen las nie maar 'n kosbare snoer.

In 'n land waar die Oppergesag van God nie in die grondwet erken word nie, beteken dit allermins dat 'n volk ook sy lotsbestemming volledig op menslike skeppinge moet toevertrou. Net meer as vyftig jaar gelede het Amerikaanse Christene daarin geslaag om die woorde "In God we trust" op onder meer hul geldnote te laat aanbring, iets wat nie-Christene bitter ongelukkig stem.

   Die Gelofte beteken vir die Afrikaners dat hulle op hul harte geskryf het: Ons vertrou op God.

Om dapper te wees, beteken immers nie dat mens geen vrees ken nie. Dapperheid beteken om vrees te ken maar dit te oorwin. Net so beteken vaste geloof om terugslae te ervaar en selfs tot die dood toe beproef te word, maar steeds nie in geloof te wankel nie.

Die Gelofte

My broers en mede-landgenote, hier staan ons nou voor 'n heilige God van hemel en aarde om 'n Gelofte aan Hom te maak, as Hy met Sy beskerming met ons sal wees, en ons vyand in ons hande sal lewer sodat ons hulle oorwin; dat ons elke jaar hierdie dag as dankdag soos 'n Sabbat sal deurbring, en dat ons 'n tempel tot Sy eer sal oprig waar dit Hom behaag, en dat ons dit ook aan ons kinders sal vertel dat hulle met ons hierin deel ter gedagtenis aan die toekomstige geslagte. Want die eer van Sy Naam sal hierdeur verheerlik word, en dat die roem en eer van die oorwinning Hom toekom.

Geloftefeeste 2009 tabel

Enige inligting vir die tabel na hermantoerien@iburst.co.za  

Geloftefeeste 2009

Plek

Leraar / spreker

Tyd

Kontak

Bloemfontein: Bron van Herinnering en Vrouemonument

Ds. Gert Terblanche

Ds. Danie van Zyl

07:30

09:00

Sam de Klerk

051-446 1899.

Heilbron, Vegkop

Ds. Kobus Hamman

Jackie Grobler

08:30

Theuns Volschenk           

083  537  8280

Vredefortwegkonsentra-siekamp en kerkhof

Prof. Sybrand Strauss

Willie Smalberger 0823880398.

Paardekraal Feesterrein

Ds. C. Jooste

06:00

At von Well by  082-348-3828

Bloedrivier

Ds. Danzfuss

Mnr. Flip Buys

06:00

Boetman Duminy - 083 659 3843

Wimbledon VK

Hillside Church Hall

10:00

Wynand Kruger

+44783 506 3964

__________ Information from ESET NOD32 Antivirus, version of virus signature database 4634 (20091124) __________

The message was checked by ESET NOD32 Antivirus.

http://www.eset.com

Wilders in Turkse wildernis?

Wilders in Turkse wildernis?

Terwyl Wes-Europa nog langtand herkou aan die gedagte om Turkye lid van die Europese Unie te maak, het 'n nuwe herrie losgebars. Turkye het met ontsteltenis kennis geneem daarvan dat die omstrede politikus, Geert Wilders, ingesluit is in 'n afvaardiging van die Tweede Kamer wat oor die Kersreses 'n werksbesoek aan Turkye wil bring.

Die Turkse regering het egter heftig beswaar gemaak en Wilders 'n fascis en rassis genoem. Die regering wys ook daarop dat hy niemand binne die regering kan vind wat met Wilders 'n woordjie wil wissel nie, en ook niemand onder die nie-regeringsorganisasies. Die woordvoerder, wat nie sy stellings op TV wil herhaal nie om te demonstreer dat Wilders nie ernstig opgeneem word nie, het bygevoeg dat dié politikus se insluiting in die afvaardiging as provokasie beskou word.

Terwyl die Turke die insluiting van Wilders as provokatief beskryf, het die Kamerkomissie vir Europese Sake wat die besoek reël, ook voet dwars neergesit en aangedui dat die hele afvaardiging gaan, of daar is geen besoek hoegenaamd nie. Bron: Trouw

Many Americans go hungry

Many Americans go hungry

More than 14 % of US families – 17 million households – struggled to put food on the table last year, reports Time. Quoting a USDA report, Time reports 7 million households skipped meals or experienced disrupted eating patterns. In most households adults went without food to shield children from hunger, but half a million families reported that their children were also affected.

Beheptheid met middelmatigheid eufemisme van die dekade

Nuuskommentaar: Beheptheid met middelmatigheid eufemisme van die dekade

Hermn Toerien

‘n Stelling wat gereeld gemaak word is dat die regering ‘n beheptheid met middelmatigheid het.

Om die vlakke van dienslewering, en in die besonder munisipale dienslewering, as middelmatig te beskryf word nie deur die werklikheid gereflekteer nie.

Dis swak.

Die verslae van die ouditeur-generaal oor die stand van sake in munisipaliteite is reeds genoeg bewys dat die woord “middelmatigheid” hier ‘n erge eufemisme is.

Tog verklaar die Vrystaatse premier dat die vlakke van dienslewering in dié provinsie goed is, en dat die inwoners tevrede is daarmee.

Sy woorde is skaars geuiter of sy eie tuisdorp, Parys, se munisipaliteit, moet in die hof in Heilbron redes aanvoer waarom ‘n bestraffende kostebevel nie teen ampsdraers van dié munisipaliteit gemaak moet word nie, na die munisipaliteit bloedneus ‘n rondte in die hof gekry het nie. Dié hofsaak, wat deur die Heilbron-belastingbetalersvereniging aanhangig gemaak is, het beslis nie uit tevredenheid met dienslewering gevloei nie.

Die munisipale onluste in onder meer Harrismith, Boshof en Jagersfontein ook nie. Trouens, volgens Municipal IQ was daar vanjaar landswyd ‘n skerp toename in onrus oor munisipale dienslewering, met die Vrystaat wat persentasiegewys meer as sy deel van die onluste beleef het.

Boonop verskyn amptenare en oud-amptenare van die provinsie se naasgrootste stad, Welkom, op kriminele aanklagte in die hof wat weens die Matjabeng-munisipaliteit se hantering van die stad en omgewing se rioolwerke. In ander munisipaliteite is siviele hofbevele hieroor teen Vrystaatse munisipaliteite verkry.

Die Vrystaatse bloudruppel-status word op enkele uitsonderings as skrikwekkend beskryf.

In die Vrystaatse hoofstad gaan dit nie beter nie. Ter demonstrasie, die geval van ‘n stormwater-inlaat se deksel wat deur ‘n swaar voertuig op ‘n sypaadjie stukkend getrap is. Dit is deur ‘n lid van die munisipale wykskomitee behoorlik gerapporteer, en gerapporteer en gerapporteer. Na meer as ‘n jaar het die meegaande foto in ‘n koerant verskyn, en na nog meer as ‘n jaar gaap die gat steeds op die sypaadjie. In hierdie tydperk het die Mangaung-munisipaliuteit ‘n hofsaak verloor na ‘n vrou in ‘n oop mangat op ‘n sypaadjie geval het na die deksel vir skrootyster gesteel is.

Magashule se opmerking plaas nuwe betekenis aan sy woorde by ‘n Salga-kongres dat onbevoegde en korrupte munisipale bestuurders en burgemeester die trekpas gaan kry. Hy is destyds uitgelag.

Hy het hierna laat blyk dat sy LUR’e wat nie die mas opkom nie, ook die trekpas gaan kry, en die getal van drie is selfs genoem, sodat die media bespiegel het watter drie hierdie lot te beurt gaan val.

Uiteindelik, so lyk dit, is vakke van dienslewering wat Magashule as bevredigend beskou, nie juis teksboekvoorbeelde van bevredigend nie. Trouens, om hierdie vlakke van dienslewering aan ‘n beheptheid met middelmatigheid te beskryf, kom op politieke korrektheid in die oortreffende trap neer.

Dit sal Suid-Afrika loon om die oog op die telbord te hou. Die debakel rondom Collins Chabane se aanwending van sy amptelike kredietkaart word veral geaksentueer deur die feit dat hy die staat se beoogde optrede teen korrupsie moet orkestreer.

Julius Malema het weer gesorg dat die kollig op hom val deur te verklaar landbougrond is van swart mense gesteel.

Brittanje het ‘n amptelike waarskuwing aan sy burgers uitgereik dat hulle tydens hul Fifa-besoek in Suid-Afrika gekaap kan word.

Fifa hou in Desember ‘n buitengewone vergadering.       

Vrou met hart vir gestremdes sterf

Vrou met hart vir gestremdes sterf

Tannie Alida Wannenburg, voorheen van Hennenman en Jacobsdal, is op 84-jarige ouderdom in die Boland oorlede.

Tannie Alida, wat self baie kunstig was, het allerlei vaardighede aan gestremdes geleer.

Volledige artikel oor haar by http://fotostaatsentrum.posterous.com/tannie-alida-die-vrou-met-die-hart-vir-gestre

Min mense weet dat sy as kind self ernstig siek was aan polio en dat dit haar ‘n skooljaar gekos het. Sy het deur harde werk alternatiewe spiere die werk in haar been laat oorneem.

Sy het in haar lewe duidelik ‘n voetafdruk van goud nagelaat.

Nuuskommentaar: Gaan 'n bestraffende kostebevel 'n ommekeer bring?

Nuuskommentaar: Gaan ‘n bestraffende kostebevel ‘n ommekeer bring?

‘n Onverkwiklike sage wat skynbaar nooit einde kry nie, is die kwessie van lede van belastingbetalersverenigings wie se elektrisiteit afgesny word.

Die munisipaliteite wend hulle tot hierdie optrede as strafmaatreël omdat ander munisipale fondse – en spesifiek erfbelasting – na dispuutverklarings in trust gehou word, en dikwels noodsaaklike munisipale dienslewering uit hierdie fondse verrig word.

Kortom, die fondse in trust is buite die bereik van munisipaliteite om op sake soos oorsese reise, partytjies en ander onvaspaste aktiwiteite te spandeer.

Die afsny van krag het al verskeie kere in die hof gaan draai. Hoekom munisipaliteite voortgaan om hierdie lede se krag af te sny, bly ‘n raaisel.

Nou het die verhoorlanddros in Heilbron gelas dat die munisipale en ander munisipale rolspelers redes moet aanvoer oor hoekom ‘n bestraffende kostebevel nie teen hulle persoonlik gemaak moet word nie.

Die regskostes beloop reeds ‘n astronomiese bedrag.

Die regering het reeds sy kommer uitgespreek oor vlakke van dienslewering, en in die provinsiale Skoor’e word die afvaardigings van die munisipaliteite gereeld erg die kop gewas, net om ‘n jaar later dieselfde gesigte, maar geen verbetering nie, te sien.

Afvaardigings van belastingbetalersverenigings het reeds hul saak op die hoogste moontlike regeringsvlak gestel, en selfs ‘n betreklike simpatieke oor ontvang.

Maar dit lyk doodgewoon of die kop en die voete nie in kommunikasie met mekaar is nie.

Die landdros moet nog ‘n bestraffende kostebevel toestaan, maar die vraag is of so ‘n bevel selfgekoesterde munisipale ampsbekleërs tot nugterheid gaan skud – dat behoorlike munisipale dienslewering nie onderhandelbaar is nie.

Hierdie saak het ook ‘n groot simboliese betekenis, aangesien die hoofdorp van hierdie munisipaliteit, Parys, ook die tuisdorp van die Vrystaatse premier. Ace Magashule is.    

Geloftefees in die VK

Geloftefees in die VK

Een van die interessante plek waar Geloftefees vanjaar gevier word, is in Wimbledon in Engeland. Dit vind om 10:00 in die Hillside Church Hall te Worplelaan 37 plaas. Toegang is gratis maar ‘n hoed sal omgestuur word.

Navrae: Wynand Kruger, voorsitter Geloftefees UK, +44783 506 3964, of geloftefees_uk@yahoo.co.uk

Ditsem Vrystaat beplan om in sy Desember-uitgawe ‘n lys van Geloftefeeste en waar dit plaasvind in kort teks te publiseer. Dit sal waardeer word indien inligting gestuur kan word aan hermantoerien@iburst.co.za

Ratings wake up call for Bafana after Confed euforia

Ratings wake up call for Bafana after Confed euforia

The last thing South African soccer fans would have liked to see was that the Bafana Bafana drop to 86th in the world on Fifa’s ranking, the lowest position in 15 years. Yet, this should not have come as surprise after a series of dismal performances, and endangers South Africa qualifying even for the African Cup.

This also serves as timely warning that performances in the Confederations Cup must be seen in context. This is underlined by the fact that Spain, after a dismal performance in the Confed, has now “served its sentence” and was restored to top of the log.

Most sides in the Confed tournament simply participated because they, as continental champions, were obliged to and simply went through the motions to avert serious injuries. Most sport writers here, either overcame by the moment or because of previous little interest in soccer, failed to notice the slow pace at which most games took place. The Bafana Bafana’s performance was blown way out of context, and the local public imagined as team which will perform well in he Wolrd Cup.

The Bafana Bafana may perform well yet, but not if the Confed level of performance is to be replicated. To do well, may require much more than simply recalling Perreira as coach – the players must also work hard to excel. There will be no places in the side for unfit prima donnas, even if the name is Benny.

The soccer Sanhedrin may do well and analyze what is going on in the PSL. Far too many teams focus on not loosing matches, rather than taking risks to win. Ajax Cape Town are in second position on the PSL log even after loosing four matches compared to front runners SuperSport single defeat, but managing one less win than the front runners.  Ajax has only 4 draws compared to the six of most front runners. Bloemfontein Celtic in the seventh position also has less losses than Ajax, but playing safe have resulted in seven draws, doing the side little favour on the rankings. Free State Stars have managed 9 draws from 16 matches, and are still camping near the relegation zone. Another good example are Golden Arrows, who share three losses with third placed Santos, but thanks to 10 draws find themselves in the eleventh position.  

Another way of looking at how distorted the position in South African soccer is, is the 33 goals scored by front runners SuperSport. The runners up, Ajax, have scored 14, but the opponents also found the back of Ajax’s net 14 times. SuperSport, focussing more on attack, conceded 16 goals, the most by the front runners.

Negative play may well result in the Bafana Bafana not being humiliated in the World Cup, but will also not result in victories and any serious onslaught on the title.

By comparing Bafana Bafana and PSL matches, it seems as though the V on the field remains well spread in a defensive mode, and when attacking, it remains this way resulting in long passes ending up in the wrong hands – apologies to France’s Handball Henry.

The V is intended to serve as spear in the attack as well, and goal kicking much more than simply taking pot shots to the goal’s vicinity. Using one’s head to score goals is OK when a real opportunity arises, but trying to outperform the American’s Confed heading performance, boils down to loosing one’s head if more than 70 percent of the attempts go astray. Shooting from the foot generates the pace mostly needed in the World Cup. Trying to repeat the slow paced Confed performance may well result in massive scores – against the Bafana Bafana.   

Opstel: Mediafokus se moontlike rol in polarisasie

Opstel: Mediafokus se moontlike rol in polarisasie

Opstel: Mediafokus se moontlike rol in polarisasie

Herman Toerien

“Dis die hele moeilikheid, dis alles in Afrikaans en nou weet niemand daarvan nie.”

‘n Rits gewaarwordings speel gelyktydig verlammend deur my.

Ek was toe politieke navorser en mediaman van die ACDP in die Vrystaat. Ek het pas gereageer op ‘n uittrap-oproep van die ACDP se parlementêre mediabeampte wat ontevrede wou weet hoekom ons, in die Vrystaat, nie heftiger teen die Reitz 4 uitgevaar het nie.

“Maar die vier het om verskoning gevra, en ons as Christene het ‘n vergewingsplig,” was my woorde min of meer.

Sy was totaal onbewus van enige verskoning en daag my uit om dit te bewys.

Dit doen ek binne ‘n paar minute deur internet-soektogte, en siedaar, ‘n pakkie word ge-e-pos.

En toe die reaksie hierbo oor die Afrikaans.

Bygesê, die gesprekke en die e-pos was in Engels. Die parlementêre skakelbeampte kom uit Zimbabwe, en sy verstaan nie ‘n snars Afrikaans nie. Die ACDP, so het ek al agtergekom, is besonder talentvol om in die Kaap, waar ongeveer 55 % van die mense se huistaal Afrikaans is, mediabeampte op mediabeampte aangestel te kry wat nié Afrikaans magtig is nie.

Nietemin, ek vaar weer die internet in om te soek na enige Engelse verwysings na die Reitz 4 se verskonings. Ek kry ‘n paar – SAPA, die Times of London en twee koerante in die VSA. Ek stuur dit toe een en maak die opmerking dat ek meen die Engelstalige koerante in Suid-Afrika was “malicious.”

Die reaksie uit die Kaap was dit maak in elk geval nie saak nie, dit wat die vier gedoen het is in ieder geval onvergeeflik.

Dit het min of meer my uittog uit die ACDP ingelui. ‘n Party wat onder die Christelike vaandel homself die reg toe-eien om die Here te “overrule” oor wie waaroor vergewe mag word...

Maar dit is ‘n ander verhaal.

Wat hier ter sprake is, is ‘n hoofsaaklik wit gemeenskap wat die inligting gekry het dat hulle verskoning gevra het, en ‘n hoofsaaklik swart gemeenskap van wie hierdie inligting weerhou is, met die gevolglike bydrae tot polarisasie. Net bydraend, want ek glo nie baie van die onrusstokers het enige sinnigheid vir feite gehad nie.

Binne die Vrystaatse Wetgewer word ‘n amptenaar aangewys om ‘n daaglikse media-oorsig op te stel.

Vir diegene wat dit nie weet nie, sedert die afsterwe van die Friend het die Vrystaat geen eie Engelstalige dagblad nie. Hierdie leemte word gevul deur die invoer van koerante soos die Sowetan, Daily Sun, Citizen en ander, en hoofsaaklik gerig op die swart mark. Volksblad versprei een keer per week ‘n gemeenskapskoerant gratis met ‘n reuse oplaag, die Express, maar dit kan nie werklik in die behoefte van ‘n Vrystaatse Engelse dagblad voorsien nie.

Die kort en die lank is dat die Wetgewerlede, om werklik ‘n oorsig te kry van wat in hul eie provinsie aangaan, wel deeglik moet kennis neem van wat in Volksblad aangaan.

Toe word seker die enigste amptenaar in die Wetgewer wat werklik geen Afrikaans ken nie, hiervoor aangewys.

Dit behoef geen genie nie om te besef in hoe ‘n mate diegene wat slegs toegang tot Engelstalige mediainligting het, aan ander sienings en persepsies blootgestel word as diegene wat hulle hoofsaaklik op Volksblad se inligting verlaat. Ook dit het breedweg volgens ras verloop.

Swart redakteurs het enkele jare gelede by onder meer Tim du Plessis die krediet gekry dat hulle die slagordes omver gewerp het deur krities teenoor swart leiers soos die destydse president Thabo Mbeki te begin staan. Hulle is selfs by die naam genoem.

Hierna was dit “veilig” vir ook wit redakteurs om uit die selfopgelegde sensuur van politieke korrektheid te breek, en dit is met mening gedoen.

Maar skielik kon daar vanuit hierdie selfde gepubliseerde lysies soortgelyke onheilspellende geluide as waarmee dr. Nico Smith ingelui het, met basies die strekking dat wit mense slegs op die risiko af van geweld kan aangaan om swart mense te kritiseer.

Hierop het Tim du Plessis in een van sy kommentare weer na die “ons” en “hulle” verwys.

By terugskoue kan die vraag dalk gevra word of hierdie kortstondige vryheid om die regering te kan kritiseer, ‘n taktiese vrypas was om oud-president Thabo Mbeki te help diskrediteer om Zuma se presidensiële  aansprake te versterk. Noudat Zuma knus sit, word die ou lyne herbou.

Dit maak min of meer net soveel sin as normaliseringsskuif as die afdwing van sportkwotas terwyl die swart media in effek die bestaan van rugby en krieket ontken. As die onafhanklike Engelse (lees swart) pers uiters selde iets oor rugby dra en dus geen bydrae maak tot die popularisering van “onderverteenwoordigende” sportsoorte nie, is dit nog hul saak. Maar as die SABC, as openbare uitsaaier, in sy swart nuusbulletins rugby in effek ignoreer, dan ontstaan die vraag hoe billik dit is om kwotas af te dwing as daar geen gepaardgaande populariseringsaksie is nie?

Hoe reageer die swart pers op hofsake wat Solidariteit oor regstellende aksie voer – of eerder – wat blyk uit hul insig oor die saak? En hoe insiggewys versoenbaar staan hierdie weergawes van byvoorbeeld Radio Pretoria se nuuskommentaar?

Enkele jare gelede het die SABC in Bloemfontein ‘n berig die wêreld ingestuur oor hoe wreed ‘n gesiene boer teenoor ‘n swart persoon sou opgetree het. Vrystaat Landbou, wat by Agri SA geaffilieer is, reageer heftig, en meld dat bloot ‘n oproep na dié liggaam die werklike feite sou openbaar.

En die verslaggewer se reaksie? Hy het nie geweet daar bestaan iets soos Vrystaat Landbou en Agri SA nie. Hy miskien nie, maar in die nuuskantoor tog sekerlik ... Hierdie spesifieke saak het volgens Vrystaat Landbou se inligting in alle waarskynlikheid tot ‘n plaasmoord by Hobhouse gelei.

Voor dit was daar die berugte aspersie-verslag – iets wat in een deel van die media as wolhaarstorie nie geplaas sou word nie, maar in die “ander kant” se persepsieagtergrond soveel geloofwaardigheid geniet het dat dit geplaas, en internasionaal opslae gemaak het.

Daar is afwykings.

Die Reitz-berig oor verskonings destyds is volgens Media 24 se argiewe ook nie in Die Burger gedra nie, en die parlementslede wat Afrikaans lees se persepsies is eerder gevorm deur die histeriese toesprake in die parlement en die beriggewing daaroor in Die Burger. Toe Rapport onlangs, na die verhoorlanddros juis hierteen gewaarsku het, ‘n brief plaas waarin die stelling opnuut gemaak word dat die Reitz 4 geen verskoning aangebied het nie en dat die vier misdadigers is, het die persombudsman beslis Rapport het nie moedswillig opgetree nie omdat Rapport nie noodwendig kennis sou dra van berigte in susterpublikasies nie (en wat deur Sapa die wêreld ingestuur is).

Die nuusmakers kan ook skuldig wees aan die persepsies wat die media vorm en uitdra. Tydens ‘n drie-in-een landbouvergadering in Bloemfontein het die destydse adjunk-minister van Landbou en Grondsake, wyle Dirk du Toit, wydlopende erkennins gedoen oor probleme in die Departement van Grondsake. So erg, hy het die georganiseerde landbou gevra om aan te dring daarop dat ‘n klagtedirektoraat in die departement gestig word.

Toe hy egter minute later buite voor die TV-kameras staan, was sy aanslag heeltemal anders en van die voorgestelde klagtedirektoraat nie ‘n woord nie. Veel eerder is ‘n beeld uitgesaai van boere wat as moeilik en onredelik uitgebeeld word.

Is daar ‘n oplossing om die gemeenskappe nie persepsiegewys deur die media te polariseer nie?

My eie ervaring, op kleiner skaal, met Netnuus waarvan ek redakteur was, is ja.

Op die skaal wat nodig is, is die antwoord dalk heelwat moeiliker.

In ‘n onlangse nuuskommentaar het ek gewys op die skynbare groter ineenvloeiing van gedagtes soos eertydse teenstanders, mense soos Max du Preez, Tim du Plessis en Koos Kombuis (met afwykings). MAAR, dit is almal wit, Afrikaanssprekendes. Uit die Afrikaanssprekende bruin gemeenskappe kan ‘n mens enkele name byvoeg, selfs die rissiepit Rhoda Kadalie, maar skryf iemand soos Zelda Jongbloed oor iets soos die omstandighede van plaaswerkers, verskil dit dramaties van wat Agri Wes-Kaap graag in druk wil sien, en wat hulle boonop voel hulle al sonder sweem vir teenspraak bewys het. Dat Zelda se stuk in Die Burger, waar sy ‘n adjunk-redakteur is, die pyp kon rook, is verklaarbaar, maar hoe so iets sy weg na die Volksblad kon vind, is moeiliker verklaarbaar.      

Moedswillige manipulasie bly nie uit nie. Soos die oorvloedige TV-dekking van die PAC in ‘n sekere provinsie, maar toe die ACDP, ‘n groter party, sy nasionale kongres in dieselfde provinsie hou, kry die provinsiale katoor van die SABC opdrag om dit nie te dek nie. Die plaaslike mense het arm gedraai, en dit gedek. Toe die volgende kongres egter op die SABC se voorstoep, en vlak voor die verkiesing, gehou word, is die SABC heeltemal obsent.

Bygevoeg, die ACDP het die media-aksie in hierdie geval soos sy agterent hanteer. Daar was in effek geen media by die kongres en selfs die gebruiklike mediakonferensie aan die einde nie.

My verwysingsraamwerk is te beperk om hierdie stuk iets anders as ‘n opstel te noem. Eers as ander partye objektief oor hul media-ervarings menings gelug het, kan bepaal word of daar moedswil is in welke persepsiegedrewe nuus vir welke persepsiegedrewe gehoor opgedis word. Met objektiwiteit bedoel ek byvoorbeeld dat die DA nie verskuilde motiewe moet lees in geringer dekking in Afrikaanse radionuusvoorsieners se voer as die DA volhard om sy mediaverklarings effektief net in Engels uit te reik nie. Hierdie nuusvoorsieners het doodgewoon nie die tyd om te sit en vertaal nie.

Net so sal ‘n party wat effektief alles in Afrikaans uitreik, nie kan brom as min die Engelse media haal nie.

En selfs ‘n party wat feitlik alles met ‘n Afrikaanse en Engelse teks uitreik soos die Christen-demokratiese Alliansie, moet nie oor min dekking verbaas wees as die party baie klein is nie.

Tog, soos in die beriggewing oor die Reitz 4, wil dit voorkom asof daar meer “maliciousness” teenwoordig is as bloot vaste persepsie waarteen die beriggewing plaasvind. Voeg hierby die uiteenlopendheid van perseptiewe beriggewing oor plaastoestande, Afrikaansmedium skole en ‘n paar ander en dan moet niemand verbaas wees dat verskillende mense weens hul toegang tot verskillende media half skuins die hoenders in is vir mekaar nie.

Die Persombudman vereis dat beriggewing juis en billik moet wees, en nie polarisasie aanhelp nie.

‘n Vollediger studie sal aan die lig kan bring of die Persombudsman sluimer en slaap. Of soos die kerk swyg oor hoe gekant dit eintlik is teen die saamwonery van ‘n klompie lidmate....