Herrie se blog

 

Oom Anneries se stoepstories

Print Clean Clean false false false MicrosoftInternetExplorer4

Kaasinflasie: Kom leer by Zimbabwe

“Ek sien die Nederlanders se inflasie is nou so op. Dis die hoogste sedert 2002 – dis nou net bo 3 persent,” sê Herrie vir oom Anneries.

Herrie sien oom Anneries verstik amper aan sy pruimpie. Sommer opslag spoe’ hy die straal daar tussen die tante se plante in wat al van dié behandeling begin hensop.

“Nou ka’ jy nou meer!” seg oom Anneries.

“Smaak my hulle moet by Mugabe van inflasie kom leer!”

“Net so oom.” ‘n Land kan darem nie ‘n hierjy land wees as hy ‘n inflasiekoers van meer as twee miljoen persent per jaar kan opdis nie.

“Ma’ laas toe die tante gaan inkopies doen dag ek sy het in Zimbabwe gaan koop so baie geld is sy kwyt. Net ‘n klein boksie van die aller noodsaaklikste, en dis al ‘n hele paar handevol note soos mis voor die son.”

“Met al die stakings en optogte is produktiwiteit nie wat dit moet wees nie...” probeer ek nog verduidelik.

“Man, ek siet met die grondeise word ‘n klomp plantasies nou sommer by voorbaat afgesaag – sal seker eers oor veertig jaar weer genog bome wees om te saag – as die nuwe eienaars ooit weer gaan plant,” slaan oom Anneries die spyker op die kop.

Maar sy kop werk myne vooruit. “Dit moet eenvoudig inflasie hokslaan, want dan is daar nie papier om te veel geld te loop druk nie.”

Herrie wonder: Met al die stropery in Zimbabwe kon hulle nog iewerster baie papier kry om waardelose papiergeld te druk.

Maar die ding van inflasie. In die dae wat Herrie nog oorsee kon gaan, toe het mens nog vyf gulden vir die rand gekry, en selfs so was ‘n pilsnertjie so erg duur dat ‘n man maar moes rantsoeneer. En amper twee dollar vir ‘n rand. Wat mens nou oorsee vir ‘n lafenissie gaan betaal wil Herrie nie weet nie.

Oom Anneries het raad. “Zimbabwe het sommer tien nulle agter hul geldeenheid loop doodtrek. Hier, hoor ek, wil hulle ook so ‘n nuwe geldeenheid maak wat weer ‘n slag bo rond kan begin. Hulle wil dit die Zuma noem.”

Oom Anneries het deesdae erg vir Zuma op die brein. Laas soveel moeilikheid met ‘n parkeerboete gekry, en hy het al sy dae daarmee gehad. Maar vir Zuma wil hulle sommer los. Dié dat hy nou so krapperig is dat mens glad nie die grondwet en gelykheid voor die reg voor hom moet noem nie.

“Ja, dit staan vir Zero Unit of Monetary Appliance. Hulle wil dit van toiletpapier maak om die drukkoste minder as die geldwaarde te hou. Jammer hulle het dit nog nie klaar gedruk nie dat hulle daai klomp SABC-raadslede wat met hul gesinne, verlangse familie en vriende op ons liksenskoste Olimpiese Spele toe is daarmee kon uitgereik het. Miskien sal hulle daar oorkant darem daarmee van die Chinese se kokkerot-lekkernye aanskaf. Met lekker sous.”

 

 

Oom Anneries se stoepstories

Print Clean Clean false false false MicrosoftInternetExplorer4

Zuma en die brommer, en die nuwe Nasionale Party

“Vervlakste Zuma!” skel oom Anneries na sy straaltjie pruimtwak nie die kol, ‘n yslike brommer, kon tref nie.

Van die tante droë hondemis in oom Anneries se snuif ingemeng het, pruim die ou terwyl hy sy tyd hier op sy stoep verwyl.

“Hoekom is die brommer ‘n Zuma oom?” wil Herrie weet. Herrie meen, hy het nog nooit ‘n brommer in die stort gekry nie, allermins ene wat probeer van kieme ontslae raak.

“Pikswart!”

Dis nou maar van onse volkie. Van Herrie kan onthou word gepreek teen stereotipering, en die laaste dekade of wat word haatspraak gereeld bygewerk.

“Maar is dit nie kwaai stereotipering nie, oom?”

“Moenie by my van stereo’s kom praat nie. Ky’ net hoe vol draadlose staan my huis. Almal kamma met CD-spelers solat ‘n man musiek oor die stereo kan luister. Maar algar, soos klokslag, die dag na die jaarwaarborg kapot is, wil daai CD-speler nie meer werk nie.”

Oom Anneries kan ‘n fyn mens wees, en Herrie weet goed hy weet presies wat stereotipering is. Die dwars antwoord beteken eintlik net oom Anneries wil nie hieroor die woord voer nie.

Die pruimery is ‘n half nuwe ding. Jare lank het die tante en die dokter hom van die rokery probeer afkry. Dié het eers geslaag toe oom Anneries ‘n halwe long kwyt is, met ‘n nie te wafferse diagnose van die res nie. Toe die snuif. Maar hoe die tante hom hiervan afgekry het is ‘n ander storie.

In plaas van twee longe hou oom Anneries nog geel vingers en ‘n sleg hoes van die rokery oor.

Die pruimery het vir oom Anneries die geleentheid gebied om teiken te skiet na alles wat hom pla. Maar raak pruim, pruim oom Anneries nie raak nie. Die pruimstraal lanseer hy deur ‘n klein openinkie tussen sy voortande. Maar iewers is nog ‘’n opening in sy tande, en die laat lug met ‘n suisgeluid uit. Omdat klank vinniger trek as pruimtwak, kry die slagoffer genoegsame waarskuwing om te verkas.

Oom Anneries is egter dikwels baie akkuraat met sy woordeskat.

Sil jy nou dink iemand wil die Nasionale Party laat herleef?”

Ja, Herrie het gisteraand op die kykkassie gesien daar is ‘n paar manne wat sulke planne het.

“Ma’ ek weet darem nie so mooi van die mannetjie wat as die party se bek aangestel is nie. Oom dink daai mannetjie, Juan-Duval Uys is sommer die party se doodsteek. Kyk net wat sê ou Buddy Kabaal van dié mannetjie wat onlangs nog sy bek was. Nie dat Buddy iemand anders as bek nodig gehad het nie.

Ja, Herrie het op die internet gesien wat Buddy van sy gewese buddy gesê het. Dit is in Son gepubliseer, en is nie hier herhaalbaar nie.

Maar hoeveel weet oom Anneries.

Wonner sy hiffelste party is hierdie nou al,” gaan oom Annneries voort. “Hy was mos ook die stigter van die Gay en Lesbiese Party. En wat was sy eintlike naam nou weer – so ‘n mooi Boerenaam mos?”

Lodewickus, oom.”

Ja, dink Herrie, enigeen wat die nuwe Nasionale Party wil kelder hoef net bietjie te gaan oplees oor die gewese Lodewickus se dinge, soos dat hy al as kuberterroris beskryf is, en Patricia (nie die mooi ene nie) se Simon so beskuldig het daarvan dat hy met manlike prostitute deurmekaar was. Toe hy nog glo die man agter die bekende anti-misdaadwebwerf was, was hy eers DA, maar toe die DA hulle van die web distansieer het hy begin werk aan sy eie party. Maar toe was hy eers Buddy se buddy.  Maar al die goed hoef oom Anneries nie te weet nie.

Netnou noem hy brommers Lodewickusse.

Dalk het brommers nog hul trots ook.

Nuuskommentaar

Print Clean Clean false false false MicrosoftInternetExplorer4

Bestek oor landbou

Hoewe landbou in Suid-Afrika amptelik slegs vir ‘n klein deel van die Bruto Nasionale Produk sorg, bly dié sektor se rol in die praktyk veel groter. Dit is wel deeglik deur ‘n ieder en ‘n elk gevoel toe kospryse aan elkeen se sak begin ruk het, en Cosatu selfs landswye betogings gehou het.

Die ironie is dat die landbou nie met die hoë kospryse veel baat gevind het nie. Ook hulle is aan ongekende prysverhogings onderwerp, soos die brandstofprys en ander middels soos plaagdoders. Baie boere wat rekordpryse vir produkte soos aartappels gekry het, kon nie gelyk breek nie, wat beteken dat minder aartappels waarskynlik volgende jaar geplant, en nog meer vir hierdie veeldoelige stapelvoedsel opgedok sal moet word.

Veediefstal het lankal bygedra daartoe dat ‘n vleisie op die kole nie meer almal beskore is nie.

Landbou bied nie net regstreekse werksgeleenthede aan sowat ‘n miljoen mense nie, maar nog veel meer mense is onregstreeks vir hul inkomstes van landbou afhanklik. Die meeste plaaswerkers word ook deur die landbousektor van ‘n onderdak en ‘n wye verskeidenheid dienste voorsien wat normaalweg deur munisipaliteite voorsien word. Dit haal aansienlike druk af van die land se agterstand aan die lewering van munisipale dienste wat reeds minstens R500 miljoen beloop, maar waarskynlik veel hoër sal wees as ontoereikende water- en rioolstelsels, en die koste aan die herstel van slaggate in verrekening gebring word.

Aangesien plaasaanvalle neig om geografies in vlae voor te kom, is dit moeilik om ‘n betroubare syfer as norm vas te stel. Tog was daar twee jaar gelede in die Vrystaat ‘n rekord aantal plaasmoorde, en het daar nog sulke moorde sedertdien voorgekom. Veel meer plaasaanvalle waar nie gemoor word nie kom egter voor, wat nie alles die media haal nie.

In ‘n stadium het beskikbare syfers aangedui dat die moordsyfer onder boere en hul gesinslede in Suid-Afrika op sowat 130 per 100 000 per jaar gestel word. Normaalweg word die moordsyfer van net onder die 100 onder bruin mans in die Wes-Kaap, waar bendebedrywighede hoogty vier, as die hoogste moordkoers onder ‘n identifiseerbare groep in die wêreld beskou. Die wêreldnorm is sowat 5 per 100 000 mense per jaar.

Voeg hierby dat die werksverwante ongeluk-ongevallesyfer onder boere in dele van die VSA sowat 30 per 100 000 per jaar is, dan is dit heel moontlik dat boerdery in Suid-Afrika selfs gevaarliker is as om ‘n Chinese steenkoolmynwerker te wees. En die Chinese werker word nie wreed vermoor nie.

Hierdie is egter nie al probleme wat Vrystaat Landbou tydens sy kongres wat nou in Bloemfontein plaasvind onder die vergrootglas sal plaas nie. Die swaard van die regering se beplande onteieningswet en die impak daarvan op die beskikbaarheid van produksiekapitaal sal stellig ook onder die loep kom.

Geluk aan Louw Steytler met sy herkiesing tot president van Vrystaat Landbou. Min mense sal daarmee verskil as gesê word hy is ‘n goeie leier.

 

Herrie se kerrie

Print Clean Clean false false false MicrosoftInternetExplorer4

Gaan dit om die Lap of die statistieke?

Herrie het ook pas ‘n Lap geword.

Nie ‘n Laplander nie, ‘n Laptopper. Dis baie dieselfde, net baie verskillend.

Die Laplanders dreig om weens kulturele verdringing uit te sterf, die Laptops word vreeslik gesteel.

Herrie s’n is darem nog nie gesteel nie.

Herrie was vanuit die staanspoor bewus daarvan dat diewe vrek oor selfone. Selfs Herrie is al besteel, en een keer het rowers Herrie van sy selfoon probeer beroof.

Beide kere het die diewe darem hulle sleg verneuk.

Die selfoon wat gesteel was, was ‘n ou baksteenmodel, en regtig nie die moeite werd om te steel nie. Sy battery het ook nie ‘n heel werkdag gehou nie, selfs sonder dat enige oproepe gemaak of ontvang is. Tog, toe hy gesteel is, was dit ‘n ding, want Herrie het oor ‘n rugbywedstryd in Kimberley gaan verslag doen, en moes bel dat iemand van die kantoor af vir Herrie en Groot Herrie kom haal. Skemer, na die wedstryd, is die selfoon skoonveld, en Herrie moes die klompie kilometers kantoor toe hardloop sodat Groot Herrie, toe nog ‘n klein kannetjie, opgelaai kan word.

Die selfoon wat die rowers gegryp, en Herrie teruggegryp het en toe iets vreesliks oor moes baklei was ook al oor die muur. As hy lui moes Herrie dadelik na die laaier toe hardloop anders was die battery pê voor die einde van die gesprek. Maar dit was Herrie s’n. ‘n Week later val dit in die water, die heel kleinste wateroppervlak in die huis.

Het die rowers daarin geslaag om Herrie te oorrompel en die selfoon gebuit het sou hulle seker gevoel het soos die skollies wat ‘n man betrek.

Dié sit hom vreeslik teen, en die skollies het groot moeite om hom uiteindelik vasgepen te kry. Toe gaan hulle deur sy sakke, en kry ‘n tiensentstuk in sy sakke.

“Sies man, djy baklei so vi’ tien sent,” raas die een skollie.

“Ma’ ek dog julle soek die honderd bucks wat ek in my kous weggesteek het,” protesteer die slagoffer.

Net so is ‘n skootrekenaar ook ‘n ding wat ‘n dief nie sy hande van kan afhou nie. Herrie weet van ‘n geval in Pretoria toe straatrowers ‘n amptenaar van Statistieke SA op straat geskraap het wat sy skootrekenaar by hom gehad het. Dié hardloop na die gebou waarin hy werk, en is so haastig by die sekuriteitsbeamptes verby dat hy oor die versperrings moes spring. Die diewe agterna. Wag vir die hysbak is daar nie tyd voor nie, en hy hardloop trappe op, die diewe agterna. Tot op die sewende vloer waar hy homself betyds in sy kantoor kon toesluit. Die gefnuikte diewe is doodluiters weer trappe af en weer oor die versperrings, met die sekuriteitsbeamptes wat toekyk.

Gedagtig aan die kritiek op Suid-Afrika se statistieke, meen Herrie nie die diewe was agter die statistieke op daai skootrekenaar aan nie.

Verskoning vir spelling

Print Clean Clean false false false MicrosoftInternetExplorer4

Jammer vir die spelvoud

Nee, Herrie het die spelfout hieronder in die opskrif gesien – die e-pos terugkom toe dit geplaas is.

En ja, Herrie het probeer kyk hoe om dit reg te maak, maar is te onnooslik.

In die teksgedeeltes het Herrie ‘n Afrikaanse speltoetser, maar dit werk nie in die onderwerpblokkie nie.

Want sien, Herrie se vingers is te duk vir die toetse. Net die pinkies en die wysvingers (net-net) pas in die toetse in, en dus laat wiel Herrie met die twee wysvingers. Maar soms wil die wysvingers te opmekaar die toetse slaan, en dan kom die letters nie lekker in die regte volgorde uit nie.

Nuuskomemntara

Print Clean Clean false false false MicrosoftInternetExplorer4

Onafhanklikheid van die regbank: Quo vadis?

Hoewel daar sedert die vorming van moderne demokrasie ‘n onderskeid tussen die staat se wetgewende, uitvoerende en regsprekende gesag was, was die skeiding tussen wetgewende en uitvoerende gesag minder duidelik as die skeiding tussen hierdie twee regeringsaspekte en die regsprekende.

Die redes hiervoor is voor die hand liggend. Ministers en regeringshoofde wat aan die hoof staan van departemente as uitvoerende gesag, was ook nog altyd deel van die parlement. Dieselfde geld op provinsiale vlak. Trouens, in die tydperk regstreeks aanlopend tot die 1994-bedeling, was daar op provinsiale vlak geen provinsiale rade meer nie, en het die Administrateur en sy uitvoerende komitee ook hierdie funksie verrig.

Die regsprekende gesag hierteenoor se onafhanklikheid, hoe gebrekkig ook al, is strykdeur erken. Hul aanstellings was immers altyd minstens deels deur politici gedoen. Sorg is gedra dat die beste beskikbare regslui regters word. Hul onafhanklikheid is met ‘n unieke mag beskerm, naamlik minagting van die hof.

In die post-1994-bedeling is die regbank se rol, wat reeds deur ‘n ombudsman – ook bekend as advokaat-generaal - en ‘n ouditeur-generaal ondersteun is, verder aangevul deur die ombudsman met die Openbare Beskermer te vervang, en ook ‘n menseregtekommissie en verskeie ander liggame soos Pansat aan te vul.

Groot kommer bestaan reeds oor die bekwaamheid en onafhanklikheid van die aanvullende liggame. ‘n Bewering is selfs gemaak dat hoe onafhankliker die liggame van die regering (lees ANC) optree, hoe meer word hulle met befondsing gesnoep en so as rolspelers lamgelê. Broodnodige wetgewing om die liggame hul funksies te laat vervul, word nie deurgevoer nie.

Selfs die Skerpioene word nou die regstreekse slagoffers van die wetgewende gesag. Afgesien daarvan dat een ANC-parlementslid gesê het die openbare verhore wat nou gehou word, en wat deur die grondwet vereis word, is net formaliteite, ontstaan ‘n kritiese regsvraag: Hoe kan mense wat self deur die Skerpioene vir onder meer reiskoeponbedrog ondersoek word, deel uitmaak van die besluitneming oor hul toekoms?

Senior regeringslui val die regbank openlik aan, en beskuldig die regters onder meer daarvan dat hulle deel van ‘n anti-Zuma-komplot is. Dit word geregverdig deur ‘n ANC-ondersoek wat Zuma onskuldig bevind het aan die aanklagte waarop hy in die howe teregstaan. Hierdie interne beslissings is al tevore met eier in die gesig begroet soos toe pres. Mbeki se regsadviseur dr. Alan Boesak onskuldig bevind het. So onskuldig was hy dat hy na appèl in die appèlhof, en ‘n destyds unieke verdere appèl na die grondwethof, steeds tronk toe gestuur is. Die Yengeni-debakel het ‘n soortgelyke verloop geneem.

Die lakmoestoets is dat die grondwethof die aanvalle sal weerstaan en as finale grondwetlike waarborg sal bly vasklou. Om heethoofde vir minagting van die hof aan te tree, sal ook nie skade doen nie.

 

Nuuskommentaar

 

Mangaung – Verhoogde status, verhoogde belasting, verhoogde verantwoordelikhede

Die tydberekening om aan te kondig dat die Mangaung-munisipaliteit, wat Bloemfontein, Botshabelo en ThabaNchu insluit, in 2011 ‘n metroraad gaan word is ongelukkig. Pas het ‘n foutiewe berig gelui dat die munisipaliteit onder administrasie geplaas is, en hoewel die berig geblyk het onjuis te wees, was die teelaarde daarvoor baie ryp met die manewales waarby die geskorste stadbestuurder en die uitvoerende burgemeester betrokke is.

‘n Ongelukkige feit is egter ook dat die munisipaliteit reeds sukkel om sy salarisrekening binne die voorgeskrewe persentasie van sy totale uitgawes te bring. Met die metroraad-status verhoog salarisse en toelaes oor ‘n wye front, en al manier om die salarisrekening tot die gewenste persentasie van uitgawes te verminder, is om die inkomstes te vergroot – en dit geskied hoofsaaklik deur belasting.

In beginsel beteken dit nie noodwendig dat inwoners na verrekening van inflasie meer sal moet opdok nie, aangesien die stede binne die munisipaliteit uitbrei, en meer mense in beginsel dan belasting sal betaal. Die hartseer feit is egter dat talle van die nuwe inkomelinge hulle met min of geen inkomste in informele gebiede en selfs doodgewone plakkerskampe vestig, en eerder ‘n bykomende uitgawe as inkomste bied.

‘n Poging is reeds tevore aangewend om metroraadstatus kunsmatig te verwerf deur klein dorpies soos Soutpan en Brandfort by Mangaung in te lyf, maar hiervan het dadels gekom. Aan ‘n voor die hand liggende vereiste soos dat Mangaung eers sy eie dienslewering op standaard moes kry, is duidelik geen oorweging geskenk toe talle raadslede so hul toelaes probeer vergroot het nie.

Nou geskied dit blykbaar by verstek.

Die verhoogde status bring ook bykomende verantwoordelikhede. Inwoners van ‘n munisipale gebied met ‘n metroraadstatus wil immers nie in ‘n rommelbestrooide en riooloorstroomde omgewing woon nie.

Dit is jammer dat die belastingbetalende publiek nie ‘n sê in die saak gebied is nie.

 

Artikel

Print Clean Clean false false false MicrosoftInternetExplorer4

Statutêre staatsgreep

Die begrip, “Coup by stealth” is nie ‘n presiese vertaling vir ‘n statutêre staatsgreep nie. Die eerste handel oor ‘n geleidelike, bykans onopmerklike inkatrol van demokratiese vryhede, en die tweede handel oor ‘n meer drastiese, maar steeds bloedlose gryp van mag. Die wyse waarop die bewind van PW Botha na FW de Klerk oorgegaan het is moontlik ‘n goeie voorbeeld van ‘n statutêre staatsgreep. Dis nie noodwendig onwettig of ongrondwetlik nie.

Talle elemente van ‘n “Coup by Stealth” was al lank in Suid-Afrika aanwesig. Die openlike kader-ontpooiingsbeleid het byvoorbeeld die streng onderskeid tussen Wetgewende en uitvoerende funksies van die staat gerysmier, maar ook die onderskeid tussen die ampte wat politici beklee, en die poste wat die tegnokrate opneem.

Die gevolg is ‘n verwatering van die belangrike onderskeid tussen staat en politieke party. Dit op sy beurt bemoeilik die konsep van: Regeer in almal se belang,” dws die teenpool vir die term: “Diktatuur van die meerderheid.”

Selfs die grondwet, wat as waarborg teen regereingserodering van demokrasie moet dien, is onder druk. Pansat het ‘n aantal jare gelede bevind die staat self is die grootste oortreder van die taalbepalings van die grondwet.

Ook ander gevalle laat die gevaarligte flikker. In die Modderklip-saak het die staat alles in sy vermoë gedoen om sy grondwetlike verantwoordelikhede te ontduik.

Die staat word hierin gesterk deur die grondwethofuitspraak van Walker v City Council of Pretoria. Hierdie saak het oor die kwessie van onbillike diskriminasie gehandel deurdat sommige inwoners gemeterde tariewe, en ander vaste tariewe moes betaal. Inwoners wat met gemeterde tariewe aangeslaan is, het ook begin om die vaste tarief te betaal. Hoewel die hof bevind het die munisipaliteit se optrede was ongrondwetlik (met ‘n minderheidsuitspraak hierteen deur Abie Sachs) het die hof ook bevind die ongrondwetlike optrede deur die staat is nie gronde vir die reg in eie hande neem nie. Die staat moet deur regsaksie gestuit word.

Juis hierin is die situasie erg ongelyk al waarborg die grondwet gelykheid voor die reg. Die eienaars van Modderklip sou finansieel uitgeroei gewees het lank voor die finale uitspraak, soos die staat van hof tot hof geappelleer het. Die saak van Qwaqwa Printers is ‘n goeie voorbeeld van waar dit wel gebeur het en geregtigheid weens die ongelykheid nie kon geskied nie). Gelukkig het Agri SA in die Modderklipsaak  as vriend tot die hof toegetree.

Die vraag is egter nou: Het ons steeds met ‘n “coup by stealth” te make, of dra dit al kenmerke van iets meer onrusbarend? Die aanvalle op die regbank veral in die konteks van die Zuma-saak is werklik onrusbarend. Uitsprake oor geweld in hierdie konteks gee nie veel gemoedsrus nie. Die onderfinansiering van grondwetlike meganismes soos die Menseregtekommissie en Pansat, asook die versuim om hierdie instansies afdoende tande deur wetgewing te verleen, is ook nie gerusstellend nie.

Die wyse waarop die ANC optree soos met die deurvoer van Polokwane-besluite waar die parlement eerder ‘n struikelblok as hulpmiddel en demokratiese sif is, toon talle kenmerke van ‘n de facto eenpartybedeling.

Minstens is grondwetkenners en politieke analiste se oë nou wawyd oop nadat baie van hulle stadig uit die blokke was met die ontwikkeling van gesonde skeptisisme.

 

Nuuskommentaar

Die werklike Vrystaat

Met president Thabo Mbeki se besoek imbizu in Dewetsdorp gister het die Vrystaatse premier, Beatrice Marshoff, die ekonomiese ontwikkeling in die Vrystaat en ander vooruitgang soos die uitfasering van die emmerstelsel in die provinsie as positiewe veranderings gelys.

Soos gebruiklik sal nie almal met haar ontleding van die situasie saamstem nie. In Welkom beoog sakelui ‘n hofsaak teen die provinsie om die owerhede te dwing om die munisipaliteit onder administrasie te plaas. In Kroonstad is ver gevorder met ‘n belastingweerhoudingsaksie om die agteruitgang in dié dorp te stuit.

Ook in die Rosestad waar die munisipaliteit besig is om sy reserwes te verteer sal min inwoners saamstem dat alles voor die wind gaan. Die stadsbestuurder is uit sy pos geskors, en die burgemeester en haar speaker is op hul beurt tydelik uit die ANC geskors met hul dissiplinêre verhore wat die week begin.

Boonop is die uitfasering van die emmerstelsel landswyd, en ook in die Vrystaat, nie net ‘n numeriese oefening nie. In Dewetsdorp het die spoelgeriewe daartoe gelei dat die dorp se watertoevoer van Bloemwater onvoldoende is, en dat dele soos die skoolkoshuis byvoorbeeld vir lang tye sonder water sit. Talle dorpe het probleme met die rioolgeriewe wat onvoldoende of foutief is, met riool wat gereeld deur erwe loop en ‘n gesondheidsgevaar skep. Hierdie riool beland dikwels in die einste waterstelsels wat weer as drinkwater dien.

Net so is die voorsiening van HOP-huise nie ‘n ‘n blote numeriese spel nie. Swak vakmanskap veroorsaak dikwels dat selfs huise op vlotfondasies erg uitmekaar breek.

Die Premier het tevore ook reeds haar vingers verbrand met syfers wat sy oor wykskomitees en hul rol weergee. Tot haar ontsteltenis is die syfers wat aan haar verskaf is, soos klokslag verkeerd bewys. Boonop lewer die wykskomitees dikwels nie die positiewe bedrae wat hulle graag wil lewer nie. Die Rosestad is juis een van die plekke waar talle wykskomiteelede hul dienste onttrek omdat die munisipaliteit gewoon nie ag slaan op die aanmeld van veral waterprobleme nie, terwyl slaggate in sekere strate ook nie sonder ‘n erge gestoei aandag kry nie.

Boonop bestaan wykskomitees in Bloemfontein nie nou nie, nadat die ANC besluit het herverkiesings in selfs die wyke waar die komitees nog bestaan het, moet gehou word.

In die breë opset het die loongaping in Suid-Afrika die afgelope dekade tot die hoogste in die wêreld gestyg. Terwyl ‘n groep mense ongekende welvaart beleef, trek ander al hoe meer aan die agterspeen. Dit kring uit, soos die tekort aan pleegsorg wat nou in Bloemfontein en verskeie ander stede ervaar word.

Die vooruitgang wat ervaar word, word verwelkom. Ekonomiese groei gedy immers in ‘n klimaat van positiewe persepsies. Die voorbehoud is egter dat die geloofwaardigheid van die positiewe beeld nie in duie kan stort wanneer die teendeel blyk nie. En die teendeel skree al te dikwels ten hemele.

Cry Freedom too

Print Clean Clean false false false MicrosoftInternetExplorer4

Herrie se Engelse boek

Herrie het onlangs sy blog aan ‘n Afrikaanse webtuiste wat ‘n register van Afrikaanse blogs hou gekoppel. Maar hier op die blog pryk Herrie met ‘n Engelse boek.

Herrie verduidelik. Dis nie dat Herrie nie al geprobeer het om ‘n Afrikaanse boek te skryf nie. Trouens, op die internet is ‘n bundel kortverhale van Herrie. Maar Herrie se sukses met publikasies is kort goed, soos ‘n kortverhaal in Huisgenoot, artikels soos groen artikels in Volksblad se Bonus, artikels in Die Kerkblad, ‘n rubriek, Herrie se kerrie, ens selfs ‘n paar bydraes vir Volksblad se rubriek, Goeiemôre en sy voorganger, Stop van Myne. ‘n Paar gedigte is gepubliseer, ook in die buiteland, en dan het ‘n paar artikels in vaktydskrifte, ook oorsee verskyn.

Maar die uitgewers wil nie aan Herrie se langer werke byt nie.

Die Engelse boek het ‘n aanloop. Herrie het getob oor die skryf van iets oor die lewe van boemelaars, en toe ‘n erkende skrywer ‘n “consignment”-opdrag by ‘n Amerikaanse uitgewer kry, maak Herrie van die uitnodiging gebruik om ‘n ietsie as kort storie by te sit: “A Hobo’s tale.” Van die skrywer se projek het egter niks gekom nie, en Herrie sit toe met (nog) ‘n manuskrip. Dis toe dat Herrie ‘n plaaslike uitgewer nader, en dié sê maar die storie moet ‘n volwaardige boek word.

Herrie val toe vir daai een. Herrie werk by, en stuur na die uitgewer se “reader” en hy skryf terug met aanbevelings. Toe dit klaar is, is die “reader” weg, en die opvolger kraam in sy doek oor Herrie die lesers so beledig om by die vloekwoorde *&^% te skryf, in plaas van die vloekwoord self. Afgesien van enige gewetensaak, was dit ook darem funksioneel in ‘n satiriese werk.

Met hierdie “reader” uit die weg, kry die volgende ‘n kleintjie oor ‘n familie-uitleg, wat Herrie toe maar ter wille van die vrede aanpas. Maar dié “reader” is te gou weg, en die volgende vind die inhoud te ongeloofwaardig. Dit was vir Herrie vreemd aangesien alles uit koerante se elektroniese argiewe of ander werklike lewe-kennis kom. Maar die valbyl het geval. Die uitgewer laat weet bloot: “Sometimes reality is stranger than fiction.”

Die feit dat die manuskrip voltooi was in die dae toe politieke korrektheid ‘n groot rol gespeel het, het moontlik ‘n rol gespeel. Uiteindelik is maar buiteland toe met die manuskrip.

Freedom too

Die titel van “A hobo’s tale” het na “Cry Freedom too” verander toe dit duidelik word die manuskrip spreek ‘n wye spektrum mense en hul belange aan wat nie in 1994 “vryheid” gekry het nie. Sommiges, soos die boemelaars en die aanverwante bergies, was al daar, en hul omstandighede het eerder moeiliker as beter geword.

Die verhaal is breedweg gebou om die verhaal van ‘n bekende Bloemfonteinse gerehabiliteerde boemelaar. In plaas van musikus, is die hoofkarakter ‘n skrywer om ‘n manier te kry om die verhale en ervarings op te teken. Die musikus bevind hom egter wel ook op die parkie. ‘n Parkie in Kaapstad dien as die “plek” waar verskillende karakters van verskillende dele van die land in een park saamgevoeg is.

Ander kategorieë wat aan die beurt kom is kinders van kinderhuise waar veel te wense oorgelaat word, straatkinders, plaasmoord-slagoffers en werkloses.

‘n Tweede deel breek aan waar die uitstyg begin, en die twee hoofkarakters na Hermanus verhuis.

Simboliek speel ‘n belangrike rol. Wanneer die hoofkarakter ‘n rugbybal skop, trek dit besonder ver om die uitstyging te simboliseer. Wanneer hy met aanvallers baklei, loop hulle baie erg deur om die publiek se frustrasie met misdaad simboliese vrye teuels te gee. Die mooie (getekende prente) is ondergronds in ‘n stormwaterafvoerpyp. Tog is probeer om die boek, soos ‘n Asterix-boek, te skryf dat mense op verskillende vlakke tog ‘n storie sal vind.

Dit blyk dat die boek heeltemal te duur is om na Suid-Afrika in te voer.

Mense wat belangstel, kan my dus kontak by fotostaatsentrum@iburst.co.za om ‘n kopie van die memorandum per e-pos te kry. Al wat ek vra is dat hierdie mense, as hulle mense dis die moeite werd, by hul familie en vriende in die VSA en Kanada die boek aanbeveel en dat dit dan bestel word. Die bestelgegewens is op die internet.