Print
Clean
Clean
false
false
false
MicrosoftInternetExplorer4
Bestekopname vir die
verkiesing
‘n Goeie foto sê meer as ‘n
duisend woorde.
Die afgelope paar dae kon Vrystaters in
die media foto’s sien van onder meer ‘n straat in Ventersburg wat
eens ‘n teerstraat was, maar nou tot ‘n bruin pulp vertrap is. Nog ‘n
foto wys hoe ‘n laerskool in Bronville by
Welkom elektrisiteit met ‘n kabel van ’n huis oorkant die straat
aanlê omdat die onderwysdepartement glo nie geld het om vir elektrisiteit by
hierdie skool te betaal nie.
Die presidensiële jaarverslag wat
onlangs bekend geword het, is verbasend eerlik oor verskeie aspekte. Daar word
onder meer toegegee dat korrupsie en die inkomstegaping
toegeneem het. Daar word egter ook volhard met die klem op die groter getal
mense wat nou toegang tot basiese dienste het as wat die geval was toe die nuwe
bedeling aangebreek het. Kenners is gou by om die gehalte hiervan aan te val.
‘n Spoelrioleringstelsel
is immers ‘n gesondheidsgevaar as dit nie aan ‘n
stelsel gekoppel is nie, of as die bestaande infrastruktuur onvoldoende is, of
as die pompe by die suiweringsaanlegte nie werk nie. Onlangs nog is berig dat
opgehou tel is toe ontleders by twee miljoen e-Coli-bakterieë
per 100 milliliter water in die Vaalrivier gekom het. Drinkwater mag geen e-Coli bevat nie.
Dit is trouens vir die verstand moeilik
om te midde van die gereelde berigte ‘n persepsie van die omvang van die
probleme te vorm. Teen die tyd dat ‘n mens van die babasterftes
in die Oos-Kaap lees, het mens reeds van die babasterftes
by Reitz vergeet. Tussenin is mense in Soweto aan cholera dood wat skaars die
media gehaal het. Die Delmassterftes is al in die
vergetelheid. Dat ‘n afvaardiging aan die parlement gesê het Suid-Afrika
sit nog op honderde potensiële Delmasse is ook reeds
grootliks vergete.
Goeie foto’s help dat die
onaangename werklikhede langer vasslaan.
Net ‘n vyfde van die land se 247
munisipaliteite kon ongekwalifiseerde verslae by die Ouditeur-generaal verwerf.
Nie minder nie as 22 se verslae is verwerp, en in 101 gevalle is ‘n ouditmening weerhou. In net 2 gevalle het munisipaliteite
heeltemal skoon verslae gekry.
Terwyl sommige politici duidelik
probeer om kiesersteun te werf deur aanstigting en
ophitsing, soos ook vandag deur mnr. Roy Jankielsohn, Vrystaatse leier van die DA in Volksblad
uitgewys, is daar al hoe meer tekens dat politici soos mnr. Johnny de
Lange bekommerd raak oor die sake soos die strafregstelsel wat op mank bene
staan. Ander is eerlik oor die toedrag van sake in die onderwys.
Die slegte nuus is dat hierdie
nugterheid in die ANC hoofsaaklik tot mense beperk is wat duidelik in die Mbeki-kamp staan.
Meningspeilings dui al ‘n geruime
tyd daarop dat die publiek minder verskonend oor die regering se mistastings
is. Vertroue in die regering se hantering van inflasie het al tot ongeveer 30
persent gedaal in ‘n opname wat gedoen is lank voor die voedsel- en brandstofkrisisse hul
knyp laat voel het. Tog dui ander peilings dat opposisiepartye nie regtig wen
deur die ontgogelings wat plaasvind, soos wat in ‘n volwasse demokrasie
sou gebeur nie. Jan-Jan Joubert het byvoorbeeld
daarop gewys dat die ANC steeds sterk, dalk sterker as na die vorige verkiesing
maar swakker as na die oorlopery, uit die verkiesingstryd sal tree onder meer
weens die inploffing van die IVP. Die aanduidings is wel daar dat ‘n
groot wegblystem ‘n rol gaan speel.
Die opposisie het ‘n ondankbare
rol. Tydens ‘n vorige verkiesing is dit al bewys dat ‘n felle
aanslag op die ANC se mislukkings deur baie kiesers as ‘n anti-swart sentiment vertolk word, en kiesers juis na die
ANC dryf. Opposisiepartye wil juis die beeld uitdra dat hulle positief is en
nie net teer op die regerende party se foute nie. Korrupsie het volgens
sommiges so endemies geword dat mense en organisasies wat belange gekoop het,
nie kan bekostig dat die ANC sy beheer verloor nie.
Druk is op die opposisiepartye om saam
te staan, wat ook ‘n rits potensiële nadele kan inhou, soos dat dit as ‘n
blote anti- ANC-aksie
gesien kan word, en dat partye wat weens unieke beleidsriglyne
‘n eie trekkrag vir hul nismarkte het, hierdie
glans kan verloor.
Die ANC staan ook nie met leë hande
nie, en hoewel bedenkinge oor die kwaliteit gekoester kan word, sal die party
sy groot toegang tot fondse gebruik om die positiewe hiervan uit te lig. Boonop
staan die ANC onder nuwe bestuur – weliswaar onbeproef en met
gevaartekens – maar dit inhibeer nie die openbare steun nie.