Nuuskommentaar: Ratte en koning Rugby

Nuuskommentaar: Ratte en koning Rugby

Met die Curriebekerseisoen wat einde toe snel, is Koning Rugby skielik beleër. Presies hoe groot die opstand is vanuit die geledere van dié sport se eens tradisionele ondersteunersgeledere, is nog nie duidelik nie, maar volgens veral blogkommentare wil dit voorkom asof dit waarskynlik beduidend is.

Dié kommentare het dit veral oor Afrikaners wat steeds rugbymal is, terwyl daar onregte teen die volk, of lede van die volk gepleeg word. Die twee name wat veral opduik, is oud-kommandant Willem Ratte wat aangekeer is, en nou op ‘n eetstaking is, en Clive Derby-Lewis wat baie siek in die tronk is.

Dit kom voorts teen die agtergrond van ABSA se transformasie-eise vir rugby, en veral die uitvoerende hoof, Maria Ramos se stelling dat wie se brood ‘n mens eet, die se lied moet ‘n mens moet sing – ‘n duidelike aanduiding dat ABSA van SA Rugby verwag om by ABSA se eie beskouing van ragebaseerde transformasie in te val.

Die beswaarmakers se argument is basies dat Afrikaners hul siele aan rugby verkoop, terwyl hulle nie daar welkom is nie, en diegene wat hiervoor verantwoordelik is, kop in een mus is met diegene wat vergeldend teenoor Derby-Lewis, Ratte en ander optree.

Ietwat gesensor, lui een kommentaar: “Los die verbrande rugby solank as wat Ratte besig is om in die tronk dood te gaan.”

Dit staan, in die laaste instansie, teen die agtergrond dat baie Afrikaners soos vreemdelinge in hul eie land voel.

Dat dit hier om persepsies van ‘n onbekende skaal handel, is kwalik ter sake. Die feit is dat dit bestaan, en soos sake nou staan waar koerantopskrifte met slegte nuus nie minder word nie, en die regering se reaksie daarop meer ontstellend word, sal dit in alle waarskynlikheid verder toeneem.

Onder diegene wat openlik ‘n breekspul bepleit – soms met die uitdruklike versugting dat meer Afrikaners in die proses ‘n volkstaat sal opeis, is daar lank reeds ‘n frustrasie dat koning rugby soos ‘n dwelmmiddel hierteen inwerk. Wanneer rugby aan die bod kom, word alle sorge vergeet, en raak mense uit hul kassie. Dit is ook, tot frustrasie van sommige van die ongelukkiges, gebruik vir groot versoeningsgebare soos rugbywedstryde in Soweto.

Rugby is ‘n hoogs kommersiële sport. Soos sake nou reeds staan kan plaaslike rugby nie werklik met oorsese klubs meeding om van die land se topspelers plaaslik te laat meeding nie. Baie mense, waaronder ook baie Afrikaners, kan nie betaal-TV bekostig nie, en so word heelwat van die jonger geslag in ieder geval basies rugbyloos groot. Provinsiale spanne het dikwels bitter min plaaslike talent op die veld, wat dikwels tot erg wisselvallige vertonings lei. Dit laat provinsiale lojaliteit erodeer, en stadions is baie dikwels baie leeg.

Al is die Afrikaner se rugby-afvalligheid nog bitter klein, die feit is dat dit daar is, en dat die internet ‘n doeltreffende meganisme bied om hierdie ongelukkigheid te laat eskaleer.

Rugby kan baie doen om die effek teen te werk. Dit kan – en behoort – die rug styf te maak teen regeringsinmenging in sport. Omdat die internasionale rugbyliggaam, soos die meeste ander sportkodes soos Fifa en die IOK regeringsinmenging en rassisme in sport verbied, behoort SARU deur die IRB gerugsteun te word as die regering met rasgedrewe transformasie-eise by rugbysake inmeng.

Of rugby kan dobbel en rug styfmaak, en vertrou dat die opstand nietig sal bly. Dalk, net dalk, spring die bal egter verkeerd.

Curriebeker: Dis Haaie teen WP

Curriebeker: Dis Haaie teen WP

In die jare toe Curriebekerspanne nog met die trein gereis het, en geld bitter skraps was, het ‘n Vrystaatspan bestaande uit net die 15-tal Nuweland toe gereis. Op die trein is lekker gekuier, en een van die voorspelers het sy knie seergemaak. Toe dié speler die Saterdag op Nuweland se stasie afklim, is die been stokstyf. Omdat hy noodgedwonge moes speel, is hy aangesê om na die beste van sy vermoë die laaste vesting saam met die heelagter te verdedig.

Met die broeke wat destyds tot by die knieë gekom het moes die speler wat so met sy stywe been heen en weer oor die veld gepiekel het ‘n groot indruk gemaak het.

Na die wedstryd is die Vrystaatse kaptein naby die Suid-pawiljoen, toe een van die toeskouers vir hom vra: “Waar kry mastah-hulle daai voelbek met die houtbeen?”

Saterdag in die halfeindstryd op Nuweland kon die voelbek met die houtbeen netsowel gespeel het.

Oor twee weke spook die Haaie en die WP in Durban sake om 2010 se Crurriebeker uit.

Met die Blou Bulle se neerlaag van 16 – 12 in Durban teen die Haaie, was kanse vir ‘n eindstryd in Bloemfontein daarmee heen – wat in elk geval geblyk het van akademiese belang te wees toe die Cheetahs vergeet het om op Nuweland op die veld te draf.

Die halfeindstryd in Durban sal waarskynlik meer onthou word vir die byeswerms wat die aanbreek van die wedstryd vertraag het, en toe ook die Kaapse wedstryd laat laat begin het. Die Haaie het sommer met die afskop ‘n voorbeeld van balretensie gestel wat na ‘n rits fases op ‘n drie uitgeloop het.

Later het reën die bal seepglad gemaak, en veral die Bulle het meer met die voet probeer aanval, en so waarskynlik ook hul laaste wenkans verongeluk deur in die doodsnikke die bal vir die jong Lambie wat op heelagter moes uithelp geloods het, en besit afgestaan het.

Nietemin, die reën het ‘n invloed gehad, en die Bulle kon netsowel as die wenners van die veld gestap het, en sou waardige eindstrydmededingers kon wees.

Wat kan van die Cheetahs gesê word?

Die afgelope dekade al eindig die Cheetahs se “taktiese” skopwerk gereeld onder hul eie pale. Heel dikwels het hierdie stroomop-drieë die verskil tussen wen en verloor gemaak, en ‘n mens sou verwag dat die Blikore oor hierdie mamparraskoppe sou begin besin. Maar watwou, toe die sportskrywers eers begin skryf oor meer skoprugby in die uitkloprondtes, en die verwagte tweestryd tussen Generaal de Waal en Louis Strydom, was die skrif vir die Cheetahs reeds aan die muur.

Of meer hardlooprugby vir die Cheetahs veel meer heil sou bring is ook ‘n ope vraag deurdat dit by tye gelyk het of die Vrystaters die heel week aanslane geoefen het.

Die reëls van moderne rugby is egter ontwerp om balretensie en hardlooprugby te bevorder, en dit was selfs daarvóór die Wit Tornado se kenmerk. Maar stelselmatig het die bal in die hand wat die werk moet doen, plek begin maak vir uitdrukkings soos skoppe in die hoeke, en speel in die opponente se halfgebied. En dis uit daai einste halfgebiede waaruit die teenstanders nou al ‘n dekade lank pasellabesit kry en drieë druk. As dit die afdanking van die Naka en Hawies beteken om die siekte uit die Vrystaat te kry, dan moet dit so wees.

Uiteindelik was die WP 31 – 7 baas.

Op vertonings in die halfeindstryd geoordeel moet die WP – wegwedstryd ten spyt – as gunstelinge beskou word. Beide spanne het skynbaar net nie swak skakels nie.

Herrie se kerrie: Veeltaligheid in die Oos-Vrystaat

Herrie se kerrie: Veeltaligheid in die Oos-Vrystaat

Die Oos-Vrystaat is bekend daarvoor dat baie mense baie ander mense se moedertaal kan praat. Mev. Herrie kan self Suid-Sotho vlot praat, en so ook haar susters en ouma Engela.

Maar die Oos-Vrystaat is ook die tuiste van baie Zoeloesprekendes, en so het Herrie die vreemdheid beleef van ‘n Indiër van anderkant die berg wat by oupa Nic kom aartappels koop het. Met oupa Nic praat die man Engels, maar vir die meeste plaaswerkers is die Rooi Taal Grieks. Maar ook hier word die kommunikasie flink voortgesit – in Zoeloe.

Eendag vertel ‘n Engelssprekende boer van Tweespruit vir Herrie hy en sy vrou, met hul kroos, gaan kuier by geleentheid by die Afrikaanse bure. Die grootmense hoor die kinders speel buite ‘n hond uit ‘n bos uit, en wonder toe in watter taal hulle so speel. Hulle gaan kyk...en vind die kinders laat waai met die Suid-Sotho.

Jare gelede had die Herries bure met ‘n papegaai. Of daai papegaai ooit kon praat, kan Herrie hom nie herinner nie, wel dat die papegaai die telefoon se lui kan namaak. Tot frustrasie van die huismense. Want word in die tuin gewerk, moet kort-kort ingestorm word om die telefoon te gaan beantwoord.

Die Herries se hond, Pumba, kan darem self ‘n paar vreemde geluide opdis. As Pumba aandag soek, klink dit amper soos ‘n voëltjie se gefluit. Maar Pumba bly darem hoofsaaklik hond, en sit saam met die buurt se honde die blafgesang in as daar iemand met ‘n hond aan ‘n leiband die sypaadjie afstap.

Hoe dit gekom het dat honde blaf, weet Herrie nou nie, want wolwe, waaruit honde geteel is, is nie juis blaffers nie. Herrie se boet het twee hond – wolf kruisings, en dié het by die regte hond geleer om darem so half en half te blaf, maar dis steeds meer wolegeluide. Miskien het die gedomestiseerde hond by dassies in die Ou Wêreld, en by die “Prairie dogs” (Amerikaanse meerkatte) in die Nuwer Wêreld geleer blaf.

Die kat kan self die aardigste geluide voorbring as Pumba hom skraap. Tussen al die sisse se geblaas deur is daar nog iets wat klink soos papier wat skeur.

By geleentheid sit die muisgesin aan tafel, toe die kat skielik daar inspring en onder hulle wil begin vang. Van pure skok begin die pa-muis kliphard blaf. Die kat skrik hom asvaal en maak spore. “Ek het julle mos gesê hoe belangrik dit is om ‘n tweede taal aan te leer,” sê pa-muis vir sy gesin.  

Nuuskommentaar: Museums

Nuuskommentaar: Museums

Gewoonlik is daar ‘n regte manier van dinge doen, en daar is ‘n verkeerde manier van dinge doen.

Oor die meriete om museums in Bloemfontein saam te smelt ter wille van die beter aanwending van hulpbronne wat veral kleiner museums – ook in die omgewing – sal bevoordeel kan gedebatteer word. Daar is gereeld berigte oor klein museums in die omgewing van Bloemfontein wat tekens verval toon. By een museum sal ‘n besoeker aan die instansie se “landbou-afdeling” byvoorbeeld gelukkig wees om die stukkies geroeste metaal tussen die lang gras op te spoor.

Wanneer die hoofde van verskeie museums egter in die koerant moet lees dat so ‘n samesmelting beoog word, en boonop dat gesprekke glo al ver gevorder is, begin die gevaarligte reeds flikker.

Kruie die mededelings nog met ‘n taalgebruik wat sommiges as haatspraak beskou, dan is daar bepaald ‘n skroef los. Weer duik die omstrede en gelaaide woord, transformasie, op en dit kort na die ABSA-debakel vir soveel woelinge gesorg het.

Transformasie neem nou – gegewe die taalgebruik – die vorm aan van ‘n heksejag op veral wit mans. Blykbaar is geen taalgebruik erg genoeg om dié spesie mee af te kraak nie, ook nie binne die konteks van sy grondwetlike kultuurerfenis nie.

Onlangs het die ANC-lojalis, dr. Jakes Gerwel, in dieselfde asem wat hy meen die ANC is ‘n vrotsige regering, tog beswaar gemaak dat die ANC dikwels as landsvyand voorgehou word.

Maar walgooi soos hy wil, die tekens dat dit juis die geval is laai op. Sal ‘n regering met edele motiewe so ‘n veldtog op tou sit om die media te muilband en die publiek se reg op inligting te beperk? Beide hierdie regte is in die grondwet verskans. Sal ‘n regering met edele motiewe soveel vrye teuels aan leiers in eie geledere gee wat liedjies aanhef soos “Maak dood die Boere,”?  Nadat Pansat die regering as die grootste oortreder van die grondwet se taalbepalings beskryf het, was die regering reeds verskeie kere in die hof oor taalkwessies. Die jongste toevoeging tot hierdie langerwordende lys is toe die leier van die Christen-Demokratiese Party, ds. Theunis Botha, die onteieningsplanne in die nuwe Groenskrif oor Grondhervorming as diefstal beskryf het. Ook eiendomsreg is in die grondwet, en boonop die Handves van Menseregte, vervat.

Voeg hierby die ritse verslae van die ouditeur-generaal waarin die regering op alle vlakke die kous oor die kop kry. Op die oomblik word baie mense in Bloemfontein se elektrisiteit ontkoppel weens sogenaamde wanbetaling. Verontriefde inwoners moet dan skarrel om hul betalingsbewyse te faks na ‘n lang rits meestal onbeantwoorde oproepe dadels opgelewer het.

Kortom, in Bloemfontein maak dure ervaring dat baie mense transformasie blindelings as ‘n verwoesting van standaarde beskou. Om hierdie woord nou saam met erg gelaaide taal te gebruik om vir die een of ander beter bedeling voorspraak te maak, doen niks anders as die skep van ‘n “ons en julle”-situasie nie.

Nee wat prof. Jakes, soos hulle al lankal sê: Die wind waai wes.

Nuuskommentaar: Grondhervorming en onteiening

Nuuskommentaar: Grondhervorming en onteiening

Benewens sekere ontstellende aspekte van die Groenskrif oor Grondhervorming wat na die media uitgelek is, spreek die opstellers in die groenskrif self die kommer uit dat van die voorstelle op regsgronde teenspoed kan kry.

Terselfdertyd spreek die prokureurstydskrif, De Rebus, kommer uit oor swak opgestelde wetgewing wat nou endemies word.

Daar is weliswaar ‘n verskil tussen die swak opstel van wetgewing weens onbevoegdheid en juridiese dwaling in ‘n groenskrif weens ‘n verbintenis tot ‘n ideologie wat nie met die grondwet strook nie. Die implikasies verskil ook – die swak opgestelde wetgewing kan hersien word wat ‘n tydsverlies tot gevolg het. ‘n Ideologies-gedrewe groenskrif wat ongrondwetlikhede bevat, jaag gemoedere op en skep juis die soort onstabiliteit wat die grondwet moet neutraliseer. Plaas dit boonop in die konteks waar die regering ook op ander terreine die grondwet uitdaag, soos met mediavryheid en transformasie wat teenstrydig is met die regte van kultuurgemeenskappe.

Uit die groenskrif is dit duidelik dat die opstellers in wese steeds onteiening as die doeltreffendste meganisme beskou om meer grond vir grondhervorming te bekom, en pryse af te dwing. Die blote gedagte dat die finale veto deur die grondeienaar uit die weg geruim moet word, laat die gevaarligte flikker.

Baie van die regs- en grondwetlike kwessies sal groter duidelikheid hê wanneer die hofsaak van Agri SA oor die regering se effektiewe onteiening van die boere se ondergrond finaal besleg is. Dit sal dus moontlik almal loon om die groenskrif, soos dit nou staan, op die ys te plaas tot daardie hofsaak afgehandel is, waarskynlik uiteindelik in die grondwethof, voor ook die wetgewing voortspruitend uit die groenskrif ook in so ‘n regsproses gedompel word.

Die staat behoort hom ook nie te veel oor die oponthoud te verknies nie. Soos sake tans staan is grondhervorming baie selde ‘n sukses, met talle grondhervormingsplase wat in toestande van erge verval en selfs verlate is. Terwyl die staat dan hierdie kwessie regstel kan die nodige kundigheid opgedoen word, ondersoeke na korrupsie wat baie van die grondhervormingsgeld ingesluk het, die dissiplinêre verhore en vele meer afgehandel word. Dit sluit Agri SA se saak by die Menseregtekommissie in wat handel oor gevalle waar die Departement van Grondsake hul waardasies aan die verkoper geheim gehou het, en die boer minder ontvang het as die staat se eie waardasie.

In die finale instansie is daar rede om kommer te hê oor die geloofwaardigheid onlangse mededeling van die minister van Landbou, Tina Joemat-Pettersson by Agri SA se kongres, dat die ANC nie meer die kommersiële landbou as die vyand beskou nie. As sy dit werklik eerlik bedoel het, dui die inhoud van die groenskrif daarop dat daar beslis ‘n geval is van die linkerhand wat nie weet wat die linkerhand doen nie.

Splendid isolation - Bate of las?

Splendid isolation – Bate of las?

Gaan Suid-Afrika se Veiligheidsraadtermyn weer in ‘n fiakso ontaard?

In die 19de eeu het Brittanje formeel ‘n beleid van Splendid isolation gevolg. Ongeveer dieselfde tyd het die VSA die Monroe leer as beleid aanvaar.

Splendid isolation het beteken Brittanje sou nie in die sake van ander Europese lande inmeng nie, tensy die lande in sy slaai kom krap. Hy kon ‘n bykans volledige merkantilistiese benadering tot sy eie ekonomie volg omdat die land, saam met sy kolonies, min of meer selfversorgend was.

Die Monroe leer was in hoofsaak daarop gemik om te voorkom dat veral Europese moondhede die plek van die Spaanse koloniale mag sou inneem, namate die Spanjaarde hul kolonies in Latyns-Amerika moes prysgee. Tog was daar ‘n element van gemeenskaplikheid – die VSA het ook onderneem om nie in die interne sake van Europese lande in te meng nie.

Splendid isolation het onder druk gekom namate kolonies onafhanklike geword of dominiumstatus verwerf het. Voorts het Brittanje deel van die Europese Unie geword, maar darem ‘n stukkie simboliek van die verlede probeer behou deur aan die Britse pond vas te klou, en nie die Euro as geldeenheid in te voer nie.

Die Monroe-leer het op sy beurt plek gemaak vir die konsep van hemisphere defense. Ook dit kon nie heeltemal bly staan nie, aangesien die VSA teen wil en dank by die Tweede Wêreldoorlog ingetrek is, en sedertdien ook die skyf van internasionale terreur geword het. 

Maar lank voor Osama sy ding gedoen het, was die VSA reeds opgesaal met sy rol as internasionale polisieman. Inmenging, soos die inval van die Bay of Pigs, het nie net tot die Amerikas beperk gebly nie. Die VSA was in Korea en in Viëtnam betrokke nog voor Osama se aanval op die Twin Towers die aanslag teen die Taliban, en later, Saddam Hoessein, ingelui het.

Brittanje is effens minder ‘n internasionale polisieman, maar ten tye van die besluitneming oor ‘n amptelike taal vir die Europese Parlement, het die gogga van taalimperialisme, heel moontlik anders bedoel, ‘n ligte opskudding tot gevolg gehad.

In Europa het die persepsie posgevat dat Brittanje doodgewoon aanvaar dat Engels die amptelike taal sou word. ‘n Verontwaardige “Non!” van die Franse was te wagte, maar van ander Europese state het ook meer weerstand gekom as wat verwag is. Die Duitse “Nein!” was nie heeltemal onverwags nie, maar die stroop van Engels van webwerwe is miskien nie voorsien nie. Voor die kwessie op die tafel beland het kon ‘n navorser wat nie Duits magtig is nie, ongeveer alles wat op die Christen-Demokratiese Unie se webwerf in Duits beskikbaar was, ook in Engels opkyk deur die Engelse opsie te kies. Kort hierna was daar effektief niks Engels beskikbaar nie, en ‘n hele ruk hierna kon iemand darem ‘n paar stukkies in Engels te lese kry. Ongeveer dieselfde het in Nederland en Swede gebeur, waar algemeen aanvaar is dat ‘n baie pro-Engelse sentiment bestaan.

Op universiteit word ‘n mens geleer dat die taal Fries nader aan Engels as aan Nederlands is. Het ‘n mens tekste in “Fries” op die internet gelees, was dit egter baie makliker uit Nederlands as uit ‘n kennis van Engels leesbaar. Skielik, egter, is die oorspronklike Friesiese dialekte afgestof, en kan ‘n mens dit eintlik net lees as ‘n mens ‘n leeskennis van tale soos Sweeds of Deens het. Onlangs is Friesies ook as ‘n amptelike tal in Nederland erken, en het verskeie artikels verskyn oor Nederlanders se nuutgevonde taaltrots. Daar het selfs ‘n eerste Bybelvertaling in Brabants verskyn.

Nie alles kan natuurlik herlei word na die persepsie dat die Engelse hul taal as meerderwaardig beskou het nie. In Nederland was daar ongeveer dieselfde tyd selfs betogings deur immigrante wat geëis het dat hulle die reg moet hê om Engels, in plaas van Nederlands, aan te leer, en dat hul kinders in Engels moet kan skoolgaan. Toe kook die Geuse bloed, want dit is nou al ‘n geruime tyd duidelik dat immigrante, veral sommige immigrante, nie meer so lekker afgaan nie.

Wanneer gaan trots op die eie oor tot ’n ingesteldheid van “splendid isolation?”

Tydens Suid-Afrika se isolasiejare is by tye hard verkondig dat Suid-Afrika sy rug kan styf maak. Omdat Suid-Afrika nie selfversorgend met sy vloeibare brandstofbehoeftes is nie, moes die gordel plek-plek ingetrek word. In ander opsigte het dit egter gelyk na “splendid isolation.” Suid-Afrika het sy eie kernwapens gebou, die land het hartoorplantings gedoen, die Scheaffel-stelsel ontwikkel, en vele meer. Die rand was laat in die 70-gerjare so sterk dat dit gelyk het of een rand kort voor lank twee dollars sou koop – ligjare verwyder van die rand se posisie nou.

Tog, met die aanbreek van die onderhandelings met die ANC is ‘n baie ander prentjie geskets – Suid-Afrika is op sy knieë gedwing – splendid isolation en sy eie Monroeleer om sy belange tot by die ewenaar militêr te beskerm, het volgens die nuwe stemme tot stof verdof – in der mate dat die Kemptonparkse onderhandelings meer die karakter van oorgawe gedra het.

Ander lande in die moderne geskiedenis wat deur “splendid isolation” vir die wêreld wou tong uitsteek, is Zimbabwe en die Uganda van Idi Amin. Uiteraard was dit meer simbolies van aard omdat sanksiebrekers soos Libië – self na die Lockerbie-ramp tegnies in isolasie – gesorg het dat hierdie lande nie so geïsoleerd was soos wat voorgehou is nie.

Voorheen was daar ook ander lande wat tot hul nadeel “splendid isolation” probeer toepas het. China het deur die loop van sy geskiedenis trouens meer as een keer in isolasie teruggetrek, of probeer terugtrek. Vandag word die Chinese se glorietydperke van wydverspreide seereise moeisaam gerekonstrueer omdat van die keisers so paranoïes oor die wêreld daarbuite geraak het dat dokumente en ander bewyse daarvan vernietig is. Onder die kaarte wat die vernietiging vrygespring het, is een van die suidpunt van Afrika, wat daarop dui dat die Chinese reeds voor Diaz om die Kaap gevaar het – van die ander kant af. ‘n Afdruk van die kaart is enkele jare gelede aan die Suid-Afrikaanse parlement oorhandig.

Vandag wil dit voorkom asof die Chinese seevaarders eens Australië, en selfs die Amerikas besoek het. Voor die sogenaamde opiumoorlog is vir oulaas probeer om westerse imperialisme deur isolasie te bekamp.

In die stadium toe Japan sy grense vir Westerlinge gesluit het (behalwe vir ‘n klein Nederlandse handelspos) was Japan en Europa se beskawingspeile min of meer gelyk. Toe Perry met sy indrukwekkende oorlogskip vasmeer en die opheffing van die isolasie eis, was Japan steeds Middeleeus. Nie lank hierna nie, het die Japannese genoeg selfvertroue in hul eie inhaalwerk gehad, dat ‘n aanval op die Amerikaanse vloot in Pearl Harbour geloods is. So, ironies, is die VSA uit sy selfopgelegde isolasie geruk, en by die oorlog betrek.

Hierna het terme soos die ystergordyn en bamboesgordyn ontstaan. Ook hier moes “splendid isolation” plek maak vir oper bedeling.

Wat Suid-Afrika betref, het die konsep van laertrek ontwikkel, dikwels neerhalend bedoel. Tog, moontlik word laer getrek teen die regstreekse omgewing wat soveel kenmerke van onsimpatiekheid en vreemde standaarde openbaar dat die ANC-lakei, dr. Jakes Gerwel onlangs walgegooi het en verweer het dat die ANC nie as landsvyand beskou kan word nie. Maar vanuit dieselfde “laer” word moeite gedoen om bande te smee met Dietse kultuurgenote.

Pas het Suid-Afrika weer ‘n tydelike setel in die VN se Veiligheidraad verwerf. Die vorige rondte het die narrestreke en vreemde beslissings van die ambassadeur Suid-Afrika ideologies ook in isolasie probeer dompel – en in daardie isolasie was daar geen “splendour” nie.    

Nuuskommentaar: Politieke korrektheid die diktatuur van die liberalis

Nuuskommentaar: Politieke korrektheid die diktatuur van die liberalis

Die rissiepit-aktivis Rhoda Kadalie skroom nie om haar mond behoorlik uit te spoel nie, en indien daar heilige koeie is wat sy nie slag nie, is hulle bitter skaars.

Pas het sy in haar rubriek in Die Burger die stelling gemaak dat politieke korrektheid die diktatuur van die liberalis is.

Dit staan wel in ‘n bepaalde konteks, naamlik Suid-Afrikaanse universiteite wat nie meer ‘n ellelange lys van top universiteite haal nie, behalwe die Universiteit van Kaapstad, wat bowendien so erg die kreeftegang op die indeks gaan dat dit binnekort sal aftuimel.

Kadalie meen ten regte dat universiteite se primêre taak is om opvoedkundige inrigtings van akademiese uitnemendheid moet wees. ‘n Knievallery voor die regering plaas die hoofdoelwit egter baie laag, indien hoegeneemd, op die agenda.

Dat dié onderwerp ter sprake kom kort nadat Ikeys se rasgebaseerde keuringsbeleid by sy mediese fakulteit erg deurgeloop het, is nie toevallig nie. Die ironie was dat ander rektore, wat maar self agter die deur staan, die UK oor sy benadering gestriem het.

Dit staan egter ook in die konteks van ‘n omvattender kwessie wat rondom die ABSA-transformasiedebakel in rugby losgebars het. Die uitvoerende hoof, Maria Ramos, het petrol op die vuur gewerp deur te verklaar dat ABSA tot transformasie verbind is, en, verwysend na die borgskap, dat die ontvanger die lied moet sing van die een wie se brood hy eet.

Maar transformasie staan nie in die grondwet nie. Trouens, regstellende aksie ook nie in soveel woorde nie, en nog minder affirmative action wat juridies eintlik ‘n ander, ras-nepotistiese betekenis het. Wat die grondwet wel bepaal is dat wetgewende en ander maatreëls getref kan word om diegene wat weens onbillike diskriminasie in die verlede benadeel is, se posisies te beskerm en te bevorder. Naas ras, is daar ‘n hele spektrum van kriteria, soos gestremdhede. Soos die grondwet nou lees, kan enigeen wat deur die regering se beleid van affirmative action of transformasie benadeel is, nou op regstellende aksie aanspraak maak. Veral mense wat hoofsaaklik uit die post-1994-bedeling stam, kan aanvoer dat die diskriminasie teen hulle aan die onbillikheidsvereiste voldoen.

Die hoofargument teen die transformasieprogram is dat dit rasgebaseer is, terwyl die grondwet in beginsel nie-rassigheid bevorder. Transformasie staan egter ook regstreeks teenoor Artikel 6.2 van die grondwet vereis dat die staat aktiewe maatreëls moet instel om die status en gebruik van inheemse tale te bevorder. Terwyl die regering moontlik sal aanvoer dat Afrikaans nie ‘n inheemse amptelike taal is nie, kan daar by niemand enige twyfel wees dat Engels beslis nie ‘n inheemse taal is nie.

Retore en universiteitsrade is weens staatsubsidies in wese geen alternatief gelaat as om uiters versigtig met die regering van die dag om te gaan nie. Dit strek egter nie die regering tot eer dat universiteitshoofde  voor ‘n keuse van verbintenis tot die grondwet, of regeringsbeleid wat daarmee strydig is, gestel word nie.

Word egter na die briewekolomme gekyk, is dit duidelik dat Kadalie ‘n punt beet het. Mense wat hul rug styf maak en op hul grondwetlike, kulturele regte aandring, soos moedertaalonderrig by die Universiteit van Stellenbosch, word erg met die teerkwas bygedam. In ‘n stadium het die skelwoord, nieu-konserwatief, mode geword, en was veral gemik teen mense wat eens as die voorste drywers van verandering beskou is, maar halt geroep het waar die baba saam met die badwater uitgegooi word.

Pas het die minister van Kuns en Kultuur aangekondig dat oorweeg word om die verskillende museums in Bloemfontein in een struktuur op te neem, wat onder andere NALN en die Oorlogsmuseum insluit. Die motief: Om transformasie te versnel. Gaan dit teen dié agtergrond moontlik wees om grondwetlik gewaarborgde kultuurregte te behou?       

Nuuskommentaar: Weergee van die geskiedenis

Nuuskommentaar: Weergee van die geskiedenis

Pas het lande in die Amerika’s ‘n dag lank effektief tot stilstand gekom om Columbus se sogenaamde ontdekking van die Nuwe Wêreld te herdenk. Dit volg kort na Krugerdag, wat as Heldedag bekend was voor dit afgeskaf is. In Suid-Afrika is Van Riebeeckdag, of te wel Stigtingsdag, ook nie meer ‘n amptelike vakansiedag nie.

Die wyse waarop geskiedenis deur latere geslagte weergegee en herdenk word, kan vreemde draai maak.

Vanjaar was ook die vyftigste herdenkingsjaar waarop argeoloë onomstootlike bewyse gevind het dat die Vikings meer as ‘n duisend jaar gelede, dus 500 jaar voor Columbus, kolonies in Vinland, soos hulle die Nuwe Wêreld genoem het, gestig het. Dié kolonisering het met die kerstening van die Vikings saamgeval, en die eerste Christenkolonie in die teenswoordige Kanada is ‘n duisend jaar gelede gestig.

Hierdie kolonisasie het ook nie in die geheim plaasgevind nie. Kort na die kolonisasie begin het, het die pous ‘n kardinaal vir Groenland en Vinland aangestel, en is daar heelwat geskrewe westerse bronne wat hierna verwys.

‘n Kouer tydperk het hierna ingetree sodat die Vikings hul Groenlandse kolonies ontruim het, en die Vinlandse kolonies, onder meer weens skermutselings met die inboorlinge, ook doodgeloop het.

Volgens moderne geskiedskrywers was Columbus deeglik van hierdie geskiedenis bewus, en het selfs die kaart waarop hy staatgemaak het, ‘n verbintenis met die Noormanne gehad. Trouens, teen die agtergrond van onbewese geskiedenis en munte uit onder meer Antiochië, Rome en China wat in die Amerikas ontdek is, lyk dit of Columbus eintlik ‘n baie laat aankomeling in die Nuwe Wêreld was. Dit is egter eintlik net die Viking-kolonisasie wat nou behoorlik gedokumenteer is.

Columbus self, volgens sommige bronne, het tot sy dood geglo hy het ‘n kortpad China toe gevind.

Tog word Columbus se ontdekking steeds gevier as sou hy werklik die ontdekker wees. Sy reise is wel belangrik aangesien dit tot die finale kolonisasie van die Nuwe Wêreld gelei het.

Van die lande weier egter amptelik om die Noormanne se ontdekkings te erken, en volgens argeoloë hou dit verband daarmee dat Columbus se ontdekking as ‘s ‘n trotse element van prestasie deur die Latynse volke ervaar word.

In die VSA word Thanksgiving Day, wat in effek Europese migrasie na die land gedenk, bykans net so groot soos Kersfees gevier. In Suid-Afrika het Stigtingsdag van die amptelike kalender verdwyn, byna asof dit nie plaasgevind het nie.

Twee elemente staan uit. Die eerste is dat geskiedenis veronderstel is om ‘n objektiewe weergee van die verlede te wees, asook ‘n objektiewe uitleg daarvan. In antieke China en in die geskiedenis van ander volke is enorme skade aangerig deurdat opeenvolgende dinastieë deur die verbranding van dokumentasie die spore van die vorige dinastie probeer uitwis het. Vandag word dit voortgesit in die vorm van ‘n selektiewe en selfs verdraaide maar politiek korrekte weergawes van lande se geskiedenis.

Die tweede element is hoe volke hul eie geskiedenis herdenk. Hiervoor moet die Afrikaner, die Griekwa, die Koranna en vele ander – in hierdie stadium in elk geval – self verantwoordelikheid neem.

Nuuskommentaar: Demokrasie

Nuuskommentaar: Demokrasie

Die afgelope week het twee belangrike meningsvormers politieke stellings gemaak wat nie onaangespreek gelaat kan word nie.

Pas het die DA twee tussenverkiesings verloor, of die DA-leier, Helen Zille, wys daarop dat die opposisiestem verdeel was. Dié twee wyke in die Klein Karoo het voorheen aan die OD behoort, maar na die OD en die DA effektief saamgesmelt het, het die twee raadslede by die ANC aangesluit. In die gevolglike tussenverkiesings het die ANC die botoon gevoer. Ikosa en Cope het ook ‘n klompie stemme getrek.

Dit is verstaanbaar dat so ‘n uitslag ‘n groot teleurstelling vir die DA is, wat besig is om as provinsiale regering die ANC-beheerde provinsies uit te presteer, en waar die DA munisipaliteite beheer, feitlik voor die voet ook so maak.

Of dit egter demokraties korrek is om kiesers te verkwalik dat hulle hul demokratiese reg om vir hul eie oortuigings en beginsels stem, is ‘n ander vraag, en die antwoord sluit aan by die ander omstrede uitlating die afgelope week.

Prof. Jakes Gerwel, selferkende ANC-ondersteuner, is in sy rubriek in Rapport ongewoon krities op die ANC, hoewel hy meen dat vorige kritiek uit sy mond al behoorlik geboekstaaf is. Hy het dit egter daarteen dat die ANC dikwels as die landsvyand voorgehou word, wat hy meen onvanpas is selfs al is die ANC, soos hy dit stel, ‘n vrotsige regering.

Sy beswaar is dat ‘n party wat verkiesing na verkiesing in die orde van sestig persent van die kiesers se steun trek, nie as landsvyand voorgehou kan word nie. In ‘n grondwetlike demokrasie is dit egter kwalik die punt, en handel dit eerder oor of ‘n regering die vyand van die grondwet is of nie. Dit open ‘n heel ander speelveld, en kan harde vrae gevra word oor sake soos die beskerming en uitbou van amptelike tale, die passie waarmee korrupsie uitgeroei word, die verbintenis tot skoon en doeltreffende regering soos gemeet aan die hand van ouditeur-generaal-verslae, verbintenis tot persvryheid, verbintenis tot die volkereg soos vereis deur die grondwet, en vele meer.

‘n Regerende party regeer in ‘n demokrasie immers in algemene belang, nie net in belang van sy eie ondersteuners nie. Hier staan die amptelike beleid van kaderontplooiing vierkantig in die pad van demokratiese beginsel en olie die ratte van wanadministrasie.

Teen dié agtergrond behoort dit nie as ‘n groot verrassing te kom dat ‘n persepsie posvat dat die ANC ‘n landsvyand is nie, en so vinnig as moontlik in ‘n verkiesing verslaan moet word. Of die oplossing is om die opposisiestem te konsolideer is ‘n ander vraag. Die DA is immers ‘n uitgesproke liberaal-demokratiese party, vir wie sulke praatjies vreemd behoort te wees. Om die Amerikaanse de facto tweepartystelsel as voorbeeld voor te hou is ook nie korrek nie, weens onder meer die keusevryhede en bykanse afwesigheid van koukus-gebonde standpuntinname, asook weens die rol van belangeinstansies, soos die sogenaamde lobby’s. Op die oomblik maak die belangegroep, die Tea Party, opslae soos dit die Republikeinse Party begin rig. Die Demokrate se teenvoeter, die Coffee Party is veel minder suksesvol.

Zille se houding beteken in effek dat Christenvolkseie, Christen-demkorate, Groenes en vele meer ontkieser word omdat van hulle verwag word om vir ‘n beleid te stem waarmee hulle nie saamstem nie. Beide Ikosa en Cope se beleide staan imemrs nader aan die ANC as aan die DA s’n. Boonop bestaan die gevaar, en het dit al tot die nadeel van die DA so ontplooi, dat so ‘n politieke polarisering met ‘n polarisering van rasse verwar word, en word swart stemme weer binne die ANC gekonsolideer.

Dit herinner aan die ondemokratiese oproepe van: “Moenie jul stemme op klein partytjies vermors nie.” Toe die destydse NP-leier Marthinus van Schalkwyk dit die eerste keer gebruik het, was die DP-leier Tony Leon woedend. Nie lank daarna nie het dit deel van die DA se politieke arsenaal geword. Volgens dr. Roelf Meyer, is juis op die proporsionele kiesstelsel besluit om selfs die kleinste belangegroep verteenwoordiging in die parlement, provinsiale wetgewers en munisipaliteite te verseker, en dus op hierdie liberaal-demokratiese opsie besluit.

As die DA meer stemme buite sy ideologiese basis wil trek, is daar veel wat dit kan doen wat nie ‘n bedreiging vir demokrasie inhou nie. Dit kan byvoorbeeld op nasionale vlak, waar dit baie Afrikaanse stemme trek, die moeite doen om ook Afrikaans in mediaverklarings te gebruik. Veel kleiner partye, met veel minder hulpbronne, doen dit immers.