Splendid isolation – Bate of las?
Gaan Suid-Afrika se Veiligheidsraadtermyn weer in ‘n fiakso ontaard?
In die 19de eeu het Brittanje formeel ‘n beleid van Splendid isolation gevolg. Ongeveer dieselfde tyd het die VSA die Monroe leer as beleid aanvaar.
Splendid isolation het beteken Brittanje sou nie in die sake van ander Europese lande inmeng nie, tensy die lande in sy slaai kom krap. Hy kon ‘n bykans volledige merkantilistiese benadering tot sy eie ekonomie volg omdat die land, saam met sy kolonies, min of meer selfversorgend was.
Die Monroe leer was in hoofsaak daarop gemik om te voorkom dat veral Europese moondhede die plek van die Spaanse koloniale mag sou inneem, namate die Spanjaarde hul kolonies in Latyns-Amerika moes prysgee. Tog was daar ‘n element van gemeenskaplikheid – die VSA het ook onderneem om nie in die interne sake van Europese lande in te meng nie.
Splendid isolation het onder druk gekom namate kolonies onafhanklike geword of dominiumstatus verwerf het. Voorts het Brittanje deel van die Europese Unie geword, maar darem ‘n stukkie simboliek van die verlede probeer behou deur aan die Britse pond vas te klou, en nie die Euro as geldeenheid in te voer nie.
Die Monroe-leer het op sy beurt plek gemaak vir die konsep van hemisphere defense. Ook dit kon nie heeltemal bly staan nie, aangesien die VSA teen wil en dank by die Tweede Wêreldoorlog ingetrek is, en sedertdien ook die skyf van internasionale terreur geword het.
Maar lank voor Osama sy ding gedoen het, was die VSA reeds opgesaal met sy rol as internasionale polisieman. Inmenging, soos die inval van die Bay of Pigs, het nie net tot die Amerikas beperk gebly nie. Die VSA was in Korea en in Viëtnam betrokke nog voor Osama se aanval op die Twin Towers die aanslag teen die Taliban, en later, Saddam Hoessein, ingelui het.
Brittanje is effens minder ‘n internasionale polisieman, maar ten tye van die besluitneming oor ‘n amptelike taal vir die Europese Parlement, het die gogga van taalimperialisme, heel moontlik anders bedoel, ‘n ligte opskudding tot gevolg gehad.
In Europa het die persepsie posgevat dat Brittanje doodgewoon aanvaar dat Engels die amptelike taal sou word. ‘n Verontwaardige “Non!” van die Franse was te wagte, maar van ander Europese state het ook meer weerstand gekom as wat verwag is. Die Duitse “Nein!” was nie heeltemal onverwags nie, maar die stroop van Engels van webwerwe is miskien nie voorsien nie. Voor die kwessie op die tafel beland het kon ‘n navorser wat nie Duits magtig is nie, ongeveer alles wat op die Christen-Demokratiese Unie se webwerf in Duits beskikbaar was, ook in Engels opkyk deur die Engelse opsie te kies. Kort hierna was daar effektief niks Engels beskikbaar nie, en ‘n hele ruk hierna kon iemand darem ‘n paar stukkies in Engels te lese kry. Ongeveer dieselfde het in Nederland en Swede gebeur, waar algemeen aanvaar is dat ‘n baie pro-Engelse sentiment bestaan.
Op universiteit word ‘n mens geleer dat die taal Fries nader aan Engels as aan Nederlands is. Het ‘n mens tekste in “Fries” op die internet gelees, was dit egter baie makliker uit Nederlands as uit ‘n kennis van Engels leesbaar. Skielik, egter, is die oorspronklike Friesiese dialekte afgestof, en kan ‘n mens dit eintlik net lees as ‘n mens ‘n leeskennis van tale soos Sweeds of Deens het. Onlangs is Friesies ook as ‘n amptelike tal in Nederland erken, en het verskeie artikels verskyn oor Nederlanders se nuutgevonde taaltrots. Daar het selfs ‘n eerste Bybelvertaling in Brabants verskyn.
Nie alles kan natuurlik herlei word na die persepsie dat die Engelse hul taal as meerderwaardig beskou het nie. In Nederland was daar ongeveer dieselfde tyd selfs betogings deur immigrante wat geëis het dat hulle die reg moet hê om Engels, in plaas van Nederlands, aan te leer, en dat hul kinders in Engels moet kan skoolgaan. Toe kook die Geuse bloed, want dit is nou al ‘n geruime tyd duidelik dat immigrante, veral sommige immigrante, nie meer so lekker afgaan nie.
Wanneer gaan trots op die eie oor tot ’n ingesteldheid van “splendid isolation?”
Tydens Suid-Afrika se isolasiejare is by tye hard verkondig dat Suid-Afrika sy rug kan styf maak. Omdat Suid-Afrika nie selfversorgend met sy vloeibare brandstofbehoeftes is nie, moes die gordel plek-plek ingetrek word. In ander opsigte het dit egter gelyk na “splendid isolation.” Suid-Afrika het sy eie kernwapens gebou, die land het hartoorplantings gedoen, die Scheaffel-stelsel ontwikkel, en vele meer. Die rand was laat in die 70-gerjare so sterk dat dit gelyk het of een rand kort voor lank twee dollars sou koop – ligjare verwyder van die rand se posisie nou.
Tog, met die aanbreek van die onderhandelings met die ANC is ‘n baie ander prentjie geskets – Suid-Afrika is op sy knieë gedwing – splendid isolation en sy eie Monroeleer om sy belange tot by die ewenaar militêr te beskerm, het volgens die nuwe stemme tot stof verdof – in der mate dat die Kemptonparkse onderhandelings meer die karakter van oorgawe gedra het.
Ander lande in die moderne geskiedenis wat deur “splendid isolation” vir die wêreld wou tong uitsteek, is Zimbabwe en die Uganda van Idi Amin. Uiteraard was dit meer simbolies van aard omdat sanksiebrekers soos Libië – self na die Lockerbie-ramp tegnies in isolasie – gesorg het dat hierdie lande nie so geïsoleerd was soos wat voorgehou is nie.
Voorheen was daar ook ander lande wat tot hul nadeel “splendid isolation” probeer toepas het. China het deur die loop van sy geskiedenis trouens meer as een keer in isolasie teruggetrek, of probeer terugtrek. Vandag word die Chinese se glorietydperke van wydverspreide seereise moeisaam gerekonstrueer omdat van die keisers so paranoïes oor die wêreld daarbuite geraak het dat dokumente en ander bewyse daarvan vernietig is. Onder die kaarte wat die vernietiging vrygespring het, is een van die suidpunt van Afrika, wat daarop dui dat die Chinese reeds voor Diaz om die Kaap gevaar het – van die ander kant af. ‘n Afdruk van die kaart is enkele jare gelede aan die Suid-Afrikaanse parlement oorhandig.
Vandag wil dit voorkom asof die Chinese seevaarders eens Australië, en selfs die Amerikas besoek het. Voor die sogenaamde opiumoorlog is vir oulaas probeer om westerse imperialisme deur isolasie te bekamp.
In die stadium toe Japan sy grense vir Westerlinge gesluit het (behalwe vir ‘n klein Nederlandse handelspos) was Japan en Europa se beskawingspeile min of meer gelyk. Toe Perry met sy indrukwekkende oorlogskip vasmeer en die opheffing van die isolasie eis, was Japan steeds Middeleeus. Nie lank hierna nie, het die Japannese genoeg selfvertroue in hul eie inhaalwerk gehad, dat ‘n aanval op die Amerikaanse vloot in Pearl Harbour geloods is. So, ironies, is die VSA uit sy selfopgelegde isolasie geruk, en by die oorlog betrek.
Hierna het terme soos die ystergordyn en bamboesgordyn ontstaan. Ook hier moes “splendid isolation” plek maak vir oper bedeling.
Wat Suid-Afrika betref, het die konsep van laertrek ontwikkel, dikwels neerhalend bedoel. Tog, moontlik word laer getrek teen die regstreekse omgewing wat soveel kenmerke van onsimpatiekheid en vreemde standaarde openbaar dat die ANC-lakei, dr. Jakes Gerwel onlangs walgegooi het en verweer het dat die ANC nie as landsvyand beskou kan word nie. Maar vanuit dieselfde “laer” word moeite gedoen om bande te smee met Dietse kultuurgenote.
Pas het Suid-Afrika weer ‘n tydelike setel in die VN se Veiligheidraad verwerf. Die vorige rondte het die narrestreke en vreemde beslissings van die ambassadeur Suid-Afrika ideologies ook in isolasie probeer dompel – en in daardie isolasie was daar geen “splendour” nie.